Persverklaring: Nuwe talent in die pylvak vir Suidoosterfees-talentsoektog

  • 0

Finaliste van die Suidoosterfees se Talentsoektog betree nou die pylvak nadat die semifinale die afgelope naweek in Kaapstad se V&A Waterfront-amfiteater plaasgevind het. Tydens dié uitdunne is 12 finaliste, individueel en groepe, aangewys wat deurdring na die finale ronde wat tydens die fees sake om die gesogte pryse gaan uitspook.

Vanjaar vind die 20ste Suidoosterfees van 26 April tot 1 Mei by Artscape in die Moederstad plaas. Op 1 Mei vanaf 12:30 ding finaliste by die fees mee om die volgende pryse: R10 000, asook optreegeleenthede by die 2024-fees vir die algehele wenner; ’n beurs vir voltydse studie by Dance for All aan ’n belowende danser; en ’n kontrak van die talentagentskap, 33andMe, vir een van die wenners.

Dié gewilde projek van die fees fokus op die identifisering en ontwikkeling van belowende talent onder sangers, dansers, musikante en komediante in die Wes-Kaap. Kelvin McKinnon van Burger King, wat die projek ondersteun, sê: “Burger King bring nie net smulkos aan Suid-Afrikaners nie; ons glo dat voedsel vir die siel ewe belangrik is. Daarom belê ons in dié belangrike projek van die Suidoosterfees om die potensiaal van ons mense deur ontwikkeling te laat gedy.”

Rafiek Mammon van die Suidoosterfees sien baie uit na die finaal tydens die fees. “Ek kan nie wag om te sien waarmee die wonderlike, talentvolle finaliste ons gaan betower nie.” Die Suidooster-aktrise Natasha van der Merwe, wat as seremoniemeester by die semifinale in die Waterfront opgetree het, sê: “Die verskeidenheid van talent in stand-up komedie, rap, beat box, sang en dans, en veral die marimba bands, het my asem weggeslaan.”

Die Botrivier Marimba-orkes is een van die groepe wat Natasha se oog gevang het. Dié orkes is in 2012 gestig en het al verskeie toekennings onder die belt. Onder die sangers wat beoordelaars beïndruk het, is Blessing Biyandu, ook bekend as *iamTrulybles*, wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo gebore is, maar in Suid-Afrika grootgeword het. Hy blink uit in Afropop, soul en jazz.

Marge Troskie, oorspronklik van Somerset-Wes, is ’n 19-jarige student wat haarself as ’n “kleindorpse loskop-liedjieskrywer” beskryf. “Ek skryf om te onthou, om te vergeet en om te vergewe,” sê sy. Vir Lundy Jacobs is die musiekverhoog ’n platform waarop sy haar ware self kan wees. Sy volg haar musiekdroom sedert sy 8 jaar oud was.

Bilqees du Plessis, ook bekend as B, is ’n kunsafrigter by ’n hoërskool en haar talent lê in rap, dans en drama. Sy is al van 5-jarige ouderdom bedrywig in die kunste. Amber Joy Jonas, ’n 20-jarige sangeres en liedjieskrywer van Worcester, span haar talent in om die swaarkry wat van een generasie na ’n ander oorgedra is, te beveg. Sy studeer aan Northlink Kollege en haar lewensmotto is: “Musiek is lewe, dis hoekom ons harte met ritme klop!”

Die Suidoosterfees se Talentsoektogprojek word ondersteun deur verskeie vennote: Burger King, BASA, 33andMe, Dance for All, The Stage Performing Arts Studio, Rural Arts Network, die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuur se MOD-projek, Northlink Kollege, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, Hessequa Harmonie, Hindle Hoërskool, Hoërskool Apex, Artscape, BlouBus-Bediening, People’s Post en Tygerburger.

Vir die volledige feesprogram, besoek www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies kan bespreek word by Computicket, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695. Kyk mooi op die program watter produksies is gratis, maar waarvoor jy per e-pos moet bespreek!

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Department van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Media24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top