
Ratanga Park Sunset Concerts
Die Heuwels Fantasties
Sondag 25 Februarie 2024
Ook met die gewilde kletsrymer Jitsvinger wat die konsert open!
In samewerking met CTMA en die CC Arts Foundation
Kaapse musiekliefhebbers, bring julle familie en vriende en pak julle piekniekmandjies om saam met Die Heuwels Fantasties en Jitsvinger, die heel eerste ervaring van die Ratanga Park Sunset Concerts wat op Sondag 25 Februarie aangebied word, te vier.
Hierdie nuwe konsertreeks gaan maandeliks by Ratanga Park, Century City aangebied word.
Century City is al vir ’n geruime tyd een van die bekendste bakens in die Kaapse Skiereiland. Ratanga Junction was ook vir vele jare een van die gewildste bestemmings vir daguitstappies vir gesinne. Ratanga Junction het in 2018 sy deure gesluit en Rabie Property Group het met die ontwikkeling van Ratanga Park in 2020 begin. Gevolglik is die ruimte in ’n lieflike park omskep.
Die inspirasie vir die aanbied van groot musiekkonserte het ontstaan toe die jaarlikse Kaapse Carols by Candlelight, wat sedert 2009 in Central Park gehou was, vanaf 2022 onder die naam Carols in the Park na Ratanga Park geskuif het. Die 2023 geleentheid is op 3 Desember gehou, met 2000 mense wat die spesiale aand saam met hulle gesinne bygewoon het.
Nico McLachlan, direkteur van CTMA, sê: “Die skilderagtige park met sy pragtige oop, groen ruimtes is die ideale ligging vir groot buitelugmusiekkonserte. Dit is die perfekte oase vir ’n someraandpiekniek saam met jou geliefdes. Ons sien uit daarna om van die land se beste kontemporêre musiek aan te bied op ’n fantastiese verhoog, met ’n lieflike uitsig oor die kanale en Tafelberg in die prentjiemooi agtergrond.”
Die Heuwels Fantasties, een van die mees gesogte Afrikaanse musiekgroepe in Suid-Afrika, tree Sondag 25 Februarie by die openingskonsert van hierdie opwindende nuwe konsertreeks op. Hul kenmerkende hoëenergieoptredes, wat verskeie gewilde radiotreffers insluit, gaan sorg vir musiekvermaak uit die boonste rakke. DHF voorsanger Pierre Greeff sê: “2024 is ons 15de jaar as Die Heuwels Fantasties. Ons sien uit om vir julle van die bekende wysies in ons repertorium te bring, sowel as ’n paar nuwe liedjies wat die afgelope paar maande uitgereik is. Ons kan nie wag nie. Hoop ons sien julle daar!”
Die veelbekroonde kletsrymer van die Kaapse Vlaktes, Jitsvinger, gaan die aand se musiek open en gaan sorg daarvoor dat die spreekwoordelike kuierbiesies behoorlik bewe. Sy jarelange vriend DJ Willy, sal ook saam met hom op die verhoog wees.
Die Ratanga Park Sunset Concerts is piekniekstylkonserte wat geskik is vir die hele gesin. Die hekke maak 16:00 oop en die konsert begin 17:00. Konsertgangers is welkom om hul eie piekniekmandjies bring, maar geen alkoholiese drankies en glasbottels mag by die terrein ingebring word nie. Daar sal ’n kroeg wees wat wyn en bier verkoop, sowel as verskeie kosstalletjies. Geen tafels, stoele of gazebos mag ingebring word nie. Dit sal ongelukkig die uitsig na verhoog kan belemmer.
- Kaartjies by Quicket: https://qkt.io/25hL6c
- Kaartjiepryse: R200 per persoon
- Kinders onder 12 kry gratis toegang
Spesiale parkeerreëling: Baie ondergrondse parkeerplek is beskikbaar, met ’n toegangspunt via Conference Lane Century City. R10 vir die duur van die konsertdag. Konsertgangers mag parkeerstrukture P2 en P4 gebruik.
Meer inligting:
- Ratanga Park Sunset Concerts kontak: Luvuyo Kakaza – CTMA 060 960 8935 / luvuyo@ctma.co.za
- Century City kontak: 021 552 6889 / info@centurycity.co.za
Sosiale Media:
- CTMA Facebook: https://www.facebook.com/cptmusicacademy/
- Hashtag: #capetownmusicacademy
- Instagram: https://www.instagram.com/capetownmusicacademy/?hl=en
- Hashtag: #capetownmusicacademy
- CTMA website: https://www.ctma.co.za/
Century City:
- Facebook: https://www.facebook.com/CenturyCityZA
- Instagram: https://www.instagram.com/century city
- Website: http://centurycity.co.za
Meer inligting oor Ratanga Park, Century City
Die nuwe Ratanga Park met sy indrukwekkende waterkanale is die onlangste en betekenisvolste toevoeging tot die Century City landskap. Dit is ’n wesenlike komponent van die herontwikkeling van die Ratanga Junction-temaparkterrein. Ratanga Park is geskep deurdat ’n totaal van 75 000m3 grond verskuif is met ’n watergedeelte wat ongeveer 1,64 ha water bedek. Water, kronkelende wandelpaadjies, besienswaardighede en ’n speelarea vir kinders is binne die omtrek van die welige landskap geskep.
Die park se plantetema bestaan uit ’n samestelling van formele boomlanings wat uitloop op lieflike groen grasperke, te midde van inheemse, skaduryke woudrande met beskutte grasvelde wat dan lei na die hoogliggende, blomryke Kaapse vleilandrand. Baie van die bestaande palms en groter bome is behou, asook twee van die oorspronklike Ratanga Junction temabrûe. Hierdie pragtige groen ruimtes is oop vir die publiek.

