Persverklaring: Kunstekaap skitter met 55-jaar-galakonsert

  • 0

Kunstekaap se skouspelagtige galakonsert ter afsluiting van die gebou se 55ste bestaansjaarvieringe op Sondag 8 November is seker van die beste nóg in die geskiedenis van die ikoniese baken op Kaapstad se voorstrand.

’n Horingblaser verleen goedkeuring

Die uitgesoekte lys kunstenaars, kore, simfonieorkeste, musiekgroepe, ensembles, vertolkers en aanbieders het pragtig saamgesmelt en die tema vir die 55ste herdenking, “ ’n Plek vir almal” verhef tot ’n heilige mantra. 

Met egte Kunstekaap-swier, van die rooitapyt met seremoniële sjampanje-opening, opwindende toertjies deur Zip Zap Circus se kunstenaars en hip-hop-dansers wat besoekers uit alle gemeenskappe en agtergronde verwelkom, tot die asemrowende optredes op die Operahuisverhoog, het die publiek se voorkeurteater uiteindelik die donker spoke van die eertydse Nico Malan-teater ter ruste gelê.

Aanbieders Denise Newman, Thoko Ntshinga en Sandra Prinsloo, elk ’n verhooglegende in eie reg, het met grasieuse kalmte die sterbelaaide program verweef tot ’n lewende tapisserie van eg Suid-Afrikaanse uitdrukking, vreugde en gesamentlike viering, wat die Ubuntu-gees van “ ’n Plek vir Almal” beliggaam het.

Sangdivas Lynelle Kenned, Thembi Mtshali-Jones, Vicky Sampson, Zanne Stapelberg, Fancy Galada, Amanda Strydom, en Karin Kortje het geskitter langs Kaapstad se gunstelinge, onder andere Loukmaan en Emo Adams, Alistair Izobell, Jody Abrahams, Robin Pieters, Nuur Leeman en die genotvolle jong sangsterretjie Jodi Jantjies.

Afrikaanse musieklegendes Coenie de Villiers en Koos Kombuis het die kollig gedeel met die tradisionele musiekkunstenaar en kultuurhistorikus Dizu Plaatjies en die bekroonde digter, skrywer en dramaturg Siphokazi Jonas.

Kaapse jazz-liefhebbers was heerlik bederf met ikoniese ritmes en klanke van George Werner, Don Vino Prins, Wesley Rustin, en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, Cape Town Choristers, Laerskool Yellowwood-koor en die Ottomans Cape Malay Choir het bekoor met hul engelstemme, nostalgie, tale en stories oor ons kultuurerfenis.

Die energieke Betjiesfontein-rieldansers, Taare Indiese dansgroep met hul magiese tradisionele danse en die fantastiese ABFAB Drag-ensemble het kulturele wortels, kontemporêre style en universele emosies vermeng in ’n feestelike skouspel vol pure genot.

Die breër Kunstekaap-familie en sy geassosieerde kunsgeselskappe – waaronder Cape Ballet Africa, Elvis Sibeko Studios, Fine Music Radio, First Community Resource Centre, Jazzart Dance Theatre, Kaapstad Filharmoniese Orkes, Kaapstad Opera, Kaapstad Stadsballet, Taare Indian Dance Company, Unmute Dance Company, Woman Zone en Zip Zap Circus – was die goue draad wat deur die loop van die aand gestalte gegee het aan die gewyde leuse: ’n Plek vir Almal.

Die optredes in die voorportaal is gedoen deur Zip Zap Circus, Cape Town’s Most Wanted se hip-hop-dansers en die Women Unite-tromspelers onder leiding van die legendariese Thandi Swaartbooi, wat bygedra het tot die energieke en feestelike atmosfeer van die Kunstekaap 55-galakonsert.

Die Artscape 55 Gala Concert, vervaardig deur Kunstekaap se uitvoerende hoof, Marlene le Roux in samewerking met die bekroonde regisseur Basil Appollis, sal geslagte lank onthou en vereer word vir die betekenisvolle wyse waarop dit uiteenlopende Suid-Afrikaners onder een dak bymekaargebring het.

“Elke kunstenaar wat vanaand hier optree, is gekies vanweë hul eiesoortige reis saam met Artscape, en ook omdat hulle die uiteenlopende genres, gemeenskappe en stories verteenwoordig wat ons gebou deur die jare help vorm het. Hierdie aand weerspieël dekades se doelgerigte programmering en ons verbintenis tot die instandhouding van Artscape as ’n ruimte wat die Wes-Kaap en die breër Suid-Afrikaanse kunsgemeenskap na die beste van ons vermoë dien,” sê Marlene le Roux.

“Met hierdie 55-galakonsert vier ons ook ons land se visioenêre grondwet wat 30 jaar gelede geïmplimenteer is, asook die 70ste herdenking van die geskiedkundige Vroueoptog na die Uniegebou tydens die vryheidstryd. In hierdie gees vereer ons vier merkwaardige vroue in die teaterbedryf wat aanhou bou het aan hul kunsvorm — dikwels met groot uitdagings teen hulle — en wat steeds generasies van kunstenaars inspireer. Vanaand bring ons hulde aan Sandra Prinsloo, Denise Newman, Thoko Ntsinga en Amanda Strydom, wie se buitengewone bydraes tot die uitvoerende kunste verdien om gevier te word.

“Dít is wat hierdie gebou geword het: ’n lewende ontmoetingsplek waar verskille nie net verdra word nie, maar gevier word, en waar elkeen van ons die reg het om deel te neem aan die kulturele lewe van ons land. Dit is ’n plek waar ons stories, ons stemme en ons gedeelde menslikheid bymekaarkom. Die Artscape 55-galakonsert is ’n viering wat hierdie besonderse gebou én die nasie wat dit deur die jare omarm en gedien het, waardig is. Met die oog op die toekoms, mag Artscape voortgaan om ’n plek vir almal te wees, waar die kunste ons nader aan mekaar bring en ons herinner aan die rykdom van ons diversiteit,” sluit sy af.

Paul Siguqa, eienaar van Klein Goederust-wynplaas in Franschhoek, met ’n vonkelwyntjie. Van links David van Deventer, Paul Siguqa, Jabaar Mohamed, Thoko Ntsinga, Sandra Prinsloo, Marlene le Roux en Denise Newman

Ons betuig ons hartlike dank aan ons borge en vennote, die nasionale departement van sport, kuns en kultuur, die provinsiale departement van kultuursake en sport, die Stad Kaapstad, die ATKV, Dagbreek Trust, die Kiks, Paul Siguqa, eienaar van Klein Goederust-wynplaas in Franschhoek, On The Button Services (OTBS) vir klank, die Suidoosterfees, en die geassosieerde kunsgeselskappe, wie se ruim ondersteuning hierdie impakvolle werk moontlik maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top