Persverklaring: Reinet Nagtegaal-teksprys 2026 – meer tyd om in te skryf

  • 0

Daar is nou meer tyd om in te skryf vir die gesogte Reinet Nagtegaal-teksprys vir 2026. Dramaturge, gevestig en opkomend, het nou tot 15 Januarie 2026 kans om in te skryf vir die grootste teksskryfkompetisie in Suid-Afrika, aangebied in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees. 

Die wenner ontvang R120 000, mentorskap en ondersteuning met finale afronding van die teks, asook die moontlikheid van 'n speelvak by die 2026- of 2027 Toyota Stellenbosch Woordfees. Die twee naaswenners ontvang onderskeidelik R60 000 en R30 000.

Waarna soek die Reinet Nagtegaal-teksprys? 

Met die Reinet Nagtegaal-teksprys is die Toyota Stellenbosch Woordfees op soek na nuwe tekste van 60 tot 90 minute lank wat teater as medium vir sosiale impak en kohesie verken, en tradisionele beskouings uitdaag en verruim. 'n Sterk narratief, verhoogmatigheid, 'n eksperimentele benadering en literêre meriete is kriteria wat beoordelaars sal oorweeg. 

Met die Toyota Stellenbosch Woordfees-gehoor in gedagte, word 'n premie geplaas op tekste wat ten minste 50% Afrikaans is. Kreatiewe gebruik van meertaligheid word egter sterk aanbeveel. Rolverdelings van hoogstens sewe spelers is nie 'n vereiste nie, maar verhoog die opvoerbaarheid van jou stuk. Dui ook ten minste twee voorkeurregisseurs vir die verhoogstuk in jou inskrywing aan. 

Die wenstuk van die eerste Reinet Nagtegaal-teksprys in 2025, Huis van sand deur Dianne du Toit Albertze, was 'n wegholsukses by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees met uitverkoopte vertonings, volgepakte teatergesprekke en hoë lof van resensente. Lees Marina Griebenouw se indrukke vir die INK-feeskoerant hier

Hoe om in te skryf 
 Klik hier om die aanlyn aansoekvorm te voltooi, of vind dit op woordfees.co.za
 Laai die teks as deel van jou aansoek op.
 Lees hier meer oor die Reinet Nagtegaal-teksprys. 
*Bepalings en voorwaardes geld (soos uiteengesit in die aansoekvorm).

Hier is nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top