Persverklaring: Oudtshoorniete op menigte platforms by KKNK25 te sien

  • 0

Oudtshoorn maak gereed om van eerskomende Donderdag (21 Maart) tot volgende Woensdag (27 Maart) ’n kwarteeu van die kunste in die Klein Karoo te vier. Dié groot KKNK-verjaarsdag is ook ’n viering van plaaslike talent wat by die fees hul talente ten toon stel.

“Dit is vir ons lekker om ’n platform vir soveel plaaslike kunstenaars te skep en te sien hoe hulle hul talente uitleef”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. Volgens Theart is ’n handvol Oudtshoorn-boorlinge in verskeie genres en kunsvorme te sien, waaronder drama, musiek, Uitkampteater en straatteater. “Moenie dié Oudtshoorniete by KKNK25 misloop nie”, sluit hy af.

’n Boorling van Oudtshoorn Marlo Minnaar deel die verhoog met Liezl de Kock in die debuutdrama Statements After an Arrest under the Immorality Act. Die teks is geskryf deur Athol Fugard. Dit is ’n meesleurende en roerende liefdesverhaal waarin twee naak minnaars nie net hul liggame ontbloot nie, maar ook hul diepste begeertes vir persoonlike en emosionele vryheid blootlê.

Eldene Jones is op die verhoog in die komedie, ’n Hond k*k ôk hare. Dié stuk is geskryf deur Denver Toroxa Breda, onder regie van Abduraghmaan Adams. Dit fokus op die politiek en pyn van hare in die bruin Khoe-gemeenskappe en wat dit vir mense beteken, die waarde wat aan lang, styl hare geheg word en hoe iets so banaal die menswaardigheid, veral dié van Khoe-vroue, bepaal.

Oudtshoorniete is in talle musiekproduksies en op verskeie musiekverhoë te sien. Matthys Maree is betrokke by Die Groot Huisgenoot-konsert (22 Maart om 20:00) saam met Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Leah en Demi-Lee. Maree is ook betrokke by Aandklanke (23 Maart om 20:00) saam met Karen Zoid, Jo Black, Refentse, Karlien van Jaarsveld, Anna Davel en Jan Bloukaas. Beide konserte vind op die Huisgenoot-verhoog in die Kuierbuurt plaas.

Maree deel ook die verhoog met Danie Niehaus, Matthys Roets en Kevin Leo vir Drie van die bestes – 21 jaar later (26 Maart om 14:00) en Kaalvoetkinners (23 Maart 18:30) saam met Juanita du Plessis, Franja du Plessis, Ruan Josh en orkes. Albei konserte vind in die Absa Burgersentrum plaas.  

Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor deel vanjaar die verhoog met Corlea Botha, Jannie Moolman, Lynelle Kenned, Craig Lucas, Heavenly Quartez en die Soweto String Quartet in Sing Saam! (24 Maart om 20:00). Rymklets van Danny B word in Mengelmoes (26 Maart om 20:00) gehoor en die Da Vinci Movement-dansers deel ook die verhoog met Early B, Robin Pieters, Elwira Standili en MC Noemwoord, met musiekregie deur Willo Maya. Die Aspris-dansers deel in die Kuier saam met kykNET-konsert (21 Maart om 20:00) die verhoog met Pieter Koen, Leah, Bianca le Grange, David Johnson, André Schwartz en Caroline Grace. Dié drie konserte word op die Huisgenoot-verhoog in die Kuierbuurt aangebied.

Steffie le Roux, wat op Oudtshoorn grootgeword het, sing in die debuutproduksie Tussen die kêffie en die kerk oor die Karoo, die son, die liefde en reën. Stories uit die kontrei en liedjies uit die hart word saamgeweef om ’n warm akoestiese atmosfeer te skep.

Verskeie Oudtshoorniete tree op die Castle Lager-verhoog in die Kuierbuurt op, waaronder House of Entertainment, Ol Star, Janine Fourie, Lucinda en Brian Nieuwoudt se Karoo Boere-orkes. As deel van die Straatteater-program kan feesgangers uitsien na Kaptein Julies en die Brigade van die Lutherse Kerk, asook die rieldanse van die Kallieklip Stoftrappers. 

Poem Mooney en ds. André Boezak vertel as deel van Uitkampteater Stories oor die Meermin. Die Meermin woon by die watergat by die Rooikranse suid van Oudtshoorn. Die Klein Karoo is bekend vir sy riviere, name soos Olifant, Kammanassie, die Traka, Dwyka en Gamka. Meeste is Khoi-name. Kultuurstories van Oudtshoorn en omliggende areas word gedeel. Uitkampteater word daagliks tussen 10:00 en 12:00, en weer tussen 15:00 en 19:00 voor die Absa Burgersentrum aangebied.  

Kobus Spies, genre-skilder van die Klein Karoo en ’n boorling van die omgewing lê dié landskap en sy mense op doek vas. Die oënskynlik moeitelose aanslag vra ’n diepgaande studie van sy werke waarin hy met kleur en vorms die een juweel na die ander skep. Sy uitstalling, Klein Karoo op doek, is daagliks in die Prince Vintcent-gebou, as deel van die Visuele Kunsprogram, te sien.

Absa, hoofborg van die KKNK, bied vanjaar hulle eerste Laat Kuns Wen-mentorskapprogram aan. Drie jong, visuele kunstenaars van Oudtshoorn, Zietske Saaiman, Earlyn Cloud en Colin Meyer is die eerste drie deelnemers aan dié projek, onder mentorskap van Madelein Miles. Saaiman, Cloud en Meyer neem ook deel aan ’n Kwêla-gesprek met Hannes van Wyk by die Absa Rooiplein in die Kuierbuurt.

Moenie Oudtshoorn se talentvolle kunstenaars by KKNK25 misloop nie!  

Die volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir produksies is by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600, of verblyf@kknk.co.za gedoen word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top