Persverklaring: Skouspel van musiek by Suidoosterfees

  • 0

Feesgangers wat vanjaar die Suidoosterfees as bestemming het, kan hulle van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap verlustig in ’n verskeidenheid musiekaanbiedinge. Skouspelagtige produksies deur Nataniël en Suidooster-sterre is op die program, en aanhangers van jazz en klassieke musiek word ook nie afgeskeep nie.

Nataniël se gewilde Moscow maak ’n Kaapse draai by die fees met asemrowende kostuums en onvoorspelbare kinkels. Bewonderaars sal ook van die kaalkop-ikoon se boeke, keramiek, kerse, gebak, geskenke en cds by die fees kan aanskaf. Moscow word beskryf as “90 minute van chaos en orde, drama en insig, verwondering en inspirasie”.

Die produksie Suidooster Stormsterk spog met die kykNET-sepie Suidooster se gewildste sterre wat hul formidabele sangtalent ten toon stel. Jawaahier Petersen, Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer en Simone Biscombe is op die verhoog saam met jong dansers van The Stage Performing Arts Studio.

Terry Fortune, ’n veteraan van Suid-Afrika se vermaakbedryf, bring kunstenaars wat nou in hul herfsjare is byeen op die feesverhoog. Gunstelinge soos Vernon Castle, Sylvia Mdunyelwa, Zelda Benjamin, Danny Butler en die Kaapse Walliese koor gaan feesgangers se nostalgie-snare tokkel in Golden Oldies on Stage. Die produksie is ’n spesiale geleentheid om dié veterane te bedank vir hul bydrae aan gemeenskappe oor die jare heen.

Jazz-aanhangers gaan vanjaar groot genot put uit “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book. Tete Mbambisa, Tony Cedras, Hilton Schilder, Ramon Alexander en Anathi Mobo tree op, en hulle word begelei deur van die bestes in die plaaslike musiektoneel: George Werner, Shaun Johannes, Kurt Bowers, Jannie Hanepoot, Byron Abrahams en Muneeb Hermans. Aanhangers kan hulle regmaak vir treffers uit inheemse jazz-genres soos kwela, ghoema, mbaqanga, sopvleis en tsaba-tsaba.

Op klassiekemusiek-front kan feesgangers uitsien na AGL Opera se uitvoering van die immergewilde Don Pasquale met Conroy Scott, Raimondo van Staden-Slabbert, Leah Gunter en Mziwamadoda Nodlayiya. Johannes van Staden-Slabbert hanteer die dirigentstok. Kaapstad se Filharmoniese Jeugorkes onder leiding van Brandon Phillips lewer in Kaapstad klassiek ’n uitvoering met geliefde soliste soos Ernestine Stuurman, Corneil Muller, Lynelle Kenned en Anna Davel. Drie top musiekstudente, met die hand uitgesoek deur die Nasionale Jeugmusiekstigting, sluit by die ervare sangers aan: Kagiso Ramosa, Kyrah Adams en Mike Wang.

In Klassieke divas word Janel Speelman, Lauren Dasappa en Janelle Visagie deur pianis Elna van der Merwe begelei. Niël Rademan het die program saamgestel met treffers uit operas, operettes en musiekblyspele. Die Johann Brink Trust maak Ode op akkoorde moontlik. Lucas Heinen se orkes komplementeer Louis Loock, Magdalene Minnaar, Jarrad Ricketts en Juju Domingo se stemme wanneer hulle musikale hoogtepunte uitvoer wat wissel van jazz, pop en ligte rock, tot kabaret en klassieke musiek.

Leatitia Solomons, Japie Solomons en Christy Ann Julies tree op in Die begrafnis, ’n skreeusnaakse musikale “besinning oor lewe en dood”. Timothy Swarts is die musiekregisseur en die produksie word op 27 April om 14:30 in die Zip Zap Dome aangebied.

Die volledige Suidoosterfeesprogram is op www.suidoosterfees.co.za beskikbaar. Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-veiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te kry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top