
Stephren Saayman (foto: verskaf)
Stephren Saayman, een van die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre, het pas ’n kykNET Fiësta ontvang as beste opkomende kunstenaar vir sy spel in die verhoogdrama Mannetjie. Die drama het verlede jaar by die fees gedebuteer.
By vanjaar se Suidoosterfees, wat van 27 April tot 1 Mei 2022 by Kunstekaap in die Moederstad aangebied word, is Stephren betrokke by twee verhoogstukke. Dankie, maar nee dankie, waarvan hy die skrywer en regisseur is, word op 30 April om 19:00 en 1 Mei om 10:00 opgevoer. Die drama handel oor drie gesinne van ’n verlate dorpie wat deelneem aan ’n kompetisie wat die “perfekte coloureds vir die perfekte Suid-Afrika” probeer aanwys. Charlene le Roux, Liandé Valentyn, Chad Abrahams, Meggan Johnstone, Marunzo Thomas en Enrico Hartzenberg speel in dié drama wat die spot dryf met identiteit in die “nuwe Suid-Afrika”.
Stephren is as mederegisseur betrokke by Miss Morris op die fees se NATi Jeugteater-program. Brutney Singrew, Marveen Charles, Michaela Whaites, Regen Joël en Leonique Jacobs is op die verhoog in dié stuk wat gaan oor ’n jong Engels-onderwyser wat begin skoolhou in die brandarm Langkloof-omgewing. Juffrou Morris moet verskeie uitdagings oorkom om haar voete te vind en deur die klein gemeenskappie aanvaar te word. Miss Morris is op 29 April om 20:00 op die Suidoosterfeesverhoog.
Die Suidoosterfees spog met drie van die vier benoemings in die kategorie waarin Stephren met die louere weggestap het. Jodi Jantjies het ’n benoeming ontvang vir haar optrede in Die liedjiemakers wat verlede jaar by die fees se inryteater opgevoer is, en René Cloete is benoem vir haar spel in The Infinite Woman, wat by verlede jaar se fees gedebuteer het.
By vanjaar se Suidoosterfees is René te sien in Agulhasvlakte, Herschelle Benjamin se nuwe drama oor ’n vrou se stryd teen skade wat aan die natuur aangerig word. Kay Smith en Wilhelm van der Walt speel saam met René in dié drama wat op 29 April om 19:00 en 30 April om 14:30 op die planke is.
Philip Rademeyer se drama Opdrifsel, ook vanjaar by die fees met Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots in die rolverdeling, is by die Fiëstas as beste feesproduksie benoem. Dié aangrypende verhaal van ’n ouerpaar wat hul tienerseun aan die dood afstaan, is op 30 April om 11:30 en 1 Mei om 11:00 by die fees te sien.
Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse, wat in 2021 Sinjatuurtoekennings by die Fiëstas ontvang het, speel by vanjaar se fees in die opwindende Mutton Hour. Dié produksie sal mense ná twee jaar van pandemie-grendeltye weer van voor af lief maak vir die teater.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.suidoosterfees.co.za en kaartjies kan deur Computicket bespreek word. Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-pandemieveiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te verkry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

