
Die jaarlikse Suidoosterfees is om die draai en die kunstewind gaan van 27 April tot 1 Mei behoorlik by Kunstekaap woed. ’n Verskeidenheid produksies in musiek, teater en dans, asook interessante boekgesprekke is op die program. Nataniël, Brendon Daniels, Dean Smith, Antoinette Kellermann, Charlton George en Frank Opperman is maar enkele van die kunstenaars wat feesbesoekers aan hul voete gaan hê.
Vanjaar is dit net net feeskaartjies wat teen bekostigbare pryse aangebied word nie. Met die Premier Hotelgroep as die Suidoosterfees se amptelike verblyfborg kan feesgangers in die grootste gemak en teen ’n billike tarief in die Moederstad oorbly. Die fees se kunstenaars gaan eksklusief by die Premier Hotel in Seepunt tuis. Feesgangers kan dus om die ontbyttafel of in die hysbak lekker skouers skuur met bekendes.
Die pragtige hotel is ’n paar treë van die gewilde promenade in Seepunt geleë – die ideale plek om mens se gedagtes tydens ’n wandeling skoon te kry en al die wonderlike feesopvoerings te verwerk. Boonop is ’n geskeduleerde pendeldiens tussen die hotel en Kunstekaap beskikbaar sodat feesgangers nie self deur die verkeer te moet vleg nie.
Verblyf beloop R1 400 per nag vir twee persone wat minstens twee nagte bly, en sluit ’n heerlike ontbyt in. Besprekings kan gemaak word op die internet of direk by die hotelgroep se sentrale besprekingsdiens: 086 111 5555; customercare@premierhotels.co.za.
Die feesprogram is beskikbaar by www.suidoosterfees.co.za en kaartjies by Computicket. Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-pandemieveiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te verkry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

