Persverklaring: Peter Martens is terug met Bach se Ses Tjello-suites op Montpellier-wynplaas in Tulbagh op Sondag 24 September

  • 0

Foto’s verskaf

Peter Martens, wat onder andere SAMA-, Fiesta- en Woordfees-toekennings gewen het, sal op 24 September terug wees op die pragtige Montpellier-wynplaas in Tulbagh om JS Bach se ses tjellosuites uit te voer. Elke suite word deur een van Montpellier de Tulbagh se uitsonderlike wyne ‘begelei’ om sodoende ’n unieke proe- en luisterervaring te skep waarby alle sintuie geprikkel word!

Martens is die enigste Suid-Afrikaanse tjellis wat Bach se ses tjellosuites opgeneem en uitgereik het. Die optrede op die 24ste sal die vierde keer sedert 2017 wees wat Martens die tjellosuites op Montpellier kom uitvoer. Die eerste suite begin om 12:00, begelei met ’n verfrissende, tintelende Cap Classique. Op elke uur daarna t/m 17:00 word telkens ’n ander suite, begelei met een van Montpellier se prysenswaardige wyne en heerlike canapés, verspreid op verskillende plekke uitgesprei op hierdie asemrowende mooi plaas gespeel. Die optrede eindig om 18:00.

Peter Martens

Die idee vir hierdie oorspronklike konsep het ontstaan na aanleiding van die musikoloog en ambassadeur vir Montpellier-wyne, Riette Eggink, se persoonlike ervarings by twee verskillende musiekfeeste in Europa. Die eerste was die Pablo Casals-musiekfees wat jaarliks in Prades, ’n klein bergdorpie in die Franse Pireneë gehou word. Dit is waar die ikoniese Spaans-Katalaanse tjellis vir nagenoeg 23 jaar in ballingskap gewoon het om die Franco-heerskappy in Spanje te ontvlug. Meeste van die uitvoerings tydens hierdie musiekfees word  in die plaaslike klooster net buite die dorp gehou, met die indrukwekkende Romeins-Katalaanse Abbaye de Saint-Michel de Cuxa wat omring is deur wingerde aan die voet van die Canigou-bergspits.

Die tweede geleentheid was die Cello Biënnale Amsterdam, in die Muziekgebouw aan’t IJ-konsertsaal, waar daar vir elke jaar tien dae ononderbroke alles rondom die tjello as instrument gevier word. ’n Gunsteling by hierdie besonderse musiekfees is Bach & Breakfast, wanneer daar elke oggend een van Bach se tjellosuites deur ’n ander bekende tjellis uitgevoer word.Geïnspireer deur hierdie twee unieke musiekfeeste in Europa was die eienaar van Montpellier de Tulbagh, Lucas van Tonder (self ’n passievolle musiekliefhebber), en ons eie befaamde Suid-Afrikaans/Belgiese tjellis, Peter Martens onmiddellik entoesiasties oor die idee om Bach se ses tjellosuites op hierdie pragtige wynplaas uit te voer. Die idilliese kappeletjie wat omring word deur berge en wingerde sal vanjaar ook een van die ses spesiale plekke wees waar een van die tjellosuites uitgevoer gaan word.

Alhoewel die plekke maklik toeganklik sal wees, en sommige selfs buite (indien die weer dit toelaat), word gemaklike skoene, warm klere en/of sonbrandmiddel en ’n hoed aanbeveel.

Die Montpellier-wynplaas in Tulbagh

Montpellier de Tulbagh is in 1714 gestig deur twee Fransmanne van die stad Montpellier in Frankryk. Montpellier is bekend vir die produsering van wyn met integriteit en karakter, verteenwoordigend van die Tulbagh-vallei se unieke terroir en klimaat. Die kombinasie van die sjarmante kerkie, die tradisionele Kaaps-Hollandse Manor House en die pragtige tuine met asemrowende uitsigte oor die omringende berge en wingerde, bied die perfekte agtergrond vir ’n onvergeetlike belewenis.

Kaartjies vir Bach Reloaded 2023 is R600 per persoon (wyn en canapés ingesluit)

Bespreking: 082 334 4334
info@montpellier.co.za

Verblyf, aandete (pizzas) en ontbyt is addisioneel beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top