
PEN Afrikaans nooi ons lede, ondersteuners en ander belangstellendes om in te skakel vir ons jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika. Dit word vanjaar deur Lourensa Eckard gelewer.
Lourensa Eckard is ’n joernalis, veldaanbieder vir Carte Blanche en die aanbieder van die aktualiteitsprogram ‘In Gesprek met Lourensa Eckard’ op kykNET.
Die lesing vorm deel van ’n lesingreeks waarmee PEN Afrikaans in 2023 begin het. Max du Preez het die eerste lesing gelewer in ’n vol saal as deel van die Woordfees se Diskoersprogram daardie jaar. Daarná was die ondersoekende joernalis, Karyn Maughan, aan die beurt tydens die simposium wat PEN Afrikaans in 2024 by SASNEV in Pinelands aangebied het. In 2025 het die veteraan joernalis Marianne Thamm die lesing by die Breytenbach Sentrum in Wellington gelewer.
Hierdie lesing is dus al ’n instelling op PEN Afrikaans se jaarprogram, maar word vanjaar vir die eerste keer via Zoom aangebied. “Die aanlyn formaat maak dit waarlik ’n toeganklike openbare lesing oor ’n saak wat deel is van die grondslag en beweegrede vir ons organisasie, en dié van ons moederorganisasie, PEN International, naamlik die belangrikheid van media- en uitdrukkingsvryheid. Almal is welkom om by ons aan te sluit hiervoor,” sê Catrina Wessels, bestuurder van PEN Afrikaans.
Bywoning is gratis. RSVP asseblief by penafrikaans@gmail.com om die Zoom-skakel te ontvang.

