
“Elke keer as ek met Afrikaans-onderwysers te doene kry, dan staan ek verstom oor wat hulle, desondanks alles, regkry.” Só het Antjie Krog al in 2007 haar agting vir onderwysers op LitNet uitgespreek.
“Dit bly ’n geheim dat soveel onderwysers dit geniet om gedigte te behandel. Dis ’n geheim dat Afrikaans-onderwysers téén vyandighede in leerlinge omhaal na Afrikaans.”
Antjie Krog is op Dinsdag 6 Mei die hoofspreker tydens LAPA Uitgewers en Penguin Random House se Skouerskuur met ons skrywers. Dié SOF Junior-geleentheid verwelkom alle onnies, leesliefhebbers en bibliotekarisse vir ’n heerlike middag in die geselskap van 14 skrywers.
Krog sal uitwei oor die wonderwêreld van klank, kleur en ritme in haar kindergedigte en sy gee ook ’n kykie in haar nuwe outobiografiese roman, Binnerym van bloed. Fiksieskrywers soos Martin Steyn, Christelle Wessels, Erla Diedericks en Elsa Winkcler sluit by haar aan om oor hulle boeke te gesels. Van ons bekendste kinder- en jeugboekskrywers soos Fanie Viljoen, Nanette van Rooyen en Jacolet van den Berg ruil dan ook idees uit oor hoe om kinders en klein lesers aan die lees te kry.
Dié spesiale gebeurtenis vind om 16:00 op 6 Mei in Kunstekaap se Operahuisportaal plaas en kaartjies kos R150. Feesgangers ontvang ’n geskenkboek en na afloop kan kaartjiehouers heerlik skouers skuur met die skrywers oor ’n glasie wyn en ’n vingerhappie. Kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.
Die volledige Suidoosterfees-program is hier.
Inspirasie, hulp en hope opvoedkundige pret vir onnies en leerders
By vanjaar se Suidoosterfees word onderwysers wat in Afrikaans klasgee saam met hul leerders op die hande gedra met ’n verskeidenheid aanbiedinge wat inspireer, bemagtig en die deure van opvoeding verder oopskuif.
Tydens die hooffees, van 30 April tot 4 Mei, en SOF Junior, die kinder- en jeugfees wat van 5 tot 8 Mei op die hooffees volg, is ’n rits teaterproduksies, kuiers saam met skrywers en opvoedkundige sessies op die program.
Penguin Random House is een van die uitgewersvennote van SOF Junior, en hulle bied van 5 tot 7 Mei ’n reeks skrywersgesprekke vir 4 500 leerders tydens dié minifees aan. NB-Uitgewers, die ander uitgewersvennoot, is tot 8 Mei teenwoordig met aanbiedinge uit hulle publikasiekraal.
Verlede jaar, toe SOF Junior die eerste keer aangebied is, is ongeveer 6 500 leerders van skole oral in Kaapstad en omgewing by Kunstekaap verwelkom. Vanjaar word feesbesoeke en SOF Junior-aanbiedinge dansky die ondersteuning van sleutelvennote moontlik gemaak sodat almal die fees kan bywoon.
Die Kaapse busdiens Golden Arrow help om kinders by die fees te kry, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) inkorporeer van die aanbiedinge in hul kurrikulum, Biggi Popcorn sorg vir springmielies, Oasis Water koel ons leerders af, en Huisgenoot en kykNET verskaf mediadekking.
SOF Junior is dus ’n projek waarmee Kaapse besighede en rolspelers hande neem om ’n verskil in die lewens van kinders en onderwysers te maak. Borge wat die Suidoosterfees onderskraag om infrastruktuur te skep, is die Wes-Kaapse regering, die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), die ATKV, die Cape Khula Stigting en Kunstekaap.
Die volledige SOF Junior-program hier.
Leesfees, aangebied deur LAPA Uitgewers en Penguin Random House
SOF Junior se Leesfees bring nege uitsoekskrywers na Kunstekaap om met onnies en leerders oor stories en die belangrikheid van lees te gesels. Vir baie van hierdie leerders is dit die eerste keer wat hulle na die Artscape kom, na ’n skrywer kan luister en ook na ’n dramaproduksie sal kyk. Elke leerder ontvang ’n kospakkie vir die dag.
Buiten die Skouerskuur-geleentheid vir onnies en grootmense waar Antjie Krog die hoofspreker is, kan skoliere in verskeie graadgroepe tydens praatjies kennis maak met van die gewildste Afrikaanse skrywers.
Maandag 5 Mei is Zuléka Smith, Heléne Booyens en Roslynne Toerien aan die woord met Stories, opwinding en pret vir kleingoed in graad RR tot graad 3.
Dinsdag 6 Mei is dit die graad 4 tot 5’s se beurt en dan gesels Fanie Viljoen, Peti Troskie en Lori-Ann Preston in Avonture vir almal! oor die adrenalien wat boeke bied.
Woensdag 7 Mei gesels De Wet Hugo, Eleanor Lombard en Felicia Snyman-Du Toit in Spanning, slim planne en ’n gevaarlike sending met graad 6 en 7’s oor die speurvernuf in hulle boeke.
Dié Leesfees vind in die Kunstekaap se Operahuis plaas en speel telkens voor ’n gehoor van 1 500 jong feesgangers af.
Storierak, aangebied deur NB-Uitgewers
NB-Uitgewers is teenwoordig op die SOF Junior-program met twee aanbiedinge: die gewilde verhoogstuk Woordedief vir leerders in die grondslagfase, en Om teen treine te skree vir hoërskoolleerders.
