
Michael Repper (Foto: verskaf)
Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees – 5 tot 14 Julie by US Konservatorium.
Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees het nog altyd ’n eklektiese kombinasie van oud en nuut aangebied. Dit geld vir sowel die repertoire as vir die uitvoerende kunstenaars wat daar optree. Bekendes wat vanjaar weer optree sluit in Daniel Roland, Nicolas Dautricourt, Madeline Adkins en Andrey Baranov (viool), Boris Andrianov en Maja Bogdanović (tjello), YaoGuang Zhai (klarinet), Dwight Parry (hobo), Marco Silva (trompet) en Jauvon Gilliam (perkussie).
Sterre wat by die SIKMF 2024 vir die eerste keer hul buiging sal maak is die dirigente Michael Repper en Simeone Tartaglione. Repper se album met die New York Youth Symphony het uitstekende kommentaar by resensente uitgelok, het die eerste plek op die Billboard Chart behaal en het ’n Grammy®-toekenning ontvang. Dit is die eerste keer dat ’n jeugorkes met hierdie gesogte toekenning beloon word. Die album bevat eerste opnames van werke van Florence Price, Jessie Montgomery en Valerie Coleman. Repper se landgenoot Simeone Tartaglione beklee tans ’n aantal hoogstaande posisies, onder andere by die Katolieke Universiteit in Washington DC, Musiekdirekteur van die Delaware Youth Symphony Orchestra, dirigent van die Maryland Classic Youth Orchestra by Strathmore Hall en Musiekdirekteur van Musica Viva Kentlands.
Verdere kunstenaars met internasionale aansien sluit in Anna Vasileva, wat reeds op vierjarige ouderdom begin het om viool te speel. Deesdae tree sy gereeld op saam met die Simfonieorkes van die Tonhalle in Basel en die operaorkes van Zürich.
Fedor Belugin is ’n violis, dirigent en lid van die David Oistrakh Strykkwartet. Hy het verskeie internasionale kompetisies gewen. Die kontrabasvirtuoos Zoran Marković is ook ’n wenner van internasionale kompetisies en het opgetree by musiekfeeste soos Aspecte Salzburg, Neuebühne Villach en die Kuhmo Chamber Music Festival.
Ekaterina Kornishina het op vierjarige ouderdom reeds fluitonderrig ontvang. Tans neem sy gereeld deel aan internasionale musiekfeeste in Frankryk, Noorweë, Duitsland, Israel, Rusland, Griekeland, Oostenryk en Italië. Ivy Ringel is die eerste fagotspeler van die Indianapolis Symphony Orchestra en was dosent by Indiana University, Butler University en Morehouse College.
Hoewel Emanuil Ivanov reeds vantevore in Suid-Afrika was sal dit sy eerste besoek aan die SIKMF wees. Hy het vir die eerste keer aandag getrek toe hy in 2019 die Ferruccio Busoni-klavierkompetisie in Italië gewen het. Sy optredes in Japan, Frankryk, Italië, Duitsland, Oostenryk, Bulgarye, Siprus, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk en Pole is telkens hoog deur resensente aangeskryf.
Peter Martens, Direkteur van die SIKMF, sê: "Nêrens in Suid-Afrika sal jy so ’n groep van internasionaal erkende musici op een plek vind as in Stellenbosch. Hierdie kunstenaars is in aanvraag by die wêreld se mees vooraanstaande kamermusiekfeeste. Wanneer hulle hier optree is die atmosfeer elektries en die ontvangs deur die gehoor entoesiasties. Jy hoef nie na Aspen of Verbier te gaan nie – kom sommer na Stellenbosch!"
Toegangskaartjies vir die aandkonserte in die Endlersaal vanaf 5 tot 14 Julie wissel tussen R150 en R230 en is beskikbaar by Webtickets. Studentekonserte, meesterklasse en voorlesings vind daagliks in die Fismer- en Jannaschsaal plaas en toegang is gratis vir houers van feeskaartjies. Dagbesoekers kan telkens toegang by die deur kry teen R30.

