Persverklaring: Klein Karoo Klassique is terug

  • 0

Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek is terug en vind vanjaar op 27 en 28 November plaas.

"Dit is so wonderlik om weer die fees van klassieke musiek in Oudtshoorn te kan aanbied, en so ook die Feesseisoen in te lei. Almal word uitgenooi om ontvlugting te kom geniet en saam met ons in die Klein Karoo asem te skep," sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Klein Karoo Klassique.

"Sonder die Rupert Musiekstigting, wat vanjaar vir die agtste keer by Klassique betrokke is, sou hierdie fees nie moontlik gewees het nie. Sluit by ons aan vir 'n somer viering van die land se voorste klassieke musici op Oudtshoorn, met 'n program wat iets vir elke klassieke musieksmaak bied."

Die fees begin op Saterdag 27 November om 10:00 met Guy Buttery en die Gqeberha-kwartet. Saam versterk David Bester (viool), Jan-Hendrik Harley (altviool), Lynn Daphne Rudolph (altviool), Mariechen Meyer (kontrabas) en Guy Buttery (akoestiese kitaar, sitar en mbira) die musikale interaksie tussen kontemporêre klassieke musiek en Buttery se kenmerkende komposisie-styl. Elke lid van die kwartet word as 'n unieke musikale stem hanteer, wat unieke stryk-teksture tot gevolg het.

Saterdag om 15:00 keer Nina Schumann, een van Suid-Afrika se voorste pianiste, vir die eerste keer sedert 2012 terug na Oudtshoorn vir Skoonheid in variasie/Variasie in skoonheid. In hierdie uitvoering dien die kombinasie van vier komponiste – Bach, Mendelssohn, Rachmaninoff en Medtner – se werke, nie net om die tradisionele variasievorm en die "herkomposisie" daarvan uit te lig nie, maar ook die gesprek tussen komponiste op grond van gedeelde estetika.

Renee van der Westhuizen (tweede viool), Emile de Roubaix (altviool), Dane Coetzee (tjello) en Petrus de Beer (eerste viool) bied Saterdag om 18:30 'n Skemerkonsert by Karusa aan, met 'n program van gewilde klassieke musiek, musiek uit musiekblyspele, bekende filmmusiek en selfs 'n paar klassieke verwerkings van hedendaagse populêre treffers. Dié uitsonderlike strykkwartet bied werke van Mozart tot Andrew Lloyd Webber, Katy Perry tot Bach, met die Karoo-sonsondergang as agtergrond vir 'n klassieke opelugervaring. Gaste kan vroeg aanmeld vir Karusa se a-la-carte spyskaart en 'n heerlike familie-aand onder die Karoo-sterre.

Klassique sluit op Sondag 27 November om 11:00 af met 'n Barok-Kersfees. Vir hierdie uitvoering bied lede van die Kaapstad Barokorkes [Lynelle Kenned (sopraan), Joshua Frank (blokfluit), Erik Dippenaar (klavesimbel en musikale leiding)] 'n program van Kersmusiek uit die Barok aan, waarvan vele werke steeds in ons gereelde Kers-repertoire ingesluit is. Die program sluit uittreksels uit Handel se Messiah en Corelli se Kersfees-concerto in, soos in rondom 1780 deur Thomas Billington vir klawerbord getranskribeer, asook gewilde Kersgesange soos Isaac Watts se Joy to the World uit 1719, en O come, all ye faithful uit die mid-1700's. Die musiek word aangevul met gepaste voorlesings deur Sandra Prinsloo.

"Daar is 'n spesiale kaartjiepakket vir al vier uitvoerings beskikbaar, teen 'n besparing van 20%. Kaartjies kan aanlyn by Quicket gekoop word. Bring die hele familie en kom geniet hierdie viering van musiek saam met ons," vertel Theart.

Theart herinner musiekliefhebbers ook aan Coenie de Villiers en Deon Meyer se spesiale vroeë Kerskonsert. Gehore regoor die land was gaande oor De Villiers en Meyer se Karoo Suite 1 & 2 en nou het die twee meesters en Karoo-liefhebbers 'n spesiale vertoning, Karoo-Kersfees saamgestel wat op 25 en 26 November om 19:00 by die pragtige Surval Boutique Olive Estate net buite Oudtshoorn opgevoer word. Karoo-Kersfees beloof om 'n onvergeetlike en spesiale ervaring vir die hele gesin te wees. Kaartjies is beskikbaar by Quicket. 

En dan is daar ook Celebratio Granaatplaas se spesiale ervaring, Klassieke Klein Karoo Kersfees, op 11 Desember. Dié buitelugkonsert onder die Klein Karoo se pragtige sterrehemel, het die afgelope paar jaar 'n instelling in die Klein Karoo geraak. Die produksie spog vanjaar met 'n splinternuwe program en die soprano Lynelle Kenned wat vir die eerste keer haar buiging maak. Sy deel die verhoog met die immergewilde Jannie Moolman en Corlea Botha. Die soliste word begelei deur lede van die Stellenbosch Stadsorkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenburg. Kaartjies is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by die Oudtshoorn Postnet-kantoor. Die plaas is sowat 30km van Oudtshoorn op die Ou Sementpad geleë.

Meer inligting oor al hierdie uitvoerings is beskikbaar by www.klassique.co.za of kontak 044 203 8600.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top