
Oudtshoorn-stories, soos in 2023 uitgebeeld in die KKNK se debuutdrama Droomkraan-kronieke, was die groot wenner tydens die 14de kykNET Fiëstas. Foto © Retha Ferguson
Oudtshoorn-stories, soos in 2023 uitgebeeld in die KKNK se debuutdrama Droomkraan-kronieke, was die groot wenner tydens die 14de kykNET Fiëstas.
Dié toekennings is op Donderdag 7 Maart tydens ’n glansgeleentheid by The Lookout in Kaapstad oorhandig.
Droomkraan-kronieke was in 2023 ’n debuutproduksie by die KKNK, geborg deur Absa, waarna dit ook ’n speelvak by die Toyota US Woordfees in Stellenbosch gehad het. Dié produksie is ’n produk van die KKNK se Karoo Kaarte-projek en is bekroon as beste feesproduksie, beste regie (Neil Coppen, Craig Leo en Carlo Daniels) én beste ensemble.
Oudtshoorniete se herinneringe aan hul kinderdae is in dié magiese toneelstuk met fisieke teater, sang, dans en skadupoppespel uitgebeeld. Karoo Kaarte se navorsingspan het ’n reeks Klein Karoo-kinderstories en herinnerings uit kinderdae gebruik, wat ook in die fisieke teaterstuk ingesluit is.
Karoo Kaarte is ’n grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry. Dié veelbekroonde gemeenskapsprojek se kern draai rondom Oudtshoorn-stories wat nie voorheen vertel of gedokumenteer is nie en skep ’n platform wat plaaslike talent na die voorgrond bring. Die Karoo Kaarte-span bied by vanjaar se KKNK ’n program met twee visuele kunsuitstallings, ’n grafiese roman, ’n muurskildery, staptoere met begeleiding van die Karoo Kaarte-app en ’n splinternuwe plekspesifieke teaterproduksie, Die Swartmerrie aan. Theo Witbooi en Chantell Phillipus, deel van die Droomkraan-kronieke-ensemble, is onder andere in dié plekspesifieke teaterstuk te sien.
Ander KKNK-produksies wat met kykNET Fiëstas bekroon is, sluit in Eben Genis (beste manlike byspeler in Mirakel), Lynthia Julius en Veronique Jephtas se My kroon se krank (beste nuutgeskrewe teks, verweking of vertaling), David Kramer se Vêr in die wêreld Kittie (beste musiekgedrewe produksie: Teater) en Kerscha Titus vir haar rol in Jantjies and the Pearls (beste opkomende kunstenaar).
Erik Dippenaar en Ralitza Macheva is verder ook bekroon vir beste prestasie in klassieke musiek vir Variations, wat in 2023 by Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn te sien was.
Feesgangers het ook ’n geleentheid om drie ander Fiësta-bekroonde produksies van ander feeste vanjaar tussen 23 en 31 Maart by die KKNK, geborg deur Absa, op Oudtshoorn te sien. Braam en die engel is bekroon as beste kinder- of opvoedkundige teater (’n Momentum Beleggings Aardklop-debuut), terwyl Frank Opperman die Fiësta ontvang het vir beste akteur vir ry rol in Reünie (debuut by Innnibos) en Antoinette Kellermann as beste vroulike byspeler vir haar rol in Philip Rademeyer se Goed wat wag op te gebeur (’n Momentum Bellegings Aardklop-debuut).
Elkeen van die benoemdes, asook die Fiësta-beoordelaars, het vanjaar ’n linosnee-werk van linomeester Theo Paul Vorster ontvang. Vorster se werk is ook vanjaar by die KKNK te sien in sy solo-uitstalling Dier-baar. Hy bied ook ’n blitskurses in linosnee tydens die fees aan.
KKNK 2024 word geborg deur Absa, Checkers, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Kry die volledige feesprogram aanlyn by www.kknk.co.za en kaartjies by Webtickets. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek die webblad of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.