
Ikoniese musiek uit geliefde musiekblyspele en flieks gaan op 7 en 8 Mei uit die magiese glaskatedraal van Blaauwklippen verrys tydens twee besonderse aandkonserte, getiteld Music of the Night. Dit sal ongetwyfeld musiek in die ore wees van enige liefhebber van klassieke musiek en is daarom ook ’n ideale geskenk vir Moedersdag daardie naweek.
Plaaslike klassieke sterre, die sopraan Janel Speelman, tenoor Louis Look, sopraan Amanda Osorio en bariton Niël Rademan sal van die gewildste musiek uit films en blyspele uitvoer met begeleiding van ’n kwartet bestaande uit violis Suzanne Martens, altvioolspeler Petrus Coetzee, tjellis Babette Roosenschoon en die pianis Elna van der Merwe.
“Ons sien ongelooflik baie uit daarna om in hierdie beeldskone plek wat uitkyk oor die manjifieke berge gaste se verbeelding aan te gryp met onder andere ‘Music of the night’ en ‘All I ask of you’ uit The Phantom of the Opera, The Sound of Music se temalied en ander treffers, Somewhere uit West Side Story en I dreamed a dream uit Les Misérables.” sê Niël Rademan.
Daar is twee soorte konsertkaartjies beskikbaar. Gaste kan slegs die konsert in die katedraal bywoon, waar hulle ’n glas wyn of jenewerdrankies by die kroeg kan koop, of hulle kan ’n driegangmaaltyd by die Blaauwklippen-restaurant na afloop van die konsert bespreek. Daar is ’n beperkte aantal plekke beskikbaar vir die restaurant-ete ná die konsert.
Die konserte begin om 6nm, Saterdag 7 Mei en Sondag, 8 Mei.
Besprekings kan by plankton.mobi gemaak word teen R395 per persoon vir slegs die konsert en R750 per persoon vir die konsert en die ete by die Blaauwklippen restaurant na die konsert.
Geen kinders onder 12 sal toegelaat word nie.

