Persverklaring: Opelugmusiekkonserte keer terug na die KKNK

  • 0

Prime Circle

Ses groot opelugmusiekkonserte word vanjaar by die KKNK aangebied om die post-pandemie-vryheid behoorlik te vier. Om af te skop word daar as’t ware amok gemaak terwyl die fees afgesluit word met ’n spesiale konsert op Paassondag, geskep deur  Nataniël.

As deel van dié immergewilde opelugmusiekprogram, kan feesgangers uitsien na ’n fees van musiek deur van ons land se gunstelinge. Gehore kan gereedmaak vir opelugklanke van rock, pop, klassieke musiek en rymklets tot jazz en alles tussenin – die hele ketoetie wag beslis hier op musiekliefhebbers.

Refentse

Die 27ste KKNK, geborg deur Absa, word van 1 tot 9 April op Oudtshoorn aangebied en skop af met ’n tweedagmusiekfees, Amok!, op Saterdag 1 en Sondag 2 April. Feesgangers kan hulself vanaf vroegmiddag gemaklik maak vir ’n lekker kuier, wat hulle tot sononder onder die Klein Karoo-sterre voortsit. Saam met die topgehalte musiek deur verskeie kunstenaars en bands, vul die kroeë, geselligheid en ’n paar verrassings die aanbod aan.

Early B

Op die verhoog vir Amok! 1.0, ondersteun deur kykNET, op Saterdag 1 April, is onder andere Prime Circle, Refentse, Sunset Sweatshop, Die Heuwels Fantasties, Jo Black,  Francois van Coke en vele meer. Sondag 2 April sit Amok! 2.0, ondersteun deur kykNET en Son, die topgehalte vermaak voort met onder andere Early B, YoungstaCPT, Loufi, Frazer Barry, Tribal Echo, Anton Goosen, Valiant Swart, Sima Mashazi, Hakkiesdraad en vele meer. ’n Spesiale sakpas-pakketkaartjie is beskikbaar vir beide konserte, vir diegene wat nie ’n enkele oomblik wil mis nie.

Donderdag 6 April is dit Spoegwolf en vriende, ondersteun deur kykNET en Netwerk24, se beurt om feesgangers op die Karoo-opelugverhoog te vermaak. Hulle eerste shows ooit was in 2012 by die KKNK. Nou, meer as ’n dekade later, is hulle terug. Hulle bring al hulle energie, ligte en harde musiek na die verhoog, met hulle grootste en malste show in ’n lang tyd. Koos Kombuis en Deon Meiring sluit onder andere by hulle aan.

Vir Die grootste Karoo-paartie ooit, ondersteun deur kykNET, op Vrydag 7 April is dit tyd om van enige sorge te vergeet en partytjieskoene aan te trek vir ’n groot jol met onder andere Kurt Darren, Jo Black, Granville Michaels, Tracey-Lee Oliver en Jaconell Mouton. Dis groot internasionale treffers, gunstelinge uit eie bodem en ’n Karoo-paartie wat gaan sorg vir ’n onvergeetlike aand!

Lynelle Kenned

Karoo Pops, ondersteun deur kykNET en Netwerk24, is ’n jarelange tradisie op die KKNK se opelugverhoog en Saterdag 8 April sorg die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, Karen Zoid, Francois van Coke, Lynelle Kenned en Luvo Maranti vir ’n aanbod van klassieke musiek, rock en ander genres, met musiek uit blyspele en Zoid en Van Coke se treffer “Toe vind ek jou” vir die eerste keer saam met ’n simfonieorkes.

Die opelugmusiekprogram sluit op Paassondag (9 April) af met Passi | Passio | Pasión | Passion, ondersteun deur kykNET en Die Burger, ’n epiese konsert deur Nataniël, geïnspireer deur sy liefde vir seremonie en rituele, die tydlose melodieë van Bach tot blues, die ritmes van katedrale tot wêreldmusiek en die simboliek van geloof in kleredrag. Sewe van Suid-Afrika se voorste musikante, Charl du Plessis, Juan Oosthuizen, Werner Spies, Peter Auret, Dihan Slabbert, Nicolaas Swart en Wiehahn Francke, sluit by hom aan vir ’n onmisbare aand.

Dié aandkonserte word as ’n piekniekatmosfeer ingerig. Konsertgangers is welkom om hulle eie stoele te bring. Kaartjies vir die opelugmusiekkonserte wissel van R250 tot R350 per persoon, met die spesiale naweekkaartjie wat vir die twee Amok!-konserte beskikbaar is teen slegs R550. Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as by die hekke.

Aandkonsertkaartjies sluit boonop toegang tot die Feesmark vir die dag in, waar stalletjies, die eerste KKNK Feeswinkel, pretpark, Liplekker se deli- en wynstalletjies, verskillende kroeë en kosstalletjies deur die dag besoek kan word.

Die volledige feesprogram vir die KKNK is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay. Verblyfbesprekings kan ook aanlyn gedoen word. 

Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top