Persverklaring: Suidoosterfees-kunstenaars in spesiale musiekvideo vir inspirerende vroue

  • 1

Foto verskaf deur die Suidoosterfees

Kunstenaars wat vroeër vanjaar optredes in Suidoosterfees-produksies moes kanselleer as gevolg van die Covid-19-pandemie, het talente saamgesnoer in ’n spesiale musiekvideo wat Suid-Afrikaanse vroue vir hul inspirerende diens aan die gemeenskap eer. Akteurs en sangers het saam met die bekende digter Diana Ferrus aan die projek, vervaardig deur die Suidoosterfees en die Cape Town Music Academy (CTMA), deelgeneem.

Cintaine Schutte, Buhle Ngaba, Nicole Holm, Babalwa Meintjies, Luna Paige, Lynelle Kenned en Jawaahier Petersen verskyn saam met twee inspirerende vroue, Naazneen Karriem en Karienya Kasvalu, in die video. Karriem bedryf al vir ’n dekade lank ’n sopkombuis in Chapelstraat, Kaapstad. Sy kook elke dag vir behoeftiges uit haar wendyhuis op ’n lappie grond tussen twee nagskuilings. Karienya Kasvalu is ’n voetsoldaat in die stryd teen die pandemie in ’n Kaapse hospitaal se noodeenheid. Huisgenoot het in hul uitgawe van 2 Julie berig oor hierdie formidabele dokter wat daagliks die Covid19-pandemie in die oe kyk.

In die video word Lucas Maree se lied “Die weduwee se kruik” gekombineer met ’n ode wat Diana Ferrus aan essensiële werkers wat tydens die pandemie hoop en genesing in gemeenskappe bring, geskryf het.

“Suid-Afrika het ’n lang geskiedenis van sterk vroue,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hof van die Suidoosterfees. “Vrouemaand en -dag is in 1994 amptelik uitgeroep om die protesoptog in 1956 deur 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria te herdenk. Dié optog was gemik teen die drakoniese paswette van die apartheidsregering. Vandag veg vroue regoor die wêreldwyd steeds vir die reg op gelykwaardige behandeling. Finansieel moet vroue dikwels hul rande veel verder rek om in noodsaaklike behoeftes te voorsien. Spreekwoordelik is Suid-Afrikaanse vroue weduwees met kruike.”

Vicky Davis, programbestuurder by CTMA, was aan die stuur van die projek en het ook die regie van die video behartig. Davis voel dat die ongelooflike werk wat vrouens soos Karienya Kasvula en Naazneen Karriem elke dag doen, nie ongesiens moet verbygaan nie. Davis sê: “Hierdie video is ’n viering van vrouens se onmiskenbare essensiële bydrae tot die gemeenskap. Die projek is ook ’n viering van ’n ander belangrike komponent van ons samelewing - die kunste.  Dit is ’n vroulike kragtoer van kreatiwiteit en ’n voorbeeld van die positiewe wat kan verrys uit die “vroue wat vroue ondersteun” tema wat hierdie jaar Vrouemaand oorheers het, en dít is die boodskap wat ons graag met die video,  die Lente en die res van 2020 wil instuur.

Schalk Joubert het die musiek vervaardig en verwerk. Die video en klankopnames is deur Sunset Recording Studios hanteer.

Lucas Maree se lied “Die weduwee se kruik” gekombineer met ’n ode geskryf deur Diana Ferrus. 

Met Cintaine Schutte, Lynelle Kenned, Luna Paige, Jawaahier Petersen, Nicole Holm, Babalwa Meintjies en Buhle Ngaba.

Opgedra aan: Naazneen Karriem van Naazneen’s Soup Kitchen en Karienya Kasvalu, Algemene Praktisyn en dokter by Ongevalle, Melomed Bellville. 

Kyk die video hier:

Vir donasies aan Naazneen’s "Kitchen for the People" kontak Naazneen by: [email protected]  

Meer inligting: https://www.patreon.com/naazneenssoupkitchen

“’n Vrou is vreugde, die wereld sal baat vind in haar vrede. Vereer die vrou!” – Diana Ferrus

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Soli Philander

    Dis 'n jammerte dat iemand soos Nazneen hier aangewys word as 'n sterk vrou terwyl daar vraagtekens oor hoe lank sy al haar gemeenskap dien, en wel nie haar hele gemeenskap nie, en ook die wyse waarop sy hulp bekom en gee. Daar is aanvaarding onder my gemeenskap - wat sy sodanig al jare voed - dat Nazneen se sopkombuis nie hul welwees omhels nie, maar wel 'n groot mate van uitbuiting van hul situasie. Daar is niks positiewe omgang en die mees agtergeblewe deel van die gemeenskap nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top