Die Suidoosterfees speel ’n belangrike rol om talent onder jong mense te stimuleer en te ontwikkel. Daarom is die fees, wat van 27 April tot 1 Mei 2022 by Kunstekaap gehou word, ’n tuiste vir skoliere, studente en opvoeders wat betrokke is by die kunste. Baie produksies vir en deur jong mense is op die fees se NATi Jeugteaterprogram en word in samewerking met verskeie vennote aangebied.
Die departement van kultuursake en sport (DKES) kom stel op 29 April om 18:00 die talent van leerders wat by hul drama-ontwikkelingsprojekte in die Wes-Kaap betrokke is, ten toon. In die program Beste van DKES-dramafees Finalé voer finaliste en wenners van gemeenskapstoneelgroepe kort toneelstukke op. Miss Morris, The Fled en Liefde in al sy gedaantes is drie produksies van DKES-ontwikkelingsinisiatiewe wat op die feesprogram ingesluit is.
Van dié produksies kan gratis bygewoon word, maar dit is belangrik om vooraf te bespreek deur ’n e-pos te stuur aan Faren.Esau@media24.com.

Hansie Slim, ’n drama deur Hoërskool Parel Vallei, word deur die ATKV na die Suidoosterfees gebring. (Foto: Nardus Engelbrecht)
Skoleproduksies wat verlede jaar by die ATKV se Tienertoneelkompetisie presteer het, is ook by die fees op die planke. Vir baie leerders is dit ’n vernuwende ervaring om hul stukke in Kunstekaap se professionele teaters op te voer. Die ATKV bring skole van so ver as Kakamas met die volgende produksies na die fees: Hansie Slim, Ivili (Die wiel), Neer daal die reën, Om teen treine te skree en ’n Onwaarskynlike reeks skynbaar onverwante oomblikke of Dinsdag.
Studente van Northlink Kollege, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) en Stellenbosch Universiteit is ook teenwoordig. Talentvolle jongelinge van dié instansies werk saam met professionele teatermakers om feesproduksies te lewer. Joshwin Dyson se Liefde en tyd handel oor ’n jong vrou wie se drome van ’n eie gesin deur Apartheid gekelder word. My Society deur NT Jikwa vertel die verhaal van Spinza, ’n jong man uit ’n disfunksionele gesin, wat in die tronk beland.

Miss Morris is een van die gemeenskapsdramas wat deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport by die Suidoosterfees opgevoer word.
Honneursstudente van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement speel in twee dramas deur Rafiek Mammon – New Year’s Eve en Rondomtalie. New Year’s Eve handel oor ’n ontnugterde vrou wat op nuwejaarsaand van ’n toringgebou in Kaapstad wil spring. In die komiese Rondomtalie moet ’n verhoudingsterapeut die kole uit die vuur krap wanneer ’n egpaar se huweliksbootjie deur owerspel beproef word.
Jayson Goliath se Probleemkind handel oor ’n jong buitestaander, Justin Mentoor, wat deur almal eenkant toe geskuif word. Joshwin Dyson speel in dié eenmanstuk. Patwill Titus speel in Rita Rooidoos deur Denver Breda. Die drama speel in ’n nagklub af, waar die hoofkarakter ’n ongure man uit haar verlede raakloop.
Die ATKV bied ’n fantastiese program vir regisseurs en skrywers, gefokus op die ATKV-Tienertoneelkompetisie, by die Suidoosterfees aan. Vir drie dae, van 27 tot 29 April, kan regisseurs en skrywers top toneelproduksies geniet en hul vaardighede slyp onder leiding van Ricardo Arendse en Frieda van den Heever. Die ATKV-Tienertoneelpakket kos R1 000 en sluit toegang tot werkswinkels en nege dramas op die feesprogram in.
Die volledige feesprogram is op www.suidoosterfees.co.za beskikbaar. Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-veiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te kry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.
Die Suidoosterfees word ondersteun en moontlik gemaak deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

