Persverklaring: Kunstekaap se 55-galakonsert ’n triomf vir eenheid, insluiting en menslikheid

  • 0

Marlene le Roux en Amanda Strydom

Op Sondag 8 November het liefhebbers van die uitvoerende kunste uit alle oorde by die Kunstekaap opgedaag om ’n wonderlike skouspel te aanskou: ’n ware wonderwerk.

In hul deftigste klere het 1 500 besoekers erkenning kom betuig aan kreatiewe uitnemendheid, menslikheid, aanvaarding, eenheid, insluiting, veerkragtigheid en vryheid.

Aanlyn platforms gons onophoudelik en is vol lof vir hierdie geskiedkundige galakonsert wat mense bymekaargebring het – op die verhoog, in die voorportale, en op die piazza – in een groot viering van ubuntu; vir ’n staatsteater wat bevry is van sy donker verlede van uitsluiting en segregasie, en omskep is in ’n verwelkomende, warm ruimte waar almal tuis voel.

Wat ’n ongelooflike skouspel! Wat ’n gevoel!

Rieldansers – meestal plaaswerkers se kinders – wat dieselfde verhoog deel in dieselfde wêreldklasproduksie met hoogs opgeleide klassieke balletdansers uit welgestelde gemeenskappe; ikoniese Afrikaanse liedjiemeesters wat nostalgiese klassieke treffers lewer langs Mama Tembu van Ipi Tombi, saam met ’n Idols-wenner, ’n finalis van The Voice South Africa, en ’n Bollywood-vermaaklikheidster met ’n groot hart;  ’n verhewe “African Dream”-koningin en ’n jazz-diva wat op gelyke voet skitter langs uitmuntende operanagtegale; top- Kaapse jazz wat die magiese skaal balanseer met klassieke simfoniese meesterskap deur ons eie Kaapstadse Filharmoniese Orkes en hul jeugorkes; ghoema-liedjies en engelkoorstemme verenig in harmonie; ’n betowerende digter en ’n dowe danser wat diep waarhede verkondig; drag-kuns en sjamanistiese kontemporêre dans wat die heilige mantra oproep: ’n Plek vir Almal.

Die Artscape 55-galakonsert – wat ek doelbewus saamgestel het, in samewerking met direkteur Basil Appollis, ’n bekroonde veteraan in teaterproduksie met ’n diepe begrip hoe om ’n konsert te omskep in ’n kollektiewe genesingsdaad wat ons gemeenskappe onder een dak verenig en daardeur verklaar dat elkeen van ons saak maak – het presies bereik wat ons beoog het.

Een Kunstekaap-familie; een nasie!

As jy op 8 November daar was, sou jy met my saamstem. Nie ’n enkele persoon in die gehoor was onaangeraak nie. Die luidrugtige toejuiging, die samesang, liggame wat wieg, en die byna volmaakte uitvoering van elke liewe item op die program – so treffend gechoreografeer deur Nkosinathi Sangweni met die hulp van musiekdirekteur Trevino Isaacs – het die Operahuis laat straal van geluk en vreugde. My blye hart het geswel van absolute trots en dankbaarheid. Wat ek gesien het, was ’n verteenwoordiging van ’n verenigde nasie; ’n nasie wat trots en uitnemendheid deel; ’n nasie wat verwonderd staan ​​voor die wonderwerk dat ons een is, dat ons hier hoort, dat hierdie ons tuiste is – ’n Plek vir Almal.

Die wonder van hierdie geleentheid het nie net berus op die gehalte van die uitvoerings en ons toonaangewende verhoogtegnologie nie, maar ook op die wyse waarop elke kunstenaar met die hand uitgekies is: op grond van hul eiesoortige reis saam met Artscape, en wat uiteenlopende genres, gemeenskappe en verhale wat hierdie staatsinstelling oor baie jare heen gevorm het, verteenwoordig.

Amanda Strydom – een van die sterre op die program – se kragtige liriek “Ek kan rock in my taal” uit haar treffer “Hoor hoe brom die wind”, wat sy met oorgawe gelewer het, verkondig luidkeëls: Ons kan wees wie ons wil wees en onsself uitdruk sonder vrees vir oordeel!

