Persverklaring: Lize Beekman se nege jaar van stilte eindig hier en nou!

  • 0

Aanhangers van gehalte-Afrikaanse musiek en liriek kan uiteindelik regstaan vir sanger-liedjieskrywer Lize Beekman se nuutste album getiteld Hier en nou, wat in November 2020 uitgereik word. 

In die nege jaar sedert haar vorige album het daar baie in Lize se lewe gebeur wat haar musiekpad vir eers tot stilstand gebring het, maar met ’n loopbaan van 23 jaar tree sy nou weer na vore met ’n uitsonderlike versameling liedjies - waarskynlik van haar beste werk ooit. "Soos die titel van die album sê was ek hier en nou gereed en opgewonde om weer ’n album op te neem.  Dit was ongeforseerd en nie gebore uit verwagting nie, maar eerder vanuit ’n plek van vrede en vreugde. Dis ’n omarming van my passie vir die kreatiewe proses van skryf en die pad wat mens stap met die materiaal tot by ’n voltooide album," sê sy.

Lize het ook vir die eerste keer haar musiek in die vaardige hande van Mauritz Lotz gesit wat verantwoordelik was vir die produksie en verwerkings. Mauritz sê: "Wat 'n voorreg om hierdie sielsverrykende musikale reis saam met Lize te kon aanpak. Die diepte en eerlikheid van haar 'songs' het nog altyd met my geresoneer. Dankie Lize, jy is 'n ware juweel vir Afrikaanse musiek. Mag jou musiek en woorde vir nog baie lank eggo in ons almal se harte."

Buiten die kitare wat Mauritz self gespeel het, het hy ook van ons land se beste musikante ingespan, soos Jaconell Mouton (klavier), Denny Lalouette (baskitaar) en David Klassen (dromme en perkussie). Die strykers is Susan Mouton, Evert van Niekerk en Esther Spies.

"Ek het in verwondering gestaan oor Mauritz se vermoë om nie net instrumentasie te skryf wat onder die lirieke en melodie lê nie, maar wat eerder met die essensie van elke lied vervleg is en dit komplimenteer. Ek het geweldig baie respek vir die gawe wat hy het, en die mooi van hierdie musikale reis saam met hom sal my altyd bybly." - Lize

Al die musiek en lirieke kom uit die skryfpen van hierdie gerekende liedjieskrywer, met die uitsondering van "Oase", wat ’n gedig van Deon Meyer is wat deur Lize getoonset is. ’n Verdere verrassing en bonus is dat Lize en Deon dit as ’n duet op die album sing en vir die eerste keer kan aanhangers van hierdie gewilde en wêreldberoemde skrywer ook sy sangstem geniet! Dit is opvallend hoe mooi dié twee se stemme saam werk. 

Verdere goeie nuus vir musiekliefhebbers is dat die lied "Steeds en altyd lief" ook ingesluit is op die album. Lize het dit ’n tyd terug geskryf vir ’n episode van kykNET se Suidooster, en dit was so gewild dat daar geweldig baie versoeke was vir ’n opname daarvan. Oplaas kan almal se dringende soeke nou tot ’n einde kom in hierdie besondere opname wat ingesluit is op die nuwe album.

Die lied "Kersgeskenk" is ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse kerslied-genre, met lirieke waarmee elke Suid-Afrikaner kan identiseer en daarmee saam ’n pragtige verwerking deur Mauritz.  Lize sê: "Elke jaar rondom kerstyd mis ek Afrikaanse kersliedere wat eg-Suid-Afrikaans is. Veral na ’n uitdagende jaar soos 2020, wou ek graag hê dat dit ’n bemoedigende lied moet wees wat herinner aan hoop en liefde uit ’n Hoër Hand." 

Die verlies van ’n geliefde en al die emosies wat daarmee gepaard gaan, is ’n realiteit in ons almal se lewens. "Kan alles net stil" het Lize drie maande na die verlies van haar sielsmaat geskryf en sy het daarna vir lank haar skryfpen neergesit. Nou, 8 jaar later, het sy die boek weer oopgeslaan by daardie hoofstuk en lewer sy ’n hartroerende vertolking wat enigeen ten diepste sal raak. 

Sy volg dit egter op met die deurlopende tema van vrede en hoop in die snitte "Sê nou maar", "Ek wonder", "Wag net ’n oomblik", "Jy is hier", "Geliefde my", en die titelsnit "Hier en nou".  Ook hierdie snitte is beduidend van nie nét Lize se groei as liriekskrywer en komponis nie, maar ook van ’n diepgewortelde emosionele reis, met liefde en empatie vir mense en die wêreld rondom haar. 

