
Inskrywings vir die Proscenium-dramakompetisie 2026 sluit op 29 Januarie 2026, en aspirant jong kunstenaars word aangemoedig om dié unieke geleentheid aan te gryp.
Vorige wenners van die kompetisie kan getuig tot die waarde daarvan as ’n belangrike wegspringblok in die bedryf. Bekende name soos Angelo Bergh, Theodore Jantjies, Dean John Smith en Cantona James is almal alumni van Proscenium.
Proscenium is ’n inisiatief van die Tribuo Fonds, met die doel om volhoubare bemagtiging in die kunste te bevorder. Volgens Karen Meiring, uitvoerende voorsitter van Tribuo, is die fokus duidelik:
“Ons belê doelbewus in die toekoms en gesonde voortbestaan van die vermaaklikheidsbedryf. Daarom stel ons jong mense bloot aan die wêreld van die uitvoerende kunste en die breër ekosisteem waarin dit funksioneer – van teater en televisie tot radio en oorklanking.”
Hierdie veeltalige kompetisie bied deelnemers die geleentheid om individueel in te skryf en hul kreatiwiteit op nasionale vlak uit te leef. Hoërskoolleerders van graad 8 tot 12 kan inskryf – hetsy onafhanklik, deur hul skole, of via erkende drama-opleidingsinstansies.
Gillian Mitchell, direkteur van Tribuo, verduidelik:
“Proscenium help skoliere om ingeligte loopbaanbesluite te neem. Deelnemers ontmoet gevestigde professionele akteurs en mentors uit verskeie dissiplines, en vorm waardevolle verhoudings met eendersdenkende, diverse jong kunstenaars van regoor die land.”
Sy voeg by dat die finale rondes in Kaapstad nie net ’n hoogtepunt van die kompetisie is nie, maar ook ’n ruimte waar blywende vriendskappe en kreatiewe netwerke ontstaan.
Inskrywings het reeds in November 2025 geopen en geskied aanlyn by www.proscenium.pro. Die inskrywingsfooi beloop R220 per deelnemer. Die uitdunrondes begin einde Februarie 2026 in sentra regoor Suid-Afrika asook Namibië, met die finaal wat van 6 tot 9 Mei 2026 by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad plaasvind.
Wenners word op die aand van 9 Mei 2026 tydens ’n prysuitdeling aangekondig. Sertifikate, medaljes, kontantpryse, sowel as opwindende bedryfs- en studiegeleenthede – insluitend werksgeleenthede voor die kamera of agter die mikrofoon – is op die spel.
Cornelia Faasen, hoof van NATi en lid van die Tribuo-direksie, beklemtoon die unieke aard van die kompetisie:
“Proscenium fokus op die individu se talent en tegniese vermoëns, eerder as ensemble-werk soos by baie ander kompetisies. Dit is ’n besondere ervaring vir enige jong kunstenaar wat ernstig is oor ’n loopbaan in die uitvoerende kunste.”
Inskrywings: www.proscenium.pro
Navrae: info@proscenium.co.za

