Persverklaring: Reinet Nagtegaal-teksprys 2027, die inskrywings is oop

  • 0

 Inskrywings vir die gesogte Reinet Nagtegaal-teksprys vir 2027 word ingewag. Dit is die grootste teksskryfkompetisie in die land met aantreklike pryse op die spel. Die prys word moontlik gemaak deur Law for All.

Die wenner ontvang R120 000, mentorskap en ondersteuning met die afronding van hulle teks, en ’n moontlike speelvak op die 2027 Toyota Stellenbosch Woordfees se Spier Toneel-program. Die tweede- en derdeplekwenners ontvang onderskeidelik R60 000 en R30 000.

“Die ontwikkeling van gehaltetekste vir die verhoog in Afrikaans is ons belangrikste doelwit met die kompetisie,” sê Dirk Nagtegaal, wat die kompetisie in 2002 saam met wyle Reinet Nagtegaal begin het. Die prys is tot 2010 toegeken.

“Daarom het ons in 2024 besluit om nuwe lewe in die inisiatief te blaas in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees. Daar kan nie genoeg waarde geheg word aan motivering vir dramaturge om aan te hou skep nie, en die uitkomste van die afgelope twee kompetisies spreek vanself,” sê Dirk.

“Die Toyota Stellenbosch Woordfees is ’n viering van die woord,” sê Saartjie Botha, direkteur van die fees. “Ons ontvang graag inskrywings wat literêre meriete met verhoogmatigheid kombineer. Ons moedig skrywers wat in ander genres skryf, aan om ook hul hand aan ’n verhoogteks te waag.”

Die eerste twee wenners is onderskeidelik Dianne Du Toit Albertze met Huis van sand wat by laasjaar se fees uitverkoop het, en mees onlangs Rachelle Greeff met Grootmeisie waarna gehore vanjaar kan uitsien.

Inskrywings sluit 15 Januarie 2027. Vind die inskrywingsvorm, reëls en riglyne op die fees se webwerf by woordfees.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top