Persverklaring: KKNK25-Verjaardagvieringe duur voort

  • 0

KKNK25 is in volle swang en die voorsorgmaatreëls wat organiseerders in plek gestel het om beurtkrag te bestuur, het verseker dat die eerste dag vlot verloop het. Alle vertonings het betyds begin en verskeie debuutproduksies soos Koningin Lear, Katvoet, Non met Vakansie en Statements after an Arrrest under the Immorality Act het met groot sukses geopen.

Op die tweede dag van die fees kan besoekers en feesgangers uitsien na ‘n paar besonderse debuutproduksies.

Op die musiekfront word 25 jaar se woord en klank gevier met ’n nuwe produksie, 25: Oud en nuut in die Outeniqua. Dié produksie wat reeds amper uitverkoop is, bring verskeie kunstenaars wat oor die jare betrokke was by die fees op een verhoog bymekaar waaronder Koos Kombuis, Amanda Strydom en Margit Meyer-Rödenbeck. ’n Hoogtepunt van die produksie is die spesiale reunie van die gewilde sanggroep Cutt Glas met Karen Meiring, Anna Davel, Heidi Edeling, Jolette Odendaal en Bondina Oosterhof. Dit sal die eerste maal in bykans ’n dekade wees dat die groep saam optree. Die musikante, kunstenaars en storievertellers neem feesgangers op ’n reis deur die dekades met van die mees geliefde liedjies en staaljies.

Een van die vereerdes by vanjaar se fees, die talentvolle Lynelle Kenned, bring ook ’n nuwe vertoning op die planke. Kunste Onbeperk se jong Stem-vereerde is te sien in die debuutmusiekproduksie 1/1 Lynelle Kenned, waarin sy die vergestalting van vrouewees en menswees verken.

Die drama Bloed en Bodem is ook van vandag by die fees te sien. Die bekroonde Melk & Vleis-span bring hierdie eg Suid-Afrikaanse verhaal met Stian Bam, Albert Pretorius, Carla Smith en Obed de Koker op die planke.

Wat kontemporêre musiek betref, word aanhangers van ligte, Afrikaanse musiek omtrent bederf met Die Groot Huisgenoot-konsert. Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Leah en Demi Lee gaan die skare beslis op hul voete hê.

Die ATKV-Boeke-oase is ’n fees vir boekwurms. Leesvrate kan dalk net een van hul gunsteling skrywers  skuur hier skouers en verskeie boekgesprekke gee leesvrate die kans om te luiste en te debatteer.

KKNK25 se volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir produksies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home aangeskaf word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600, of verblyf@kknk.co.za gedoen word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top