Persverklaring: Kunstekaap Women’s Humanity Festival

  • 0

Kunstekaap se Women’s Humanity Festival vier kragtige mylpale

Hierdie Vrouemaand is Kunstekaap ’n moet vir jou sosiale kalender. Tans in haar 17de jaar,  is dié sentrum gedurende Vrouemaand die fokuspunt van vrouebemagtiging en die kunste met die gewilde Women’s Humanity Festival, wat geïnspireer word deur die waagmoed van sowat 20 000 in hul opmars teen die paswette en onderdrukking op 9 Augustus in 1956. 

Die Artscape Women’s Humanity Festival beloof om deelnemers opnuut te bemagtig met die tema Milestones: celebrating, supporting, empowering women of yesterday, today and tomorrow.

Drie ikoniese vrouefigure sal as kragtige simbole van waagmoed gevier word: wyle Cissie Gool, die eerste swart vroueadvokaat wat tot die Kaapse Balie toegelaat is ter viering van 100 jaar van Vroue in die Regte in Suid-Afrika; die alombekende dramaturg van Langa, Fatima Dike, as die eerste swart vrou wie se drama gepubliseer en opgevoer is en wat spog met meer as 50 jaar in die bedryf, en laastens, die wêreldbekende skrywer en storieverteller Sindiwe Magona, wat haar 80ste verjaarsdag vier met twee boeke wat onlangs tot haar eer gepubliseer is.

Die Artscape Women’s Humanity Festival is in werklikheid ’n fees vir almal. Met die styging in gender-gebaseerde geweld, moet alles in die stryd gewerp word om kulturele opvattings, onregverdige godsdienspraktyke, aanstootlike taalgebruik en gedrag te verander wat aanhou om vroue te ontmens en objektifiseer. Dus omarm die Fees die LGBTQ+-gemeenskap met ‘AbFab’ (Absolutely Fabulous)-stories wat byvoorbeeld gaan daaroor dat jy jouself as ’n mens aanvaar. Die Artscape Women’s Humanity Festival sluit veral persone in wat lewe met gestremdheid – dikwels onsigbaar – “omdat hul lewens ook saak maak,” sê Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap.

Soos altyd, begin en eindig die alomvattende Women’s Humanity Walk op 9 Augustus – Nasionale Vrouedag – by die Kunstekaapplein en simboliseer die rol van vroue in hul strewe na vrede en geregtigheid. Almal – vroue, mans en kinders inkluis – word uitgenooi om hul stem hiervoor duidelik te laat hoor deur deel te neem in hul organisasie se kleure, uniform en vlae op die staproete in die historiese strandgebied Die roete kronkel langs drie vroulike standbeelde waar gedigte voor elkeen voorgelees sal word, met ’n reeks opwindende aktiwiteite wat wag by die teatersentrum, insluitend kunsvlytstalletjies, musiek en dans. “NGO’s, gemeenskapsorganisasies, moskees, kerke, alle gelowe en kulture is welkom,” sê Le Roux. “Kom stap saam op die Humanity Walk en laat ons ons gesamentlike, verenigde menslikheid vier!”

Wees ook op die uitkyk vir ’n spesiale konsert deur die internasionaal-bekende hip-hop-ster, Dope Saint Jude van die Kaapse Vlakte, wat spog met drie EP’s op haar kerfstok. Gebore in Elsiesrivier as Catherine Saint Jude Pretorius, het haar loopbaan as ’n drag-koning afgeskop. Sy beskryf haar oorspronklike komposisies as ’n klankbaan vir feministiese inklusiwiteit, aanvaarding en bemagtiging.

Afgestorwe ikoniese figure van die afgelope jaar wat onthou sal word, sluit in die talentvolle Gloria Bosman, Latozi ‘Madosini’ Mpahleni, struggle-aktivis Blanche la Guma en Kimendhri Pillay, seniorbestuurder by die New World Foundation, een van Kunstekaap se gewaardeerde belanghebbendes, en die bekende digter, Primrose Mwebi. Die eertydse vroue-hip-hop-groep Godessa wat lewe op die Kaapse Vlakte in hul musiek uitgebeeld het, sal ook onthou word. Wyle Jo-Ann Petersen, ’n geliefde Kunstekaap-kollega sal onthou word vir haar rol om hip-hop as ’n genre by die teater in te lyf.

Trekpleisters op vanjaar se program sluit in:

  • 1 Augustus: Uitstalling in die Marble Foyer insluitend Karen Bester se digitale werk She Had a Name.
  • 3 Augustus en 5 Augustus: My Kroon se Krank (drama) deur Veronique Jephtas (Slurpie-prys by KKNK Kanna-toekennings 2023) en Lynthia Julius.
  • 5 Augustus: Onderhoud en interaksie met die veteraan-dramaturg Fatima Dike.
  • 6 Augustus: Knit & Natter – Stitch-Along, ten bate van NOAH-tehuise vir bejaardes. Skenkings van wol of serpe is welkom.
  • 8 Augustus: 1 000 Women vier 20 jaar, met musiek deur marimba-orkes Women Unite.
  • 9 Augustus, Nasionale Vrouedag: Stalletjies; intergeloofsgebede; musiek deur die Cape Whalers Field Band; openingsrede deur Marlene le Roux en regter Rehana Parker; Women's Humanity Walk met poësievoordrag deur Elzana October, Diana Ferrus en Lebo Mashifane; optredes deur Jazzart, Cape Town City Ballet, South Roots International en ZipZap Circus, en 'n spesiale konsert deur hip-hop-ster Dope Saint Jude. FMR radio sal ’n spesiale uurlange Woman’s Show uitsaai wat deur Woman Zone vervaardig en aangebied word.
  • 9 en 11 Augustus: Do Not Fear The Past: A Mother’s Words, ter herdenking van 30 jaar sedert die moord op Amy Biehl, Kunstekaap-arena.
  • 12 Augustus: Boekbekendstelling van W is for Witness deur Karen Lazar. “Meeting of The Story Club” aangebied deur Balisa Nathi.
  • 14 – 19 August: He had it coming deur Mike van Graan, met Kim Blanche Adonis.
  • 26 Augustus: Bekendstelling van twee boeke wat onlangs vrygestel is ter ere van Sindiwe Magona wat haar 80ste verjaarsdag herdenk: I Write The Yawning Void en Sindiwe's Gift. ’n Voorlegging deur I See U se mentorskapprogram vir jong vroue.
  • 27 Augustus: FMR-konsert by Guga S’thebe in Langa.

Die Artscape Women’s Humanity Festival word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Stad Kaapstad, Wes-Kaapse regering en die nasionale departement van sport, kuns en kultuur.

Klik hier, of op die prent, om die volledige inligtingstuk af te laai.

Klik hier, of op die prent, om die volledige program af te laai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top