Persverklaring: Skemerdans nou op Showmax

  • 0

Al 13 episodes van Skemerdans, ’n Kaapse Vlakte neo-noir moordraaisel, is nou op Showmax beskikbaar om te kyk. Die “whodunnit” speel af by die Oasis jazz-klub, die middelpunt van ’n magstryd tussen twee broers, ’n woedende weduwee en ’n georganiseerde misdaad-sindikaat. 

Die reeks van halfuur-lange episodes in ’n organiese, hiper-plaaslike mengsel van Afrikaans en Engels is in Voortrekkerstraat verfilm, asook by Club Galaxy, Kaapstad se oudste klub, wat in 1978 in Rylands oopgemaak het. Galaxy doen dubbele diens as beide The Oasis en die Adams-broers se ontkleedans-klub, The Velvet Room. 

Skemerdans bou voort op die sukses van vorige Showmax Originals soos die SAFTA-bekroonde Tali’s Wedding Diary, die SAFTA-benoemde The Girl From St. Agnes, en vanjaar se reekse waaroor kritici vol lof was, DAM en Tali’s Baby Diary

Die eerste resensies van Showmax se jongste oorspronklike reeks is net so gloeiend. Africa is a Country sê: “Elke oomblik is belaai met spanning,” en: “Terwyl dit voel of jy ’n outydse noir-verhaal binnestap, voel jy tog die reeks se relevansie onmiddellik aan jou lyf aangesien ’n mens die ruimtes herken.  Hierdie noir-reeks maak die bekende ikonies. Dit is ’n mal interpretasie van die naglewe in die Kaapse Vlakte. Ons kan nie wag om te sien hoe die drama ontvou nie.”

9Lives is gaande daaroor: “Skemerdans is anders as enige Suid-Afrikaanse reeks of rolprent wat ek al gesien het. Dis hoogtyd dat die Suid-Afrikaanse vermaak-landskap bietjie opgeskud en wakker gemaak word deur die klanke, uitkyke en ervarings van die kykers wat vermaak moet word. Die pas is vinnig en die reeks verdien om met dieselfde entoesiasme as internasionale reekse gekyk te word. Ek glo dat dit die pas aangee vir die soort storie-vertelling waarna Suid-Afrikaners lankal smag.”

All4WomenSkemerdans wys “die Kaapse Vlakte soos ons dit nog nooit vantevore gesien het nie… en die storie waarvan die gelyke nie in Suid-Afrikaanse produksies te sien is nie …  ’n volbloed moord-raaisel in al sy donker en morsige besonderhede.” En Channel24 sê die eerste episode “het my vasgenael gehad … Terwyl alles bolangs goed lyk, borrel spanning onder die oppervlak, en alles bou op tot ’n asembenewende einde.”  

Op Twitter skryf IGN’s Crushing On potgooi-aanbieder Caryn Welby-Solomon, “Die skryfwerk is só goed, die rolverdeling is aan die brand, en ek het emosioneel geraak toe ek weer die binnekant van Club Galaxy sien”, terwyl TVMzansi twiet dat die reeks “aangrypend en herkenbaar is… die mees innemende kyk na die naglewe van die Kaapse Vlakte.”

Skemerdans se storie draai om die Fortune-familie, wie se oudste seun Glenn (SAFTA-wenner Kevin Smith van Isidingo en Arendsvlei) die Oasis saam met sy vrou Shireen (SAFTA-wenner Ilse Klink van Stroomop en Isidingo) besit. Ander lede van die Fortune-familie word gespeel deur SAFTA-wenner Brendon Daniels (Four Corners, Sara se Geheim, Arendsvlei); SAFTA-benoemde Vinette Ebrahim (7de Laan, Binnelanders); Carmen Maarman (Arendsvlei, Lui Maar Op, Belinda); opkomende ster Trudy van Rooy (Die Byl, Sara se Geheim); en Ceagan Arendse (Suidooster, Arendsvlei), wat in February 2021 tragies gesterf het. Die eerste episode is opgedra aan Arendse. 

