
Marianne Thamm (foto: verskaf)
As jy ook vuisvoos is van ons land se politiek durf jy nie Marianne Thamm se komiese eenvrou-vertoning Round of applause reloaded misloop nie.
Buiten dat Thamm ’n ondersoekende joernalis is, is sy natuurlik ook ’n skrywer en komediant. Sy beskryf haar vertoning as “’n eg Suid-Afrikaanse en komiese kyk na ons politiek.” Daar gaan natuurlik lekker gelag word vir die politici. Volgens Thamm het sy tydens haar werk aan die Guptaleaks skandaal en ander ondersoeke ontdek dat die meeste Suid-Afrikaners nie ’n idee het hoe die land staatskaping oorleef het. Daar was ook groot onkunde oor hoe ons die kernkrag ooreenkoms gestop het, en oor ander groot politieke gebeure. “Die enigste manier hoe mens dit kan opdis, is om dit aan te bied as satire en komedie,” sê sy. In hierdie geval is komedie dus ook ’n kuur.
Van die inspirasie vir Round of applause reloaded was die 15 jaar van staatskaping en die vier jaar van die Zondo-kommissie, sê Thamm. Die land se spin dokters en leuenagtige politici was ook ’n inspirasie. Volgens Thamm was eintlik al die politici ’n inspirasie, so ook die bedrieërs wat ontmasker is en die stories van gewone Suid-Afrikaners.
Pieter-Dirk Uys se rubriek in die Sunday Express, waarin hy vir tannie Evita bekendgestel het aan die publiek, was natuurlik ook ’n inspirasie, ene wat Thamm gretig verorber het. Voor Uys het niemand gedurf om die regering uit te trap of met dit draak te steek. “Ek het die krag van humor verstaan,” som sy op. Volgens haar kan elke Suid-Afrikaner hierdie tipe humor verstaan. En alle Suid-Afrikaners het ’n opinie om te lug oor die politiek.
Kom lag Junie maand lekker saam met ons vir ons land se absurditeite, en gaan huis toe met nuwe insig en hoop. Want, soos Thamm sê, sy het meer hoop vir Suid-Afrika as vir enige ander land.
Besprekings by www.webtickets.co.za. Vir meer inligting sien die volledige feesprogram by www.hermanusfynarts.co.za

