
Die sopraan Janelle Visagie, mezzosopraan Minette du Toit-Pearce, tenoor Given Nkosi en die bariton Conroy Scott gaan hulle uitsonderlike musikale talente saamsnoer wanneer Blaauwklippen op Sondag, 6 Maart, die Opera under the stars-konsert aanbied. ’n Kwartet, bestaande uit Suzanne Martens (viool), Petrus Coetzee (viola), Peter Martens (tjello) en die gevierde pianist, Elna van der Merwe sal die sangers begelei.
Hierdie skitterende viering van operamusiek op die gras voor Blaauwklippen se herehuis gaan ’n pragtige verskeidenheid musiek, van Bizet se Carmen en Delibes se Lakmé, tot Mozart, Lehár, Puccini en nog meer insluit. Die uitvoering van die gewilde kwartet “Bella figlia dell’amore” (“Beautiful daughter of love”), uit Verdi se opera Rigoletto, deur die volle ensemble van wêreldgehalte kunstenaars beloof om een van die vele hoogtepunte van die aand te wees.
“Hierdie konsert is ’n wonderlike geleentheid om uitstekende klassieke musiek in ’n gemaklike piekniekstyl te geniet saam met ander konsertgangers wat ook hulle stoele en komberse bring om saam buite te ontspan,” sê die sanger en ervare musiekkonsertorganiseerder, Niël Rademan, wat hierdie spesiale program saamgestel het.
Die hekke maak om 17:30 oop en die vertoning duur van 18:30 tot 20:00.
Blaauwklippen sal wyn, drankies en kos te koop aanbied. Dit sluit die volgende opsies in:
- ’n Bord met piekniekhappies vir een persoon en ’n glas wyn teen R150 om voor en gedurende die vertoning te geniet.
- ’n Driegang maaltyd by die Blaauwklippen Restaurant vir R250 na afloop van die konsert.
’n Volledige kroeg sal beskikbaar wees. (Konsertgangers mag nie hulle eie drank bring nie.)
Besprekings kan by plankton.mobi gemaak word.

