Die 20ste Suidoosterfees, van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad, spog met 20 opwindende produksies op die NATi Teaterfeesprogram. Daar is drama, komedie, klassieke werke, verskeie eenpersoonvertonings en splinternuwe produksies wat spesiaal vir die fees geskep is.

Brümilda van Rensburg is te sien in Reza de Wet se Mirakel, met Marthinus Basson as regisseur (Foto: Verskaf)
Mirakel, Reza de Wet se bittersoet komedie, is terug op die planke onder regie van Marthinus Basson. Dawid Minnaar, Brümilda van Rensburg, Edwin van der Walt, Carla Smith, Eben Genis en Rolanda Marais speel in dié klassieke stuk wat tydens die Groot Depressie in 1938 afspeel.

Lee-Ann van Rooi gaan feesgangers meevoer in The Woman Who Fed the Dogs (Foto: Roelse Portraits)
Van Suid-Afrika se talentvolste akteurs is by die fees te sien in eenpersoonvertonings. Lee-Ann van Rooi is in The Woman Who Fed the Dogs, ’n verhoogverwerking van die Belgiese skrywer, Kristien Hemmerechts, se trefferboek. Dié stuk word moontlik gemaak deur die samewerking van die Suidoosterfees en NATi met die regering van Vlaandere. Dit handel oor Michelle Martin, vrou en medepligtige van die Belgiese kinderverkragter en -moordenaar Marc Dutroux. Martin is eens deur die media bestempel as die “mees gehate vrou in België”.
Veronique Jephtas maak haar verskyning in die gewilde My kroon se krank, waarvan Tinarie van Wyk Loots die regie behartig. Geon Nel speel in Hoerkind, gebaseer op Herman Lategan se memoirs wat in 2022 op topverkoperlyste geboer het. Jeremeo le Cordeur maak sy buiging in Dude! Wa’s my phone? – ’n prettige stuk oor ’n jong entrepreneur se soektog na sy gesteelde selfoon.

De Klerk Oelofse in ’n Akkerboom (Foto: Jeremeo le Cordeur)
De Klerk Oelofse het reeds groot lof ontvang vir sy optrede in ’n Akkerboom. In dié buitengewone produksie speel Oelofse by elke vertoning saam met ’n akteur of aktrise wat geen insae vooraf in die verhoogteks gehad het nie. Dit word beskryf as “’n absurde toneelstuk oor vertolking, verlies en die krag wat in woorde of suggestie opgesluit lê”.
Magda Louw met Desiré Gardner is gegrond op die gewilde kykNET-komedie, en dié aanbieding beloof om feesgangers te laat skater. Ook Agteraf, met Jurgen McEwan, Waldemar Schultz en Francois Toerien, gaan die lagspiere kielie. Dié komedie speel agter die skerms van ’n kindertoneelstuk af waar drie akteurs spook met die produksie self én hul eie eksistensiële krisisse. Om sake te vererger, spartel die akteurs met hul woorde, rekwisiete en oorywerige gehoorlede.
Dramastudente van die Universiteit Stelenbosch bring Afval na die feesverhoog. In dié klug word die Van der Merwe-gesin uitgebeeld. Hulle lyk soos doodnormale middeljariges, maar daar is ’n kinkel in die kabel … Johan van der Merwe is ’n reeksmoordenaar. Wanneer Johan en Elsa se dogter met haar nuwe kêrel onverwags een Sondagmiddag by die huis opdaag, dans die poppe behoorlik.

Die geselskap van die Bul: René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa (Foto: Nardus Engelbrecht)
In Bul, ’n donkerkomedie met René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa, word die dun lyn tussen kantoorpolitiek, paranoia oor werkloosheid en die mens se oorlewingsinstink onder die loep geplaas.
Een van die programhoogtepunte vanjaar is Met woorde soos kerse, waarin Antjie Krog haar vertalings van gedigte uit verskeie inheemse tale in Afrikaans saam met akteurs voorlees. Antjie lees in Afrikaans, en die akteurs in tale soos Kwedam, isiZulu, Sesotho en isiXhosa.
Die gewilde Stemme is vanjaar weer terug. Dié projek van LitNet waartoe die Suidoosterfees, NATi en die ATKV as vennote toegetree het, is die afgelope twee jaar as ’n reeks kort, kragtige monoloë aangebied en verfilm. Vanjaar word dit as dialoë in die oop tye tussen feesvertonings aangebied. Twintig akteurs, tien regisseurs en tien dramaturge het aan die nuwe reeks meegewerk. Teksskrywers sluit in: Valda Jansen, Bettina Wyngaard, Deon Opperman, Rachelle Greeff, Nathan Trantaal, Marita van der Vyver en Pieter-Dirk Uys. Van die regisseurs betrokke is Sandra Temmingh, Basil Appollis, Quanita Adams, Wessel Pretorius, Kanya Viljoen, Andre Samuels en Francois Toerien. Akteurs om voor uit te kyk, is Jill Levenberg, Bianca Flanders, Armand Aucamp, Susanne Beyers, Desiré Gardner, Zenobia Kloppers, Veronique Jephtas, Jurgen McEwan, Elzabé Zietsman en Dean Balie.
Vir die volledige feesprogram, besoek www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies is by Computicket, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695. Kyk mooi op die program watter produksies gratis is, maar waarvoor jy per e-pos moet bespreek! Dit sal die Jakes Gerwel-gesprekke, dansproduksies en werkswinkels insluit.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Media24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

