Die Feesteforum en NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) volg die gebeure by die NAC (National Arts Council) met skok en verstomming. NATi en die Feesteforum – ’n liggaam wat uit die ses vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste (KKNK, Aardklop, Standard Bank Innibos Kunstefees, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en Toyota US Woordfees) bestaan – ondersteun in solidariteit met Suid-Afrikaanse kunstenaars die #Im4theArts #ArtistsLivesMatterCallToAction-beweging onder leiding van die operasangeres Sibongile Mngoma, wat reeds sedert 3 Maart vanjaar die NAC-kantore in Newtown, Johannesburg, saam met ’n verskeidenheid ander kunstenaars beset.
Mngoma en die kunstenaars eis antwoorde op dringende vrae oor befondsingsongerymdhede rondom die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP), wat veronderstel was om finansiële uitkoms aan die Covid-geteisterde kunstesektor te bied.
Dié broodnodige inisiatief het egter tot verdere chaos en onsekerheid aanleiding gegee nadat die NAC kontrakte herroep het, bedrae wat aan kunstenaars en projekte geallokeer is, gesny het en geweier het om navrae hieroor te beantwoord. Dit sitstaking het ’n kollig gewerp op die vernederende behandeling waaraan kunstenaars in die afgelope jaar onderwerp is. Hul vertoë en vreedsame protes is met minagting en ysere stilte deur die NAC en DSAC (departement van sport, kuns en kultuur) begroet.
Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het aanvanklik aangedui hy sou gisteraand se vergadering bywoon waar gepoog sou word om verskille by te lê, maar hy het nie sy verskyning gemaak nie. Tydens die vergadering is lang en omslagtige verduidelikings en flou verskonings aangebied in ’n neerhalende, beledigende toon. Nadat daar geen konstruktiewe planne op die tafel gelê is nie en daar steeds geen bevredigende antwoorde op Mngoma se vrae oor die fiasko met die uitbetaling van noodfinansiering verskaf is nie, gaan die vreedsame protes binne en voor die kantore van die NAC voort.
NATi en die Feesteforum doen ’n beroep op goeie, etiese leierskap deur die NAC en DSAC en steun die eise van die Im4theArts-beweging wat aandring op antwoorde en ingryping deur die presidensie.
Vir verdere inlgting of om deel te neem aan protesoptredes voor die NAC-kantoor, stuur e-pos na: Kylalliandavis@gmail.com
Die sitstaking kan op Facebook Creative Survivor SA gevolg word.
Skenkings om die kunstenaars gedurende die NAC-sitstaking te ondersteun kan gemaak word aan:
TymeBank
Rekeningnommer: 51021108026
Begunstigde: Bridget van Oerle
Stuur asseblief ’n bewys van betaling na: buz@buz.co.za
Kommentaar
Dit is verregaande en ‘n absolute skande dat kunstenaars, soos gewoonlik, weer die slegste daarvan afkom, ten gunste van die gieriges aan bewind. Ons eis regstelling.