
Die derde Teksmark Joburg bied ’n platform waar sewe nuwe Suid-Afrikaanse stories aan belangstellendes in die teaterbedryf voorgelê word.
Teksmark Joburg vind plaas op Woensdag 21 Oktober 2026 by die Universiteit van Johannesburg (UJ) Kunssentrum se Keorapetse William Kgositsile-teater op die Auckland Park Kingsway-kampus.
Dié teks-ontwikkelingsprojek word aangebied deur die KKNK en NATi, met ondersteuning van UJ Kuns & Kultuur, die Baxter-teatersentrum en die Het Jan Marais Nationale Fonds.
Teksmark Joburg moedig die skep van nuwe Suid-Afrikaanse teatertekste aan en hier word skrywers en rolspelers in die teaterbedryf met mekaar verbind, vir moontlike investering en verdere ontwikkeling van teksidees.
Beide opkomende en gevestigde skrywers kon voorstelle indien vir oorweging deur ’n paneel, wat uiteindelik tekste uit die rekordgetal voorstelle gekies het om as leesteater by Teksmark Joburg aangebied te word. Verteenwoordigers van teaters, feeste, produksiehuise en ander moontlike beleggers word genooi na Teksmark Joburg om sodoende direk met skrywers en hul werk in gesprek te tree.
Pieter Jacobs, hoof van UJ Kuns & Kultuur, sê hulle is trots om die Johannesburg-been van die KKNK se Teksmark aan te bied. “Om ruimte te skep vir nuwe stemme, idees en oorspronklike Suid-Afrikaanse werk, staan sentraal tot ons verbintenis met innovering, samewerking en ’n betekenisvolle gemeenskapsimpak. Deur skrywers en teatermakers met gehore en vennote in die bedryf te verbind, word die kreatiewe bedryf versterk en dit help ook om belowende nuwe werk op die been te bring.”
Sessie 1 van Teksmark Joburg vind plaas van 09:00 tot 12:00 met Nico Taljaard se Die prosedure, Madinny Lebeko se Ticket Number 47, Obett Motaung se Death of a Postman en Loraine Wheeler se Escape from CBD wat as leesteater voorgelê word.
’n Spesiale fokus word hierdie jaar op kabaret, satire en komedie geplaas en met dit ten doel, bied veteraan-regisseur Marthinus Basson tydens sessie 2 van 12:30 tot 14:30 ’n fassinerende inleiding tot die kuns van kabaret aan. Nuwe kabaret-idees en sketse van Llandi Beeslaar, Karli Heine, Ilse-Lee van Niekerk en Vihann van Rooyen word as deel van dié sessie aangebied.
Teksmark Joburg sluit af met sessie 3 van 15:00 tot 16:30 met Imaan Latif se I’m too mad to tell you, Mosa Rabannye se Meisie Fleisie en Luan Jacobs se The 7 Ages of Sue. Na afloop van die laaste leesteater-uittreksel vind ’n spesiale netwerksessie vir rolspelers uit die kunstebedryf en deelnemers aan Teksmark Joburg by UJ Kuns & Kultuur plaas.
Skrywers kry by Teksmark Joburg ’n geleentheid om oor hul nuwe teksidee te gesels en daarna ’n kort uittreksel as leesteater aan te bied. Uittreksels word onder leiding van regisseurs waaronder Dion van Niekerk en Jane Mpholo aangebied, met verskeie skrywers wat hul eie regie behartig.
Op die verhoog vir die leesteater-uittreksels is Minke Marais, Ivan Malan, Mia-Anne O’Kennedy, Mia Snyman, Neels Claasen, Liezl de Kock, Elicia Shirinda, Erin Patience, Katleho Jack Moloi, Aalliyah Zama Mdluli Matintela, Soiso Ndaba, Obed de Koker, Zizipho Nyulu, Adriaan de Ridder, Walter Strydom, Lutho Dala en vele ander te sien.
Bywoning van die sessies is gratis en belangstellendes kan vooraf aanlyn registreer om enige van die sessies by te woon. Alle belangstellendes word genooi om deel te wees van die eerste saadjies wat gesaai word vir die ontwikkeling van nuwe Suid-Afrikaanse teaterproduksies.
Lede van die publiek word hartlik uitgenooi om die leesteater-uittreksels by Teksmark Joburg op Woensdag 21 Oktober by te woon. Bywoning is gratis en sitplekke kan hier aanlyn by Quicket bespreek word: quicket.co.za/events/400091-teksmark-joburg-2026/#/.
Die tweede Teksmark Oudtshoorn word op Vrydag 6 en Saterdag 7 November 2026 op Oudtshoorn in die Klein Karoo aangebied. Meer inligting oor die skrywers, spelers en bywoning van hierdie geleenthede word binnekort bekendgemaak.
Sedert die ontstaan van Teksmark is meer as 200 teks-idees deur meer as 180 skrywers vir verdere ontwikkeling voorgelê, waarvan meer as 50 tekste tot volskaalse produksies ontwikkel is. Hierdie produksies het ook reeds hope pryse ontvang.
Vir meer inligting en die volledige program vir Teksmark Joburg 2026 besoek kknk.co.za, of kontak die KKNK-kantoor via e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

