Persverklaring: Maak Paasfees ’n kosfees met Woolies en Minki

  • 1

Foto: Via

Maart en April is ’n bonanza van langnaweke, eers met Menseregtedag, dan Paasnaweek, en uiteindelik die salige dae rondom Vryheidsdag einde April.

Met die oog op dié welverdiende rustyd in ’n jaar wat vir baie mense met stampe en stote begin het, bring VIA (DStv-kanaal 147) vir kykers ’n spesiale kosprogram met die minlike Minki van der Westhuizen as aanbieder: ’n Woolies Paasfees met Minki. Dié program word op 22 Maart om 17:30 vir die eerste keer uitgesaai en word dan herhaal tot en met 4 April.

Minki roep in dié kosprogram die hulp in van drie uiteenlopende sjefs wanneer sy en haar gesin die langpad vat vir ’n naweek weg. Wie is dan lus vir baie moeite? Gelukkig is Woolies se kosrakke vol smullekker bederwe wat beteken tyd met jou geliefdes is nie afsloofwerk in die kombuis nie.

Yolani Abrahams, wat reeds tevore haar debuut gemaak het op VIA en gewys het kosmaak kan ook ’n lekker kuier wees, pak vir Minki en haar gesin ’n piekniek: Verbeel jou ’n “slaai-pizza” met ’n stroopsoet skyf waatlemoen as die basis, en heerlike forel bo-op. Vir die soettande het Marli Roberts, hoof van produkontwikkeling by Woolworths Foods, ’n meringue-verrassing uit Woolies se toetskombuis.

Aandete is om die vuur met die bobaasbraaier Clement Pedro, die bekende sjef en Taste-medewerker, wat sy kole ken. ’n Woolies-Paasbolletjie met ’n sjokolade-malvalekker in die middel en gebak in ’n jaffle-pan is net een van die lekkernye wat hy opdis.

En Sondag staan Jacques Erasmus van die ikoniese Kaapse restaurant Hemelhuijs nader vir ’n Sondagbederf: ‘n indrukwekkende ontbeende lamsboud voorgesit met artisjokke, olywe, hummus en eksotiese baba-aartappels. En natuurlik is daar iets soets ook: ’n watertandlekker koek versier met Nutella, Paaseiers en sjokoladehasies. Paasfees is vir almal. Wat ook al die rede waarom jy dié langnaweek vier, dis tyd vir saamwees en tot rus kom – en meer tyd met jou mense en minder tyd in die kombuis. Woolies maak dit moontlik, en Minki en haar vriende wys jou hoe.

’n Woolies Paasfees met Minki word aangebied in vennootskap met Woolworths. Kry die resepte uit dié spesiale program in Afrikaans op netwerk24.com (gratis) en in Engels op taste.co.za. Maak jou inkopielysie en kry alles wat jy nodig het vars van die rak by jou naaste Woolies-winkel. Of bly veilig tuis, en bestel aanlyn.

  • 1

Kommentaar

  • Was n wonderlike uitsending. Dankie, Via. Net een vraag ... miskien 2.
    Waar koop ek daardie “cucumber melons” wat julle saam met die gerookte salm bedien het.
    Ook daardie pienk crackers. Ek het in die Noordelike voorstede van Kaapstad by 'n paar takke van Woolies gaan soek. Hulle selfs “screenshots” van die program gewys maar niemand ken dit nie. Help my asb. Dit lyk amazing. Baie dankie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top