Persverklaring: Maak só vir ’n gerieflike, onvergeetlike Suidoosterfees-ervaring

  • 0

Suidoosterfees 2025 is op hande en van 30 April tot 4 Mei word ’n groot toeloop van feesgangers by die Kunstekaap in Kaapstad verwag. By vanjaar se fees is kuns álles en feesgangers kan gerus die volgende wenke in gedagte hou vir ’n gerieflike ervaring propvol onvergeetlike indrukke wat die gees nog lank gaan voed.

Feesprogram en vertonings

Die volledige feesprogram is in Afrikaans en Engels beskikbaar by suidoosterfees.com. Kaartjies kan bespreek word by Webtickets of skakel Artscape Box Office by 021 421 7695. Kyk mooi op die program watter produksies is gratis, maar waarvoor jy per e-pos of deur Webtickets moet bespreek!

Hou gerus die Suidoosterfees se Facebook- en Instagram-blaaie dop vir daaglikse opdaterings en spesiale aanbiedinge op kort kennisgewing.

Van die dramaproduksies is al uitverkoop, soos Verwelkingslied en Please, don’t call me moffie. Kaartjies vlieg ook vir produksies soos Kompoun, Davel & Klink in harmonie, Suidoosterfees Boogie, Rondomtalie/Marry-go-round, Halfuur huis toe, Die uitweg, Kleedkamer en Omwentelinge, ’n papierspel.

Melissa de Vries in Kompoun (Foto: Gys Loubser)

Daar is egter nog genoeg plek by uitstekende vertonings en aanbiedinge in al die fees se programafdelings: verhoogdramas, komedie, musiek en dans. En daar is ’n horde gratis aanbiedinge uit die boonste rakke waarvoor feesgangers nie ’n sent uit hul sakke hoef te haal nie.

Gesprekke in die Jakes Gerwel- en Netwerk24-reekse, asook kunsuitstallings om van te kus en te keur, bied aan Suidoosterfees-besoekers ’n wydlopende, prikkelende kunste-ervaring wat nie die beursie seermaak nie. In die Netwerk24-Feeskafee is daar deurgaans gratis aktiwiteite: gesprekke, musiek, vasvrae, sosiale dans en selfs kareoke.

Programboekies is ook tydens die fees beskikbaar, maar veranderinge wat sedert die druk van die boekies ingetree het, sal volledig op die webwerf bygewerk wees.

Reis en verblyf

The Capetonian Hotel en Hotel Sky is albei verblyfvennote van die Suidoosterfees, en is letterlik ’n klipgooi van die feesterrein by Kunstekaap. Hulle bied spesiale tariewe vir Suidoosterfees-gangers aan. Feeskunstenaars gaan hier tuis en feesbesoekers sal waarskynlik al hul gunsteling-sterre in dié hotelle opmerk.

The Capetonian kan vir besprekings gekontak word by enquiries@capetonian.co.za of +27 21 405 5670. Besprekings by Hotel Sky kan gemaak word deur hotelsky.co.za.

Hierdie hotelle is binne loopafstand van Kunstekaap, en daar is ook ’n gratis pendeldiens tussen die hotelle en die feesterrein.

Parkering

Parkering is beskikbaar in die strate om Kunstekaap. Die Burgersentrum, teenaan die teaterkompleks, se kelderparkeerarea is oop van Maandae tot Vrydae vanaf 18:00 tot 23:00, en heeldag oor naweke en openbare vakansiedae. Vir maksimum gerief kan die ingang vanuit Jan Smuts-straat gebruik word. Volledige inligting oor parkering os op Kunstekaap se webwerf.

Kos- en kuierplekke by Suidoosterfees

Daar is verskeie restaurante op die feesterrein waar feesgangers kan smul en drankies kan koop tussen vertonings. Opskiet-restaurante en eetplekke is voor en agter die Kunstekaap-gebou waar besoekers etes en versnaperinge teen baie billike pryse kan koop.

The Yard en die Netwerk24-feeskafee het fantastiese kospunte met geregte vir elke smaak, van burgers en pizzas tot springmielies, pannekoeke en lekkergoed! Daar is elke feesdag spesiale aanbiedinge en as die weer daarna vra, sal sop en rolletjies ook te koop wees.

’n Fees vir almal!

Die Suidoosterfees verwelkom almal vir ’n verruklike ervaring in ’n veilige omgewing waar geen vooroordeel of diskriminasie van enige aard geduld word nie. Dit is ’n plek vir alle Suid-Afrikaners waar uiteenlopende opinies gedeel en gehoor word. Suidoosterfees is gebou op die nalatenskap van wyle prof. Jakes Gerwel, wat inklusiwiteit en die soomlose saamkuier aanmoedig.

Tydens die fees staan SecureMed reg om feesgangers wat medese aandag mag benodig, met sorg by te staan.

Algemene navrae

Vir algemene feesnavrae, skakel 021 406 2450.

Die Suidoosterfees word geborg deur die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Kunstekaap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top