Persverklaring: Oudtshoorn se reWOLusie kry nasionale voetspoor

  • 0

Bets Wilkinson

Oudtshoorn se gemeenskapsinisiatief ReWOLusie gaan van krag tot krag, met twee opwindende vertakkings wat vanjaar aan dié projek vlerke gee. Benewens die bekende plaaslike hekel-en-brei-projek, kry ReWOLusie vanjaar ’n nasionale voetspoor danksy ’n hekel-saam-veldtog. ReWOLusie is boonop weer een van die vennote van die filantroop Carolyn Steyn se veldtog 67 Blankets for Madiba. Die hele Suid-Afrika kan nou deelneem, met meer komberse as ooit wat warmte kan gee aan behoeftiges in die koue wintermaande wat kom. 

“Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees is trots op die vennootskap met ReWOLusie as een van ons vlagskipprojekte,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “En dit is besonder opwindend dat die projek nie net op Oudtshoorn ’n verskil maak nie, maar ook nou nasionaal mense betrek.”

Volgens Madeleine Miles, die stigter en projekleier van die ReWOLusie-projek, is daar vanjaar twee maniere om by dié hekel-en-brei-projek betrokke te raak. “Oudtshoorniete kan eerstens, soos in 2020, komberse hekel of brei wat aan behoeftiges in die plaaslike gemeenskap geskenk sal word.” 

Enigiemand kan deelneem. Voltooide komberse kan by die KKNK-kantoor in Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, afgelewer word, vanwaar dit aan behoeftiges versprei sal word. En as jy nie genoeg wol het nie, kom kyk wat beskikbaar is by die KKNK-kantoor - ’n beperkte voorraad wol is beskikbaar danksy skenkings van onder meer ABSA en die Oudtshoorn Besigheidskamer.

“Tweedens is ons baie opgewonde dat ReWOLusie vanjaar ’n nasionale voetspoor kry met die hekel-saam-inisiatief,” sê Miles. 

Die Oudtshoorniet Bets Wilkinson het ’n patroon ontwerp vir hekelaars regoor die land. Van Maandag 3 Mei sal die KKNK oor 13 weke elke Maandag ’n stukkie van dié kombers se patroon en ’n instruksievideo vrystel op die webblad (kknk.co.za, klik op PROJEKTE en kies dan ReWOLusie; volg ook die KKNK op Facebook.com/KKNK).

“Aan die einde van die 13 weke sal elke deelnemer ’n volledige kombers hê,” sê Wilkinson. “Deelnemers kan hul komberse skenk vir ’n liefdadigheidsveiling op Nasionale Vrouedag (9 Augustus 2021). Alle geld wat so ingesamel word, sal gebruik word vir bemagtigingsprojekte onder vroue in Oudtshoorn.” 

Jy kan die kombers vir jouself hou, of aan iemand present gee. As jy nie self wil of kan hekel of brei nie, oorweeg ’n skenking van R1 800 - dié geld sal gebruik word om die nodige wol en ander hulpmiddele te koop vir iemand wat dit nie self kan bekostig nie, maar steeds graag wil meedoen met die idee dat dit jóú kombers word wanneer dit voltooi is. Of, as jy ongebruikte wol het, skenk dit - elke bol wol tel. 

As jy aan vanjaar se ReWOLusie-projek wil deelneem, kontak Daleen Witbooi by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos na info@kunste.org.za. Vir die nasionale hekel-saam-inisiatief is registrasie verpligtend. 

Meer oor ReWOLusie

Hekelwerk wat Oudtshoorn se strate oornag verfraai het, het in 2019 met die aanvang van die 25ste KKNK feesgangers verras. Van bome tot pilare, motors en ander voorwerpe is met Oudtshoorniete se kreatiewe hekel- en breiwerk mooigemaak as deel van dié nuwe dorpsinisiatief. 

In 2020 is Oudtshoorn weer verfraai, alhoewel die KKNK weens die COVID-19-pandemie nie kon plaasvind nie. Individue, besighede, skole, aftree-oorde en kerke is by dié gemeenskapsprojek betrek. ReWOLusie is tydens die tiende kykNET Fiëstas in 2020 met ’n spesiale prys vir innovasie bekroon.

Dié projek het in die winter van 2020 bykans 2 000 komberse aan organisasies en behoeftiges in Oudtshoorn en omstreke uitgedeel, waaronder Helen Bellinghanhof, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, ACVV De Rust, die Oudtshoorn-hospitaal, die Toekomsrus-kliniek en kerke op die dorp. 

En danksy Absa kon die stories van die vroue van Oudtshoorn in 2020 verewig word in ’n koffietafelboek met die deelnemers se inspirerende stories, handewerk en patrone. “Absa se vennootskap met die KKNK en die gemeenskap deur die ReWOLusie-projek bemagtig vroue en ontwikkel hul vaardighede deur hekel- en breiwerk,” sê David Wingfield, Absa se hoof van bemarking. Bestel jou eksemplaar per e-pos by info@kknk.co.za, of skakel 044 203 8600.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top