Woordedief is die tonekrul-storie van ’n stoute kalant wat nie sy hande kan afhou van woorde, stories, letters, sinne en sommer enige los gedagtes nie. Natuurlik tot groot ontsteltenis van kinders wat graag wil leer lees en spel en skryf. En graag die stories wil hoor uit NB-Uitgewers se voorgeskrewe boekies vir jong lesers.
Jong feesgangers word genooi om van 5 tot 8 Mei soggens om 09:00 in die Operahuis te kom help keer dat die NB-boeke – Pol Pou, Robbie Robot en Zietie By – nie in die ondeunde karakter se sak beland nie.
Dié vrolike, opvoedkundige produksie is propvol musiek en koddige karakters wat deur Eldon van der Merwe, Wian Taljaard, Kerscha Titus en Mia van der Merwe tot lewe gebring word.
Die boek Om teen treine te skree, ’n versameling dramatekste vir hoërskoolleerders, is die fokus van NB se tweede spesiale verhoogaanbieding. Die produksie bied gesprekke en uittreksels uit verskeie dramas wat in die bundel opgeneem is. Die samesteller, Tania Viviers, gesels met Margit Meyer-Rödenbeck, en daar is ook ’n paneelbespreking met van die dramaturge van wie tekste in die bundel opgeneem is.
Kwessies wat in die dramas ter sprake is en waarby skoliere en onderwysers wat die boek in die klaskamer gebruik, baat sal vind, word in diepte bespreek, soos die eienskappe van ’n dramateks teenoor ander vorme van skryf, karakterisering en teksontleding.
Om teen treine te skree is op 8 Mei om 12:15 op die Operahuisverhoog en kaartjies kos R50.
Klein Suidoosterfees
Die verhoog se geheim word deur die Suidoosterfees tydens SOF Junior aangebied. Dié holderstebolder avontuur stel laerskoolleerders bekend aan die verskillende genres wat mens in die teater kry.
Aan die stuur van sake is die bekroonde operaster en aktrise Lynnelle Kenned, en die akteur Eldon van der Merwe. Daar is geen tekort aan stories, grappe en kwinkslae terwyl hulle jong feesgangers opvoed oor die wonderwêreld van opera, toneel, ballet en kontemporêre dans nie. En daar is ’n hele filharmoniese orkes saam met hulle op die verhoog.
Kaartjies kos R50 vir die produksie wat op 5, 6 en 7 Mei om 11:30 in die Operahuis aangebied word.
Tussen al die verhoogpret deur word daar tydens SOF Junior verskeie interaktiewe kunsaktiwiteite vir jong mense by die Kunstekaap aangebied. Dié aanbiedinge maak jong besoekers bewus van goeie burgerskap deur verantwoordelikheid te neem vir ons omgewing en die natuur.
Die uitstalling Verminder, herwin, hergebruik, skep! fokus op herwinning en bevat kunswerke wat deur graad 7-leerders in verskeie Kaapse skole uit rommel geskep is. Die projek is die resultaat van ’n reeks werkswinkels by skole, en word in vennootskap met die WKOD aangebied.
Plastiek, nie so manjifiek! is nog ’n interaktiewe kunsprojek wat die skadelike impak van plastiekbesoedeling aanspreek. Fisieke teater, mimiek, klankontwerp en visuele elemente word in dié optreekuns-uitvoering gekombineer om kommentaar te lewer oor die samelewing se oorafhanklikheid van weggooiplastiek. Dit herinner SOF Junior-besoekers daaraan om hul gewoontes met plastiek drasties aan te pas.
Huisgenoot Kinderteater: 30 April tot 4 Mei
Tydens die Suidoosterfees se hoofprogram bring Huisgenoot prettige opvoedkundige teaterproduksies na die verhoog. Jong feesgangers gaan goed besig gehou word terwyl ouers, oupas en oumas ander feesproduksies geniet of rondloop tussen kosstalletjies.
Huisgenoot is ’n produksievennoot van die immergewilde Liewe Heksie en die wals wat Saterdag 3 Mei om 12:00 opgevoer word. Margit Meyer-Rödenbeck is agter en op die verhoog met Verna Vels se legendariese karakter wat altoos sukkel om ’n geheim te hou. Hierdie keer neem Heksie deel aan Blommeland se eie Strictly Come Dancing, en dit lei tot vele dramas en avonture.
Nog ’n produksie wat jong feesgangers gaan bekoor is Skoonlief en Die Ondier. Siobhan Taljaard het dié bekende sprokie vir Suidoosterfees-gehore aangepas, en dit word op Saterdag 3 Mei om 09:00 opgevoer.
Stephanie Hough en René Cloete is te sien in Storge, ’n pragtige kinderteaterstuk oor ’n klein houtmensie van Adamas, ’n dorpie waar die inwoners heeldag plakkers op mekaar plak. Storge vermoed dat dit mos nie reg kan wees nie, en dinge verander wanneer hy die plat-op-die-aarde Aggie ontmoet.
En in Stinkie, los uit! Don’t Touch! is Sjaka S. Septembir op die Huisgenoot Kinderteater-verhoog as ’n ondeunde karakter wat Meneer de Beer se huis moet skoonmaak. Maar Stinkie kan sy hande net eenvoudig nie weghou van dinge wat hy eerder moet uitlos nie!
Kry die volledige Huisgenoot Kinderteaterprogram hier.
Die Suidoosterfees se hoofborge is die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en die Kunstekaap.


