Met ’n bykomende borgskap van R200 000 word Kunste Onbeperk se Teksmark vir 2019 uitgebrei om benewens Afrikaans en Engels ook Xhosa-tekste in te sluit.
Dié aankondiging is Dinsdagaand, 4 September, met die afsluiting van die derde Teksmark in die Baxterteater gemaak.
Lara Foot, direkteur en uitvoerende hoof van die Baxterteatersentrum, het met die bekendmaking van die Baxterteater se borgskap van R100 000 die belang van die ontwikkeling van nuwe stemme beklemtoon. “Sonder tekste is daar nie teater nie,” het Foot gesê.
Met die geleenthede wat die Teksmark vir skrywers skep en die nuwe produksies wat uit die vorige twee jaar se Teksmarkte gekom het, het Foot begin speel met die gedagte om dié formaat uit te brei deur meer Engelse en ook Xhosa-tekste in te sluit. “Daar word niks weggeneem van Afrikaans nie, daar word bygevoeg. Onder die sambreel van die Baxter is alle tale, kulture en gelowe welkom. Op dié manier bou ons voort op die wonderlike inisiatief van die Teksmark.”
Foot se uitdaging aan ander borge om hul borgskap te ewenaar, het nie op dowe ore geval nie. Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), het R100 000 uit NATi se koffers bewillig. “Afrikaans as ’n inheemse taal staan naas die ander inheemse tale. Om die aanbod uit te brei, skep nog meer geleenthede.”
Vir Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk wat met die inisiatief van die Teksmark begin het, was dit nog altyd die droom dat die Teksmark uitgebrei kan word om Suid-Afrikaanse tekste te ontwikkel. “Ek is oorweldig deur die hoeveelheid mense wat dit bywoon, die gesprekke en besprekings. Dit is ’n veilige ruimte binne die teatergemeenskap waarin mense vrae kan vra en terugvoer gee oor die uittreksels wat as leesteater aangebied word. Almal word deel van die proses om teater te skep.”
Om die ontwikkeling van tekste ’n verdere hupstoot te gee, is daar drie skrywersbeurse aangekondig, juis met die doel om vir die skrywers tyd te koop om verder aan tekste te skaaf. Kunste Onbeperk en NATi het R50 000 vir Herschelle Benjamin bewillig, die Vrystaat Kunstefees en NATi R50 000 vir Du Toit Albertze en die Aardklop Nasionale Kunstefees en die Atterbury Trust R20 000 vir Kanya Viljoen – almal jong nuwe skrywers wat aan 2018 se Kunste Onbeperk Teksmark deelgeneem het.
Twee tekste wat reeds opgeraap is om opgevoer te word, is: Wildeals van Wessel Pretorius wat moontlik gemaak word deur Kunste Onbeperk, die Baxter, NATi en Aardklop; en Kôllemin die blouduif van Amee Lekas met Kunste Onbeperk, die Baxter, die US Woordfees en NATi as vennote. Lekas het met die eerste Teksmark haar debuut gemaak met Die dans van die watermeid, wat in 2017 by die Baxter opgevoer is en vir ’n Fleur du Cap vir beste nuwe Suid-Afrikaanse teks benoem is.
AK21, ’n klub wat die uitvoerende kunste ondersteun, het aangedui dat hulle vyf tekste vir al die lede gaan voorlê om vir finansiële ondersteuning te oorweeg: Die doop (Elsa Tirsa), Aas Poetica (Herschelle Benjamin), Mank (Kanya Viljoen), Sestig grade (Du Toit Albertze) en Die rol (Nicola Hanekom).
Theart het gesê met al die opwindende verwikkelinge is dit duidelik dat Kunste Onbeperk se Teksmark sy voete gevind het en nog ’n lang pad kan stap. “Wat vir my vanjaar veral verblydend is, is die jong stemme wat na vore tree. Die temas getuig van varsheid en skrywers wat hul vinger op die pols van die samelewing het. Hulle pak moeilike kwessies en vra vrae wat ’n mens uitdaag.”
Met 2019 se uitgebreide Teksmark glo Theart dit gaan van krag tot krag gaan en meer stemme sal die geleentheid gegun word om gehoor te word.
*Bauke Snyman se Swerfgoed, wat deel van 2017 se Teksmark was, word tot 22 September in die Golden Arrow in die Baxterteater in Kaapstad aangebied. Dit het by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gedebuteer, waar dit drie Kanna-pryse gewen het – onder meer vir beste nuutgeskrewe teks. Vir meer besonderhede besoek www.baxter.co.za.
Vir meer inligting kontak:
Retha Bornmann: teksmark@kunste.org.za
Hugo Theart: hugo@kunste.org.za