Die Artscape 55-galakonsert het daardie ruimte geskep – of jy nou ’n gestremdheid het, en of jy van Mitchells Plain, die LGBTQIA+-gemeenskap, ’n plaas in die Cederberg, die ryk voorstede van Kaapstad, Khayelitsha, of Elsiesrivier is: Artscape is vir jou!

Simboliese balrok met diepe betekenis

Marlene le Roux hier saam met die skepper van die Kunstekaap-balrok, David Pamplin

Ek het ’n groen rok gekies vir die geleentheid – uniek ontwerp deur Kunstekaap se hoof van kostuums, David Pamplin – as ’n metafoor vir die Artscape-verhaal. David het ’n pragtige balrok geskep uit hergebruikte materiaal van verskeie produksies wat hy in een van ons stoorkamers gevind het – geskik vir ’n gala maar met ’n dieper betekenis. Die hoofgedeelte van die rok is van egte sy, met agt lae fyn kant (tulle) wat dit ’n balrok-voorkoms gee. Vir die bostuk en moue het David gaasstof gebruik, en die lyfie en romp met geborduurde blomme versier. Die rok se kleur stem ooreen met die groen en goud van Kunstekaap se 55ste herdenking.

Le Roux in haar simboliese rok

Die unieke Pamplin-rok is ’n verteenwoordiging van hoe inklusief Kunstekaap tans is sedert ons land ’n demokrasie geword het.  Die lae tulle verteenwoordig ons gelaagde erfenis; die blomme op die romp staan ​​vir al die verskillende kunsgenres, en die verskillende kleure vir Kunstekaap se inklusiwiteit: ’n plek vir almal. Die uitgesnyde vorms met blinkertjies waaraan die blomme geheg is, stel blomstingels/takke voor: die blomme en hul stingels of “takke” verwys na die uiteenlopende kunsvorme, geassosieerde geselskappe en die wyse waarop Kunstekaap uitreik en vertak na ons diverse gemeenskappe – wat sodoende saambindende optredes op ons verhoë moontlik maak. Die bostuk van die rok verteenwoordig die verhoog, en die moue met klokvormige mouboordjies, die gordyne.

Kleurvolle tapisserie weerspieël eenheid en eienaarskap

Teaterveterane Thoko Ntshinga, Sandra Prinsloo en Denise Newman het ekstra gravitas verleen aan die Artscape 55 Gala-konsert – hul eie goue veseldrade grasieus verweef met die uitstekende optredes op die verhoog in ’n pragtige tapisserie van eenheid, eienaarskap, behoort, uitnemendheid en egtheid. Die resultaat was onvermydelik: dawerende applous, breë glimlagte, gelukkige gesigte oraloor, teatergangers wat rondstaan en vashou aan die wonder wat ons bymekaar gebring het as een Artscape-familie, een stad, een nasie, en die heilige mantra – ’n Plek vir Almal – omskep het in ’n oorwurm vir dae aaneen.

As kunstenaars dit op een verhoog kan regkry – om die nasie te verenig en te vier wie ons is – dan glo ek vas dat ons land dit ook kan doen. Kunstekaap het dekades lank doelbewus programme ontwerp en geïmplementeer wat op spesifieke doelwitte gerig is. Ons omarm uiteenlopende kunsgenres, kwesbare groepe (insluitend die jeug, kinders en vroue), sowel as landelike en gemarginaliseerde stedelike gemeenskappe. Ons hou feeste wat ons land se grondwet vergestalt.

En op 8 November het ons gewys dat dit gedoen kan word as jy ’n span het wat in een visie glo en as ’n eenheid funksioneer. Kunstenaars is die bindmiddel wat ons samelewing nodig het om ons bymekaar te hou, ons sterkpunte as ’n nasie te erken en te vier, en na doeltreffende maniere te soek om die uitdagings wat ons verdeel, te oorkom. My pleidooi is daarom: Gee hulle hul regmatige plek.

  • Marlene le Roux is die uitvoerende hoof van die Kunstekaap-teatersentrum.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top