Persverklaring: ’n viering van vroue by Klassique 2019

  • 0

Foto's: verskaf

“Ter viering van die Vrouedag-langnaweek in Augustus, kan klassieke musiekliefhebbers by die 11de Klein Karoo Klassique musiek deur uitsonderlike vroue geniet.” 

So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van dié fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn wat van Donderdag, 8 tot Sondag, 11 Augustus op Oudtshoorn aangebied word.

Volgens Theart bied Klein Karoo Klassique vir die eerste keer sedert 2015 ’n Galakonsert aan. “Ons bied ’n besonderse Galakonsert ter viering van Vrouedag aan – met duo’s en trio’s uit operettes, musiekblyspele en opera. Die Kaapse-mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce, TV-persoonlikheid en Kunste Onbeperk Jong Stem-vereerde Lynelle Kenned en Janel Speelman, wat tot onlangs in die VSA gewoon en opgetree het, is hierin te sien, met klavierbegeleiding deur Philippus Hugo.” Die gehoor kan uitsien na ’n onvergeetlike samekoms van stemme met o.a. vertolkings van Barcarolle uit The Tales of Hoffmann, The Flower Duet uit Lakmé, Andrew Lloyd Webber se Pie Jesu en die komiese Cats’ Duet deur Rossini. Qden Blauw lei dié uitvoering op Saterdag, 10 Augustus om 19:00 in.

Klassique begin Donderdag, 8 Augustus om 18:30 wanneer twee vroue in La Femme! – A Celebration of Music and Dance kragte saamspan. Tanya Diamond (dans & choreografie) en Nina Fourie-Gouws (kitaar) kombineer die passie, geesdrif en intensiteit van outentieke, kontemporêre Flamenco-dans met die warm, komplekse, sensuele klanke van klassieke kitaar. Diamond is ’n internasionaal-bekroonde danser en choreograaf en Gouws, ’n konsert-kitaarspeler en lektor aan die Stellenbosch Konservatorium. Werke van Albéniz, Brouwer, Barrios, Domeniconi, Ibert, Tárrega en Vivaldi word gehoor, met lede van die SoloFLAMENCO dansstudio wat tradisionele Spaanse begeleiding bied.

In Trio du Cap Classique (Vrydag, 9 Augustus om 10:30) kombineer die internasionaal-bekroonde fluitspeler Liesl Stoltz, werke vir fluit, tjello en klavier, waaronder Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, moontlik sy mees-bekende kamermusiek-komposisie, asook ’n beeldskone verwerking van Arnold Schoenberg se Verklärte Nacht (Verheerlikte Nag). Die program eindig met Herfs deur Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla. Hierdie beweging vorm deel van sy Vier Seisoene. Bekende Suid-Afrikaanse pianis François du Toit en Franse tjellis, David Pinoit sluit by haar aan.

Zanta Hofmeyr (viool) en Olive Sandilands (klavier) span kragte saam met Miro Chakaryan (viool) in die Fiësta-bekroonde Violin Dialogue, wat ook die beste klassieke musiekproduksie by Aardklop in 2018 wen. Dit is ’n opwindende program van virtuose vioolduo’s, gekenmerk deur vuurwerke, intensiteit en ongebreidelde passie. Werke van Wieniawski, Sarasate, Leclair, Shostakovich en Moszkowski word gehoor. Violin Dialogue is Saterdag, 10 Augustus om 10:30 te sien.

In Sublime String Quartets from Bohemia (Sondag, 11 Augustus om 11:00) neem Kaapstad se Amici Strykkwartet, een van Suid-Afrika se voorste kamermusiek-ensembles, die gehoor op reis deur werke van die voorste strykkwartet-komponiste in die geskiedenis. Suzanne Martens (eerste viool) en Karin Gaertner (altviool), deel die verhoog met David Bester (tweede viool) en Peter Martens (tjello). Werke van Mozart, Haydn, Beethoven en Schubert word verteenwoordig deur die eerste beweging van Schubert se Rosamunde Kwartet. Tsjeggië se begaafde kwartet-komponis Dvořák se Amerikaanse Kwartet, sy mees-bekende strykkwartet, kombineer elemente van volksmusiek vanuit sy geboorteland met dié uit sy nuwe wêreld, die Verenigde State van Amerika.    

“Feesgangers kan, danksy die ondersteuning van die Rupert-Musiekstigting, met die Klassique Pakket teen slegs R950 al die uitvoerings by die fees geniet teen ’n besparing van R240,” sluit Theart af.

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za.

Medianavrae: Kunste Onbeperk
E-pos: bemarking@kunste.org.za
Tel: 044 203 8600

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top