
“Seebamboes was my wind- en simbaalklanke.” – Frazer Barry oor die opname van “Plakkaat oppe paal”. (Foto: verskaf)
Frazer Barry:
Hierdie liedjie is opgedra aan almal wat hulle stemme verloor het omdat politiekery hulle doodgemaak het.
As kunstenaar is dit ons plig om te verseker dat ons ons gawes gebruik om die wêreld om ons te laat reflekteer in ons kuns. Ons mag nie stilbly terwyl ons die ongeregtigheid en die dinge wat ons samelewing bedreig sien nie. Ons moet luister na hoe die mense voel en ons moet kan dokumenteer, reflekteer en dan uiteindelik ons stemme laat hoor. Dit was natuurlik vir my een van die grootste dryfvere agter hierdie liedjie van my.
Ek werk vir die afgelope meer as 10 jaar aan my album genaamd Mal oor jou Suid-Afrika, waarin ek my nagevorsde werk en my persoonlike ervaring uitstort in ’n versameling van sowat 14 liedjies. Ek is gelukkig om my musiek te kan toets op van die grootste verhoë in die land en ook internasionaal. Daar was heelwat versoeke vanaf gehore wat my gevra het om asb die musiek beskikbaar te maak, aangesien hulle dit slegs tydens my optredes kan ervaar. Daardie versoeke vanaf die gehore is een van die ander redes hoekom ek hierdie liedjie wat so gepas is net voor die verkiesing wou uitbring.
“Plakkaat oppe paal” verwoord dus nie net my frustrasie nie, maar basies die frustrasie van die deursnee Suid-Afrikaner, en ek kan seker met veiligheid sê die internasionale gemeenskappe wat ook gebuk gaan onder leë beloftes van bose politieke leiers.
Ek het op ’n stadium my mond in die publiek uitgespoel oor politiek en toe was daar pogings om my mond stil te maak. Toe besef ek dat politieke leiers wat nie die belange van die mense op hul hart dra nie, geneig is om die mense te probeer stilmaak. Ek het in my ervaring gaan nadink en toe kom die tema tot my: Julle is maar net plakkate oppe paal en dan is daar hope beloftes op daardie paal. Met ander woorde, die politieke partye verwoord hul stem en plak dit hoog op sodat almal hulle kan sien en hoor … Maar die ironie is dat wanneer jy daardie stemme van hulle “aanvat”, deur jou eie stem te laat geld, dan is dit skielik ’n probleem? Hierdie liedjie is opgedra aan almal wat hulle stemme verloor het omdat politiekery hulle doodgemaak het. Lank leef die mense en lank leef die kunstenaars wat nie bang is om op te staan met hul kuns nie.
As komponis en liedjieskrywer is ek baie gemaklik in basies enige genre, maar toe ek die lied begin komponeer, was dit die roots reggae-vorm wat vir my die beste vorm was wat die boodskap betref. Die instrumente is alles “live” en ek het gebruik gemaak van babamelkblikke (Nestlé-blikke), ’n rainstick en ’n rasper wat jy in die kombuis gebruik om kaas mee te rasper; seebamboes was my wind- en simbaalklanke; daar is ook akoestiese kitaar en elektriese kitaar; my vrou Deniel se drumming; en ek het natuurlik ook my geheime bestanddele – wat elke luisteraar mos maar self moet probeer uitpluis om uit te vind wat ek doen om die klank te kry!
Ek hoop die liedjie inspireer Suid-Afrikaners om nugter te dink oor die politieke bestel en hoe hulle hul stem kan gebruik om die politieke leiers verantwoordelik te hou!

