
Klassieke melodieë en tydlose liedjies in die Blaauwklippen katedraal aangebied om die wynplaas se 340ste bestaansjaar te vier.
Die sopraan Lynelle Kenned en pianis Elna van der Merwe tree saam met die WindWorx Symphonic Wind Ensemble en die dirigente Pamela Kierman en Riaan van Wyk op.
Die oudste wynplaas in Stellenbosch gaan op 9 November hulle 340ste bestaansjaar met ’n spesiale konsert in die Blaauwklippen Katedraal vier. Blaauwklippen, wat in 1682 gestig is, se naam verwys na die kleur van die granietklippe wat op die plaas gevind kan word. Blou is daarom die tema van die klassieke melodieë en immergroen liedere wat vir hierdie landgoed met ’n ryk geskiedenis en wynmaaktradisie se verjaardagkonsert gekies is.
Die Wynlandse boorling en wêreldbekende sopraan, Lynelle Kenned, gaan van haar mees geliefde liedere sing, wat wissel van klassieke tot gewilde moderne musiek. Die virtuoospianis, Elna van der Merwe, van Stellenbosch gaan Gerswhin se “Rhapsody in Blue” vir klavier en orkes uitvoer om die program af te sluit.
Van die hoogtepunte op die program is Blue Tango, Blue Mambo en The Blue Danube. Lynelle Kenned sal ook die gehoor bekoor met haar weergawe van Frank Sinatra se Blue Moon.
“Rhapsody in Blue” van George Gershwin is in 1924 vir die eerste keer in New York uitgevoer en is steeds een van die mooiste en bekendste simfoniekomposisies vir koperblaasinstrumente en die klavier wat ’n nuwe era van modern musiek ingelei het.
Konsertbesonderhede:
- Datum: 9 November 2022
- Plek: Blaauwklippen Katedraal
- Sitplekke: Algemene toegang
- Hekke se oopmaaktyd: 18h00
- Konsert se begintyd: 19h00 (Die konsert duur 80 minute))
Kaartjiepryse:
- R 395: Slegs konsert
- R 790: Konsert en driegangmaaltyd by die Blaauwklippen Restaurant na die konsert
Kaartjies is slegs aanlyn te koop by www.plankton.mobi.


Kommentaar
Ek wil graag twee kaartjies vir die konsert koop.
Elise, soos in die persverklaring genoem, kan jy kaartjies aanlyn by http://www.plankton.mobi koop.