
Die veteraanresensent Willie Burger het vir hom ’n plek losgeskryf op sowel die fiksie- as die niefiksiekortlys vir die Netwerk24 kykNET Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse, wat vanjaar vir die tiende keer toegeken word.
Sedert in 2016 met die pryse begin is, was Burger slegs twee keer nié op ’n kortlys nie, en hy het twee keer gewen.
Meer as 100 fiksie- en niefiksieresensies is ingeskryf vir die pryse, waarmee jaarliks erkenning gegee word aan uitmuntende Afrikaanse resensies oor Afrikaanse boeke wat in die vorige kalenderjaar verskyn het.
Die fiksie- en niefiksiewenner ontvang elk R50 000.
Die sameroeper van die keurpaneel, Bibi Slippers, sê dit was vanjaar ’n uitdaging om met die kortlyste vorendag te kom, omdat daar werklik ’n groot aantal baie goeie resensies in beide kategorieë ingeskryf is. Dit is ook waarom vier resensies in die fiksiekategorie benoem is.
“Ons benadering was om met ’n langlys van vyf gunstelinge per beoordelaar te werk, en dan te kyk waar daardie langlyste oorvleuel,” sê Slippers. “Die lyste was uiteenlopend, maar daar was in elke kategorie twee resensies wat onder al drie beoordelaars se top drie was, en altyd minstens nog een wat op twee uit drie langlyste verskyn het.
“As ek kyk na wat die resensies op die kortlyste gemeen het, dan kom die woord ‘outentiek’ by my op. Die resensente is eerlik en skryf uit ’n persoonlike oogpunt, bring unieke insigte en vars menings na die tafel in taal wat die leser laat regop sit – ongeag die variant of register, of interessante vermenging van variant en register.”
Die kortlyste is alfabeties volgens skrywer soos volg:
FIKSIE
- Willie Burger: LitNet-resensie oor Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach, 4 September 2024. LitNet: Onrus op Steynshoop
- Paul Kammies: “Nathan Trantraal se graphic novel oo hoe Bruin seuns 'n wound asse gift gegie is” oor Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal, in Klyntji, 15 Julie 2024.
Klyntji: Die man wattie kinnes vang - Ryan Pedro: “Assie lyke oppie nuus soes jou lyk” oor Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal, in Rapport, 26 Mei 2024. Rapport: Die man wattie kinnes vang
- Nathan Trantraal: “Roman oorie oolog is ’n epic” oor Rooisand deur Jeremy Veary, in Rapport, 3 November 2025 Rapport: Rooisand
NIEFIKSIE
- Willie Burger: “Daar is nie iets soos ’n ‘mooi dood’ nie” oor Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus in Plus 50, Junie/Julie 2024
- Lindie Koorts: “Jopie Fourie: Hoog tyd vir bietjie feite” oor Jopie Fourie: ’n Besinning deur Albert Blake in Rapport, 15 September 2024. Rapport: Jopie Fourie
- Danie Marais: “Steeds geen pretensie, genadiglik meer beheer” oor Hoe ek dit onthou deur Francois van Coke en Annie Klopper, Netwerk24, 11 November 2024. Netwerk24: Hoe ek dit onthou
Bibi Slippers se medekeurders was Azille Coetzee en Kirby van der Merwe.
Die wenners word op Saterdagaand 27 September 2025 in Kaapstad aangekondig saam met die wenners van die Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse.
Lees ook:


Kommentaar
Welgedaan aan al die benoemdes, Mimie de Vries
Ek het nie eens geweet mens kan inskryf vir resensies nie. Ai.
Hartlik geluk aan die kandidate - en geluk by voorbaat aan die wenners. Resensies is onlosmaaklik deel van die bedryf, en nodiger as wat mense mag dink.