Persverklaring: Program vir 13de Klein Karoo Klassique bekend

  • 0

 

Dis wintertyd op Oudtshoorn wat beteken Klein Karoo Klassique is om die draai. Dié fees van klassieke musiek word van Vrydag 5 tot Dinsdag 9 Augustus vir die 13de keer op Oudtshoorn aangebied, met die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting.

“Klassieke musiekliefhebbers kan weer uitsien na die geliefde klassieke musiekfees in haar tradisionele tydgleuf in Augustus. Ons moes lank wag om weer ‘n volwaardige Klein Karoo Klassique aan te bied en vir die Vrouedag-langnaweek kan feesgangers uitsien na ‘n keuse van die land se voorste klassieke musici en ook uitsonderlike opkomende talent.” Só sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees. 

Theart verduidelik dat feesgangers kan nie net uitsien na dertien uitstaande konserte nie, maar die fees sluit ook ’n visuele kunsprogram, boekgesprekke en -verkope, wynproe geleenthede en ander proe-ervarings in. Die Burgersentrum die kern van die fees vorm, met meeste van die aktiwiteite wat hier sal plaasvind.  Feesgangers kan natuurlik ook kies en keur uit uitstaande eetervarings en Karoo-gasvryheid by ’n verskeidenheid restaurante en eetplekke op die dorp; en daar is ook verskeie ander Klein Karoo-ervarings en besienswaardighede om tydens so ’n kuier in te pas.”     

Klassique begin op Vrydag 5 August om 19:00 met die Klassique Galakonsert, ’n uitvoering deur lede van die Kaapstad Opera met die uitsonderlike sopraan Janelle Visagie en die briljante pianis José Dias in die Burgersentrum. Saterdag 6 Augustus om 10:00 speel Handri Loots (fluit) en Mareli Stolp (klavier) musiek vir fluit en klavier, waaronder Poerpasledam, Arnold van Wyk se enigste komposisie vir hierdie twee instrumente. Na dié uitvoering tree hulle in gesprek met die gehoor. Om 14:30 speel die The Gqeberha Trio, David Bester (viool), Jan-Hendrik Harley (altviool) en Mariechen Meyer (kontrabas) musiek wat onder andere die ooreenkomste tussen snaarinstrumente en die menslike stem demonstreer van die Playford Suite tot Schubert se Erlkönig, gevolg deur ’n musiekgesprek. Om 19:00 keer tjellis Peter Martens en bekroonde Suid-Kaap-pianis Megan-Geoffrey Prins terug na Oudtshoorn vir ’n uitvoering op Tjello en Klavier met musiek van Schumann, Beethoven en Popper. Die musiekprogram sluit om 20:30 af met ’n Jazz-konsert, saamgestel deur Ramon Alexander. 

Sondag 7 Augustus se program begin om 10:00 met A Trio of Trios met Suzanne Martens op viool, Karin Gaertner op altviool en Peter Martens op tjello met trios van Beethoven, Dohnányi en Stephenson. Ses lede van die Kaapstad Filharmoniese Orkes en Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes is om 14:00 in A Celebration of Youth te sien met musiek van Mozart, Beethoven en Schumann. Baroque to the Future met die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes, sopraan Hlengiwe Mkhwananzi en Erik Dippenaar op klavesimbel sorg vir ’n spesiale galakonsert om 19:00. ’n Wye repertoire van barokmusiek word uitgevoer van onder andere Handel, Purcell, De Lalande en Rameau, gevolg deur ’n gesprek.   

Maandagoggend 8 Augustus om 10:00 deel tjellis Anmari van der Westhuizen en pianis Nicolene Gibbons die verhoog in Cello Splendour, gevolg deur ’n musiekgesprek. Twee Oudtshoorn-pianiste, John Theodore en Sulayman Human, wat in 2015 hulle debuut as klavierduo by Klassique gemaak het, keer terug na die verhoog met musiek van Bach, Strauss, Schubert en Rachmaninov, verwerk vir twee klaviere in Suite Treats Variety om 14:00, gevolg deur die fees se laaste musiekgesprek. Om 18:00 sluit lede van die Kaapstad Barokorkes, Ingo Müller (barokhobo) en Erik Dippenaar (klavesimbel & regisseur) op die verhoog aan by soprane Lynelle Kenned en Hlengiwe Mkhwanazi in Handel at Home vir ’n program van kamermusiek vir instrumente en stemme. Hierdie uitvoering word by De Opstal Country Lodge aangebied en sluit ’n ligte aandete in.  

Dinsdag 9 Augustus gaan die klawers vir oulaas behoorlik dans met orrelmusiek deur Dippenaar in The Splendours of the Baroque Organ om 09:30 by die NG Kerk Park, waarna die immergewilde Steinway-pianis Charl du Plessis Klassique om 12:00 afsluit met musiek van Chopin, Bach, Brahms, Beethoven en ander in Songs for my Mother

’n Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 uitvoerings is beskikbaar teen R1 300, of enkelkaartjies kan vir uitvoerings gekoop word. Vriende van die KKNK kwalifiseer vir 5% afslag. Kaartjis is beskikbaar by Webtickets (www.webtickets.co.za), Pick n Pay-winkels regoor die land of die KKNK-kantoor. 

Klein Karoo Klassique word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting en bydraes deur die ATKV en die Barrow Trust.

Vir meer inligting, besoek Klein Karoo Klassique se webblad by www.klassique.co.za of kontak 044 203 8600. Om ’n Vriend van die KKNK te word, besoek www.kknk.co.za. Besoek www.klassique.co.za vir die direkte skakel om te verseker jou verblyf vir die fees is vooruit bespreek en afgehandel deur LekkeSlaap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top