
Grafika: Tuin van Digters se Instagram-bemarkingsvideo
Opkomende (en waagmoedig genoeg) digters kry weer vanjaar by die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington kans om hul stem te laat hoor. Die fees se immergewilde “open mic”-sessie vind op Saterdag 12 September om 13:00 plaas, met sanger en liriekskrywer Deon Meiring wat die program sal lei.
“By ’n ’open mic’ weet mens nooit wie jou gaan verras of verstom nie. Daar is altyd iets wat jou laat lag, of diep raak. Daar is beslis ’n behoefte by mense om hul woorde gehoor te kry, en die fees is ’n plek met ’n waarderende gehoor vir daardie woorde,” vertel Meiring.
Vir hom vind dié sessie aanklank by vanjaar se feestema van “menswaardig” en “100% handgemaak”: “Dis lekker om gehoor te word tussen ander mense wat dapper genoeg is om vir die eerste keer, of vir die eerste keer in ’n lang tyd, voor ’n gehoor en met ’n mikrofoon in die hand in lewende lywe hul eie menslike woorde voor te kan dra.”
Belangstellendes kan teen 4 September 2026 hul naam in die hoed gooi deur vir Meiring te epos by deonmeiringvideos@gmail.com of ’n Whatsapp te stuur na 082 464 7897.
Leerlinge van plaaslike instellings op Wellington kry ook gedurende die Digdink-sessie van Saterdag 12 September om 10:00 kans om hul eie gedigte voor te dra. Onder leiding van Lindsey Bruintjies word leerders van Weltevrede Hoërskool, Wellington Hoërskool, Bergrivier Sekondêr, Hugenote Hoërskool en die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie sodoende betrek.
Ook op die feesprogram, wat van 11 tot 12 September strek, is gevestigde digters soos Joan Hambidge, Tom Dreyer, Churchill Naude, Alwyn Roux, die Mengelmoesdigters, Danie Marais, Veronique Jephtas, Pieter Odendaal en Bibi Slippers.
Kaartjies is by Quicket te koop, met die volledige feesprogram wat by www.breytenbachsentrum.co.za afgelaai kan word.