“Skemerdans gaan oor die magstryd in ’n familie, wat iets is waarmee ons almal kan identifiseer,” sê Smith. “Dit ondersoek wat werklik gebeur wanneer ’n familie onder druk verkeer in ’n krisis.”

Fleur du Cap-wenners Sanda Shandu (The Kissing Booth 1 en 2) en Mbulelo Grootboom (Sara se Geheim, Projek Dina); Fleur du Cap-benoemde Ann Juries (Arendsvlei, Ander Mens); Danny Ross (Nommer 37, Arendsvlei, Suidooster); Kim Syster (Binnelanders, Suidooster); en legendariese Kaapse musikant Alistair Izobell is almal gereeld te sien as personeel van The Oasis. 

2019 Comics Choice-benoemde Carl Weber speel een van die Adams-broers, skurke wat die area rondom The Oasis uitkoop. Bongo Mbutuma (Die Spreeus, Erfsondes) speel sy venoot en boesem-vriend.

“Dit was die eerste maal dat ek, as ’n bruin aktrise, in ’n professionele konteks gewerk het as deel van ’n byna volledige rolverdeling van bruin spelers, en dit was absoluut fantasties,” sê van Rooy. “Jy het ons nog nie vantevore so uitgebeeld gesien op TV nie.”

Klink stem saam. “Deel van wat my aangetrek het tot Skemerdans was dat dit die storie vertel van ryk bruin mense. Hulle is nie versukkeld nie; hulle lewe nie op die broodlyn nie. Dis ’n belangrike storie om te vertel, waar bruin mense nie net as gangster en ander stereotipes gesien word nie.”

2019 Standard Bank Jong Kunstenaar Amy Jephta (regisseur van die bekroonde rolprent Barakat wat eersdaags uitgereik word, en skrywer van Die Ellen Pakkies Storie en Trackers) is uitvoerende vervaardiger en reekshoof, en die mede-regisseur is Ephraim Gordon (vervaardiger van Barakat en regisseur van Sara se Geheim en Suidooster). 

Nagvlug Films (Rage, Meisies wat fluit) is vervaardigers van die produksie en die span sluit SAFTA-wenners soos hoof van fotografie Chris Lotz (Jan, The Endless River, Rage) en kostuumontwerper Ayesha Khatieb (Die Boekklub, Fynskrif) in. 

“Galaxy is een van die erfenis-plekke, sover dit my aangaan, met betrekking tot Kaapse jazz,” sê Ebrahim, wat die Fortune-familie se matriarg speel. “Enigeen in my ouderdomsgroep het grootgeraak met die Galaxy. As die mure kon praat sou die Galaxy waarkynlik ’n klomp geheime verklap. Toe ons daar verfilm he, het dit vreemd gevoel om terug te wees. Selfs die reuk van die plek was dieselfde. Elkeen wat as gereelde besoeker daar was, sal die hoekies herken, en weet watter tafel is watter een.  So Skemerdans gaan baie herrinneringe terugbring.” 

Amy se broer, 2017 Standard Bank Jong Kunstenaar-wenner Benjamin Jephta, het die klankbaan geskep, wat ook klassieke Kaapse Jazz-nommers insluit wat mens terugneem na jou tyd op die Galaxy-dansvloer. 

Hierdie grensverskuiwende reeks het ’n ouderdomsbeperking van 16. “Toe ek een van die draaiboeke gelees het, was een van die eerste vrae wat ek gevra het: ‘Hoe laat gaan hierdie uitsaai?’” erken Daniels. “En toe hoor ek dis op Showmax, en alles het sin gemaak.”

Skemerdans in Kaapstad verfilm, maar uit ’n ander hoek. In hierdie reeks sien ons nie die berg of die see nie. So dis nie die gewone Kaapstad nie; dis wat gebeur wanneer die son sak,” sê Klink.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top