
Foto: verskaf
Die gevierde komponis-dirigent Franco Prinsloo en sy bekroonde kamerkoor, die Vox Chamber Choir, maak binnekort musiekgeskiedenis met die première van sy hemelvaartsoratorium, Kroon van wonders. Kroon van wonders is dan ook die finale werk in sy oratoriatrilogie wat oor Jesus se lewe handel.
“Dié reis het in 2018 begin met die skryf van Kruis van liefde wat oor Jesus se kruisiging en sterwe handel”, vertel Prinsloo. “Na ons die werk uiteindelik in 2021 tydens die pandemie voor ’n baie klein gehoor kon première en uiteindelik in 2022 se Paastyd voor ’n vol gehoor in die NG Kerk Universiteitsoord, het verskeie gehoor- en koorlede my versoek om nie met net een oratorium te volstaan nie, want Jesus se verhaal was nog nie klaar vertel nie.”
Dié versoeke het Prinsloo geïnspireer om die Kersoratorium, Lig van waarheid, te komponeer wat ook voor uitverkoopte sale by NG Universiteitsoord in Pretoria én in die ikoniese Groote Kerk in Kaapstad in Desember 2022 uitgevoer is.
Die trilogie word nou voltooi met Kroon van wonders, ’n aangrypende verkenning van die opstanding en hemelvaart van Jesus Christus. Hierdie indrukwekkende werk, met tekste deur Totius en wyle prof. Hans du Plessis, première op hemelvaart, die 29ste Mei, in die NG Kerk Universiteitsoord, met ’n opvolgkonsert op Sondag, 1 Junie 2025.
“Kroon van Wonders se premère is geskiedkundig om ’n paar redes”, verduidelik Tiaan Ras, een van die Vox-koorlede. “Dit is die eerste keer dat ’n trilogie oratoria in Afrikaans geskep is, wat dit van besondere belang vir Afrikaans se lewende erfenis maak. Verder val die première ook saam met Afrikaans se 100ste verjaarsdag as amptelike taal, en ons première is nie net op hemelvaart nie, maar val ook saam met die Afrikaans 100-feesvieringe in Pretoria. Deur ou berymings en tekste weer nuut aan te wend, skep Prinsloo ook ’n intertekstueel innoverende werk wat vir gehore beide nuut én bekend sal wees.”
Beide Kruis van liefde en Lig van waarheid het uitstekende resensies ontvang, en Vox Chamber Choir het twee SAMA-benoemings vir die opnames ontvang. Vir Kroon van waarheid kan gehore uitsien nie net koorsang nie, maar ook na orkesspel deur ’n 36-stuk-orkes en orrelbegeleiding deur die gerekende dr. Isabelle van Rensburg.
“Dis nie aldag dat Suid-Afrikaanse gehore ’n uitvoering van ’n nuwe komposisie van hierdie omvang kan bywoon nie. Ons het wonderlike borge en vennote soos Raoul Capital, die ATKV, Maroela Media en UNISA wat dit vir ons moontlik maak, maar ons het ook nodig dat alle musiekliefhebbers die konserte bywoon. Sonder die ondersteuning van die publiek is projekte soos dié eenvoudig nie moontlik nie!”, sluit Prinsloo af.
Konsertbesonderhede:
Première
- Datum: Donderdag, 29 Mei 2025
- Tyd: 18:30 vir 19:00
- Plek: Nederduitse Gereformeerde Kerk Universiteitsoord, hv Duxburyweg en Heroldstraat, Hatfield, Pretoria
- Kaartjies hier
Opvolgkonsert
- Datum: Sondag, 1 Junie 2025
- Tyd: 14:30 vir 15:00
- Plek: Nederduitse Gereformeerde Kerk Universiteitsoord, hv Duxburyweg en Heroldstraat, Hatfield, Pretoria
- Kaartjies hier

