Persverklaring: skryf nou Suidoosterfees 2022 se datums in jou dagboek

  • 0

Foto: https://suidoosterfees.com/

Die Kaapse Dokter bied altyd die beste medisyne, soos ’n volgepakte Suidoosterfeesprogram vanaf 27 April tot 1 Mei 2022 by Kunstekaap in Kaapstad. Vanjaar gaan feesgangers getref word deur ’n warrelwind van uitstekende teater, musiek, dans en boekgesprekke.

Volgens Brian Figaji, voorsitter van die feesdireksie, is alles in plek om ’n veilige en onvergeetlike ervaring aan feesgangers te bied. “Die afgelope twee jaar moes die Suidoosterfees aktiwiteite aanpas volgens die nasionale pandemie-veiligheidsregulasies. Ons hoop om vanjaar weer op ’n groter skaal fees te vier en nooi ieder en elk uit om dit saam met ons te kom doen.”

Die afgelope twee jaar kon die Suidoosterfees daarin slaag om ’n verskeideheid aktiwiteite en projekte suksesvol tydens die pandemie aan te bied. Op dié manier kon kunstenaars en deelnemers aan die fees se ontwikkelingsprojekte toegang tot ’n professionele platform vir hul produksies hê.

Die afgelope twee jaar kon kunstenaars en deelnemers aan die fees se ontwikkelingsprojekte toegang tot ’n professionele platform vir hul produksies hê.

Vir besoekers wat graag na Kaapstad wil wegbreek en gehalte-vermaak by die fees wil geniet, is daar weer spesiale afslagpakkette beskikbaar wat verblyf en kaartjies na vertonings insluit. Hou gerus ’n oog op die Suidoosterfees-webwerf en sosiale media vir meer inligting.

Organiseerders van die fees is terdeë bewus van die ekonomiese druk wat die Covid-19-pandemie meegebring het, en daarom is kaartjies vanjaar beskikbaar teen spesiale afslagtariewe, en daar is ook baie produksies wat gratis bygewoon kan word. Alles binne ’n veilige, vrolike feesomgewing.

Die volgepakte feesprogram is te danke aan ons borge en kunstenaars se strewe om kuns te aanhou skep, veral in uitdagende tye. In 2022 kan mense uitsien na ’n program propvol produksies uit die boonste rakke, wat wissel van operette, klassieke musiek, drama en jeugteater tot skrywersgesprekke. Kunstenaars wat gehore beslis aan hul voete gaan hê, sluit in: Nataniël, Brendon Daniels, Dean Smith, Charlton George, Frank Opperman, Lauren Dasappa en Marlo Minnaar.

Die feesprogram sal vanaf 1 Maart 2022 beskikbaar wees, en mense wat die program per e-pos wil ontvang en op hoogte van feesnuus wil bly, is welkom om ’n e-pos te stuur aan suidoosterfees@media24.com.

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Department van Sport, Kuns en Kultuur, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top