Persverklaring: Kyk na Kirky van Kirkwood se "Song vir Ma"

  • 2

Kirky van Kirkwood het in 2022 soos ’n vars briesie die Suid-Afrikaanse musiek- landskap ingewaai met haar suksesvolle debuut enkelsnit “Wie sê ’n vrou kan nie boer nie?”.

’n Tweede enkelsnit “Spring” het gevolg en kort daarna in 2022 het Kirky die kans gekry om saam met Esté en Lourens Rabé van RAAF te toer en op te tree. Vandag het sy reeds meer as 100 vertonings in ses provinsies saam met hulle agter die rug.

Die skryf van die nuwe liedjie “Song vir Ma” is geïnspireer deur ’n gesprek om ’n laatnagvuurtjie in Patensie.

Kirky vertel:

“Ek het vir Jakoos Scheepers van Patensie ’n boodskap gestuur om te vra of hy my sal begelei by ’n fees. Ek het hom van geen kant af geken nie, maar hy het steeds ingestem. Ek het by hom en sy vrou gaan kuier sodat ons kan voorberei vir die fees, maar ons haak toe vas in die Patensie Hotel se kroeg, soos wat die mense in klein dorpies maar doen. Uiteindelik is ons huis toe waar ons vuur aangesteek het. Die aand het toe oggend geraak en ek en Jakoos het oor redelik baie dinge gesels. Ons besef toe ons het iets ingemeen. Ek, Jakoos en sy vrou Hilde het almal een van ons ouers verloor. Ek wou nooit regtig oor die verlies van ’n ouer praat nie, maar om een of ander rede, as iemand deur dieselfde ervaring as jy is, praat ek makliker daaroor.  Ek is die volgende dag huis toe en sou die volgende week terugkeer sodat ons kan begin voorberei aan ons musiek. ’n Week het verbygegaan en ek is toe weer op pad na Patensie. Die gesprekke van die vorige week het nog die hele tyd in my kop gemaal en so 20km voor ek daar aangekom het, begin die idee van “Song vir Ma” in my kop speel en ek begin stemnotas daarvan maak. Ek het by Jakoos gestop en die liedjie was basies klaar geskryf. Ek gryp toe my kitaar en speel dit vir hom. Hy en Hilde het dadelik daarvan gehou en dit was vir my belangrik, aangesien hulle deel was van die proses wat tot die liedjie gelei het.”

Kirky stuur die liedjie toe na Loki Rothman en nie lank daarna nie, ontmoet hulle in sy studio (Rothman Records), waar die liedjie verfyn en opneem is. Kirky vertel:

“Dit was die derde liedjie wat ek by Loki gedoen het en dit bly ’n absolute belewenis om te sien hoe hierdie man werk.

“Ek is opgewonde om “Song vir Ma” uiteindelik uit te reik. My hele lewe lank kon of wou ek nooit oor my emosies praat nie en uiteindelik voel dit toe of daar ’n groot berg van my skouers af is. Ek het besef dat, as ek oor my emosies begin skryf, dit dan makliker is om daaroor te praat. Ek is trots op die persoonlike groei wat die skryf en sing hiervan vir my gebring het en hopelik kan dit vir iemand daar buite ook iets beteken.”

Die video vir “Song vir Ma” is vervaardig deur Esté Rabé en Ruben Oosthuizen. Die videomateriaal is meestal in Nieu-Bethesda geskiet, asook by Diamant Estate in Paarl.

Esté Rabé vertel dat RAAF dit hoog op prys stel dat Kirky saam met hulle toer en optree: “Kirky is rou talent. Sy skryf oor onderwerpe waarmee almal kan vereenselwig. Haar stem trek jou in en raak jou diep. Sy het hart. En sy deel dit ten volle!”

Lees ook:

Onderhoud: Kirky van Kirkwood sing dat ’n mens moet spring

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top