
Stiaan Reynierse se nuwe album, Anderkant die reën, word op 11 Oktober vrygestel.
Dis asof die heelal ’n ou bewaarde geheim verklap wanneer die sanger, Stiaan Reynierse en die groot liefde van sy lewe, sy kitaar, saam op die verhoog verskyn. Dit is daardie soort talent wat die publiek in hul spore laat stop en gehore oorbluf uit hul stoele lig! Vanaf die openingsnote, dwarsdeur die vertolking van sy intense storielyne tot by die sluitklanke van sy liedjies, resoneer sy unieke rasperstem deur murg en siel lank nadat die gordyne gesak het.
Stiaan Reynierse het die kollig en verhoog al met verskeie musiekreuse in die bedryf gedeel en dié rocker die verhoogplanke al behoorlik laat brand met die kaggels in sy keel! Sy splinternuwe album Anderkant die reën word op 11 Oktober 2024 vrygestel.
Anderkant die reën is ’n unieke album wat deur die kake van die mensdom se skedels breek en reis na ’n dieper dimensie – dwarsdeur die vlak vleiswonde en permanente skade wat iewers tussen wieg en graf gebeur. Die sanger verken die rimpeleffek van noodlottige emosionele beserings; die realiteit van oorsaak en gevolg; die duur prys van goedkoop foute; die vernislae en oëverblindery waarmee die wêreld die mensdom flous; die stryd tussen waarheid en leuen en die kuns van krygerskap in die komplekse reis van die lewe.
Die diep trefkrag van die titelsnit “Anderkant die reën”, en Stiaan se aangrypende vertolking, dit die eerste snit op die album is.“Partykeer moet mens maar aanhou wag... wag tot die reën homself uitreën,” praat Stiaan vanuit ’n plek vêr agter sy eie oë oor dié besonderse liedjie. “Niemand van ons word die storms van die lewe gespaar nie...”
Die genres wissel tussen vuurwarm rock en ballades met sterk storielyne wat onderwerpe vervat waaroor die samelewing oorversigtig is om hardop oor te praat. Die album stroop die lae vernis wat die wêreld oor die “waarheid” verf. Van die liedjies is geskoei op sentiment en die voortgesette vrae van die lewe, met Stiaan se eiesoortige hoendervleis-vertolking daarvan.
Na ’n geruime tyd uit die publieke oog, het Stiaan Reynierse, bekende musiekvervaardiger Theo Crous van Bellville Studios, die musikant Albert Frost en die digter/liriekskrywer Francis Grobler kragte saamgesnoer wat gelei het tot die geboorte van hierdie uitsonderlike album. “Hulle was die medepligtiges....” skerts ’n beskeie Stiaan tong-in-die-kies, maar met groot waardering vir die “span” waarvan Marius Nel die stuurman, anker en vlagdraer was.

Stiaan Reynierse (Foto: Quintin van der Merwe)
Stiaan en musiek is sinoniem. Daar is min instrumente wat hierdie veelsydige klankmaker nóg nie bemeester het nie. Sy kopgange is meerdimensioneel en veelvlakkig – sy denke, vry en sy tong uitgesproke.
Dis juis vanuit hierdie ongebonde plek waar digter, vrydenker en liriekskrywer, Francis Grobler se ink en woordkuns en Stiaan se gedagtes en musiek meesterlik vervleg en saamkom in buitengewone trefpunte. “Ek en Francis loop ’n lang-lang pad. Ek kies die temas van die liedjies en praat kortpad soos die kraai vlieg uit my hart en siel. Sy luister na my woorde, maar meer na die stiltes en goed tussen die lyne wat ek sukkel om te skryf of te praat. Ek dink ons maak mekáár moontlik...”
Stiaan was op die punt van “opgee” na vele ontberings en beserings in die loopgraaf van die lewe. Hy vertel: “Ek wou opgee ... glo my ... Maar geen trane of reën of water alleen kon die vuur van klank wat in my brand blus nie ... die waarheid móét uit.”

