Persverklaring: Klassique bring fenomenale soliste na Oudtshoorn

  • 0

Die sopraan Alida Scheepers gaan by die ATKV-Galakonsert met Kaapstad Opera tydens die 14de Klein Karoo Klassique optree.

Twee wenners van 2023 Fleur du Cap-pryse, ’n Judith Neilson Jong Kunstenaar, veelbekroonde musici in beide internasionale en plaaslike kompetisies en ’n energieke operaprogram wat noukeurig saamgestel.

Dít is wat die gehoor by die ATKV-Galakonsert met Kaapstad Opera op Saterdag 5 Augustus tydens die 14de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn kan verwag.

Vier Kaapstad Opera-soliste sorg vir ’n onvergeetlike hoogtepunt by dié klassieke musiekfees. Soprane Brittany Smith en Alida Scheepers deel die verhoog met tenoor Lukhanyo Moyake en bariton Conroy Scott, begelei deur José Dias op klavier.

Smith en Scott is in 2023 bekroon met die Fleur du Cap-pryse vir beste vroulike en manlike optredes in ’n opera, vir hul vertolkings in Kaapstad Opera se Le Nozze di Figaro. Vir Smith was dié prys onverwags. “Dit het eers omtrent ’n week en ’n half later vir my ’n realiteit geword. Die Fleur du Cap is erkenning vir my harde werk en streng werksetiek. Dit is die eerste tree na hopelik nog vele teaterpryse.”

Vir Scott is dié prys bevestiging van die loopbaan wat hy as musikant en veral operasanger gekies het. “Die ontvang van hierdie prys versterk my begeerte om beter te doen. Dit is een van my hoogtepunte as operasanger, as musikant en hopelik lei dit tot nóg groter geleenthede, beide vir my as individu, maar ook vir die operageselskap in geheel,” sê Scott.

Lukhanyo Moyake is een van die vier Kaapstad Opera-soliste wat tydens die 14de Klein Karoo Klassique se ATKV-Galakonsert gaan optree.

Scott was in 2021 by Klassique in die opera La Bohème te sien en sê hy sien daarna uit om vir die ATKV-Galakonsert voor ’n Klein Karoo-gehoor op te tree sonder enige Covid-19-beperkings. “Ek sien veral daarna uit om weer die reaksie van gehore op hulle gesigte te sien. Om daardie konneksie met die gehoor te hê is iets wat ons werklik tydens Covid-19 en al die beperkings gemis het.”

Moyake was saam met Scott op die verhoog in La Bohème en is opgewonde om voor ’n groot gehoor in Oudtshoorn op te tree. “Feesgangers gaan bekoor word deur die goeie musiek, van opera tot musiekblyspele en opwindende duette.”

Magdalene Minnaar, artistieke direkteur van Kaapstad Opera, sê hulle het spesiaal vir Klein Karoo Klassique hoogtepunte uit opera-arias en musiekblyspele van twee groter programme wat hulle vanjaar aanbied, bymekaargesit. “Dit bied vir operakenners iets nuuts wat hulle moontlik nog nie gehoor het nie, maar ook ou bekende en wonderlike operatreffers vir diegene wat nuwer tot opera is. José Dias het die program saamgestel en is ’n ongelooflike musikale regisseur. Die program is energiek, treffend en daar is nie ’n dooie oomblik nie.” 

Uitgereik op 10 Junie 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top