In ’n onderstebo wêreld kan die tydsberekening van "Hier en nou" nie beter nie, want dit is ’n album wat sal spreek tot mense se behoefte aan vertroosting, bemoediging en hoop, maar beloof ook om gewoon net lekker luistermusiek te wees, met van die mooiste lirieke in ons Afrikaanse musiekskatkis en blywende melodieë. 

Deon Meyer skryf oor om saam met Lize te sing

Ek het al in 2007 saam met Lize Beekman begin sing, kort nadat ek haar album Draadkar oor die See gekoop het.

Eers in die konsertsaal van die blou Jeep op pad Karoo toe. Later in die Rooi-Jeep-arena, al die liedjies op Sit n Bietjie Langs My. Ek het luidkeels en meegevoer aan dié duette deelgeneem, want haar stem en musiek en liriek doen dit aan mens. Dit sweer saam om jou te oorrompel, dit herstel jou geloof in alles wat mooi en goed is. Daar is insig en wysheid, deernis en opregtheid daarin, en as jy deel daarvan wil wees, moet jy saamsing.

Sy het natuurlik niks geweet van dié medewerking nie. Tot ek vir Lize persoonlik leer ken het met die maak van die rolprent Die Laaste Tango. Ek het vir haar gevra om ’n lied vir die fliek te skryf (sy het, die wondermooie Kom Ons Dans). Eers toe het ek die moed gehad om vir haar te sê van my begeerte om eendag net een liedjie saam met haar te kan sing. Sonder ’n gehoor, natuurlik, dalk net op die agterstoep van ons Karoo-huis, sou sy daar wou kom kuier. Sy het taktvol gesê dit sal lekker wees.

Natuurlik het besige lewens gesorg dat dit nooit gebeur nie. Ek was agterna skaam oor my voorbarigheid, seker dat al haar aanhangers dieselfde wens koester. Minstens het ons vriende gebly!

Toe ek en Marianne in 2019 getroud is, het ons elkeen vir mekaar een verrassing gereël. Myne was die wittebroodsbestemming, Marianne s’n vir my was om Lize te vra om tydens die seremonie vir ons te sing. Want my vrou weet presies waar my vreugdes lê.

Gedurende die onthaal het ek in my toespraak vir Marianne ’n gediggie voorgelees.  Coenie de Villiers en Lize het – sonder om ’n woord te rep – daar en dan besluit die gedig moet getoonset word. Lize het dit stil-stil gedoen, en saam met Coenie en kitaarmaestro Mauritz Lotz die musiek daarvoor opgeneem. Met vanjaar se Woordfees het dié drie kom kuier, en vir my en Marianne die komposisie gespeel. Dit was ’n onvergeetlike, knop-in-die-keel-oomblik.

En toe vra Lize of sy die liedjie op haar nuwe album kan insluit. Ons het gesê "natuurlik".

’n Paar weke later bel Lize. Sy sê sy dink dit moet ’n duet wees, en ek moet kom saam sing. Tydens die album-opname. Ek raak benoud. Baie. Want sing op die agterstoep van ’n Karoo-huis waar niemand jou kan hoor nie, is een ding. Maar amptelik, in ’n ateljee, is ’n groot storie. Sê nou maar ek kom nie die mas op nie? (En die ou gesegde van "be careful what you wish for" het ook kom knaag.)

Ek het senuagtig "ja" gesê, elke oggend hard geoefen, en eindelik vir die eerste keer die liedjie saam met Lize gesing, op ’n sonnige Sondagoggend in haar musiekkamer op Melkbosstrand. ’n Nie-amptelike oudisie, om te hoor of dié ding sou kon werk. Ek weet nou nog nie wie die meeste verlig was dat ek die noot so min of meer kon hou nie – ek of Lize.

Ondanks my voortdurende vrese dat ek haar teleur sou stel, was die daaropvolgende ateljee-opnames ’n heerlike ervaring wat ek vir niks sal verruil nie – veral danksy Lize, Mauritz Lotz en klankingenieur Jürgen se meelewing, positiwiteit, ervaring, professionalisme en geduld. Dié medewerking was loutere lekkerte, ’n reuse-eer en -voorreg, en vir my en Marianne onbeskryflik kosbaar.

BESKIKBAARHEID

Die album gaan beskikbaar wees op al die grootste aanlyn-platforms.  Diegene wat ’n harde kopie verkies kan dit aankoop op Lize se aanlynwinkel by www.lizebeekman.co.za en dit word gekoerier tot by jou voordeur!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top