Persverklaring: Komediante gaan mense laat skater én nadink by Suidoosterfees

  • 0

Komedie staan sterk op vanjaar se Suidoosterfeesprogram met Wynand Kotze, Riaad Moosa, Conrad Koch, Rob van Vuuren, Stuart Taylor en Mel Jones wat feesgangers se lagspiere gaan prikkel. Die fees vind van 27 April tot 1 Mei 2022 by Kunstekaap in die Moederstad plaas.

Wynand Kotze, bekend vir sy manewales in WynVirDiePyn op TikTok, gaan grense uitdaag in Onsmaaklik. Die komediant plaas die begrippe onsmaaklik en onsmaakvol onder die vergrootglas en lewer kommentaar oor mense se houdings teenoor dinge wat nie perfek in die samelewing se kassies pas nie. Kotze glo vas daar is net een manier om oor ernstige dinge te gesels, en dit is deur maniere te vind om daaroor te lag. Hy waarsku dat feesgangers beslis aanstoot gaan neem met die goed wat hy kwytraak, maar hope pret is gewaarborg.

In Onsmaaklik by die Suidoosterfees is Wynand Kotze, bekend vir sy manewales in WynVirDiePyn op TikTok, op die komedieverhoog.

Onsmaaklik is op 27 April om 20:30 op die planke. Die vertoning is nie geskik vir mense jonger as 16 nie en ouerbegeleiding word sterk aanbeveel.

Riaad Moosa gaan mense laat skater en nadink in Comedy Mash-Up by die Suidoosterfees.

In Comedy Mash-Up kom wys Riaad Moosa, Rob van Vuuren, Stuart Taylor en Mel Jones waarom hulle so ’n gesogte reputasie onder komedie-entoesiaste het. Die grapjasse steek die draak met alles onder die son, en hulle maak korte mette van Suid-Afrikaners se unieke vooroordele en perspektiewe op die wêreld. Comedy Mash-Up gebeur op 27 April om 17:00 by die fees.

Conrad Koch en sy berugte marionet Chester Missing is te sien in Nice Racists by die Suidoosterfees.

Conrad Koch en sy berugte marionet Chester Missing gaan feesgangers laat skater en terselfdertyd opvoed in Nice Racists. Die komediant, wat ’n meestersgraad in sosiale antropologie het, sê die vertoning is ’n prettige manier om rassekwessies te ondersoek. Konfronterende vrae gaan in die vertoning op 30 April om 12:30 gestel én beantwoord word, en mense sal ongetwyfeld met ’n breë glimlag uitstap.

Al die komedie-vertonings word in die Suidoosterfees se Zip Zap Dome aangebied en kaartjies kos R125. Besprekings kan by Computicket gedoen word, en die volledige feesprogram is beskikbaar by www.suidoosterfees.co.za.

Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-veiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te kry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.

Die Suidoosterfees word ondersteun en moontlik gemaak deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top