
Veertien nuwe Suid-Afrikaanse stories met ’n fokus op kabaret, satire en komedie, is vanjaar as deel van Teksmark by die Baxter-teater in Kaapstad te sien.
Teksmark word aangebied deur die KKNK en NATi, met ondersteuning van die Baxter-teatersentrum, Universiteit van Johannesburg (UJ) Kuns en Kultuur en die Het Jan Marais Nationale Fonds.
Hierdie unieke teks-ontwikkelingsplatform is daarop gemik om die skep van nuwe Suid-Afrikaanse teatertekste aan te moedig en om skrywers en rolspelers in die teaterbedryf met mekaar te verbind, vir moontlike investering en verdere ontwikkeling van tekste. Beide opkomende en gevestigde skrywers kan deelneem.
Voorstelle is soos in die verlede deur ’n paneel gekies en uit vanjaar se rekordgetal voorstelle, is tekste gekies om as leesteater by Teksmark aangebied te word. Verteenwoordigers van teaters, feeste, produksiehuise en ander moontlike beleggers word genooi na Teksmark om sodoende direk met skrywers en hul werk in gesprek te tree.
Bywoning van die sessies tydens Teksmark is gratis en gehore in die Pam Golding-teater by die Baxter-teatersentrum kan uitsien na kreatiewe teksidees van 16 skrywers, waar ’n spesiale fokus op tekste in die genres van kabaret, satire en komedie met sterk sosiopolitieke kommentaar geplaas word. Met dit ten doel, bied veteraan-regisseur Marthinus Basson op Donderdag 10 September van 09:30 tot 11:00 die eerste sessie van Teksmark aan, met spesiale fokus op ’n oorsig en inleiding tot kabaret. Nuwe kabaret-idees en sketse van Llandi Beeslaar, Karli Heine, Ilse-Lee van Niekerk, Faith Kinniar en Vihann van Rooyen word as deel van dié sessie aangebied.
Die eerste drie tekste van Teksmark Baxter 2026 word Donderdag 10 September tydens sessie 2 van 12:00 tot 13:30 voorgelê met Nell van der Merwe se Helmond-strik (’n kabaret), Lukhona Mkunyana se Dom en die donker dinge en Moeniel Jacobs se Hi, Jack.
Donderdag se verrigtinge word tydens sessie 3 van 14:30 tot 16:30 afgesluit met Richard van der Westhuizen se Doringdraad, Beyers de Vos se Die Masjien, Mike van Graan se Form the River (Thames) to the Sea (Point) en Jeanne-Marié Koekemoer se Ontaard.
Sessie 4 vind Vrydag 11 September plaas van 09:30 tot 11:00 met Esther von Waltsleben se Kind regards en so, Dean Balie se Straatpraatjes en Henriëtta Gryffenberg & Janine Opperman se Pêrels en pekanneute, gevolg deur die vyfde en laaste sessie van 11:30 tot 13:30 met Stephanie Hough se Why my Ulusu, Reuben Murphy se TILT , Steyn du Toit se Skaal en Peter-John Titus & Nico Scheepers se Oralkind.
Skrywers kry by Teksmark die geleentheid om oor hul nuwe teksidee te gesels en daarna ’n kort uittreksel as leesteater aan te bied. Uittreksels word onder leiding van regisseurs waaronder Tara Notcutt, Nicole Holm, Petrus du Preez en Sylvaine Strike aangebied, met verskeie skrywers wat hul eie regie behartig.
Op die verhoog vir die leesteater-uittreksels is Antoinette Kellermann, Marion Holm, Royston Stoffels, Nicole Holm, Frazer Barry, Abduragman Adams, Mbulelo Grootboom, Nicky Rebelo, David Muller, Erica Wessels, Wian Taljaard, Carlo Daniels, Eldon van der Merwe, Henriëtta Gryffenberg, Wilhelm van der Walt, Nelandi Boshoff, Karli Heine, Geon Nel, Frieda van den Heever, Cantona James en vele ander te sien.
Bywoning van Teksmark is gratis en alle belangstellendes word genooi om deel te wees van die eerste saadjies wat gesaai word vir die ontwikkeling van nuwe Suid-Afrikaanse teaterproduksies.
Die derde Teksmark Joburg word op Woensdag 21 Oktober by die Universiteit van Johannesburg aangebied, met ’n tweede Teksmark Oudtshoorn in November 2026 in die Klein Karoo plaasvind. Meer inligting oor die skrywers, spelers en bywoning van hierdie geleenthede word binnekort bekendgemaak.
Sedert die ontstaan van Teksmark is meer as 200 teks-idees deur meer as 180 skrywers vir verdere ontwikkeling voorgelê, waarvan meer as 50 tekste tot volskaalse produksies ontwikkel is. Hierdie produksies het ook reeds hope pryse ontvang.
Vir meer inligting en die volledige program vir Teksmark Baxter 2026 besoek kknk.co.za, of kontak die KKNK-kantoor via e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

