Persverklaring: KKNK25 en visuele kunsuitstalling op luisterryke wyse geopen

  • 0

Vanjaar se 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees is gisteraand by die Prince Vintcent-gebou in Oudtshoorn amptelik in die hartjie van die Klein Karoo geopen. Die opening het saamgeval met die bekendstelling van die visuele kunsuitstalling by vanjaar se fees.

Verskeie sprekers waaronder die voorsitter van Kunste Onbeperk Crispin Sonn, die artistieke direkteur van die KKNK Hugo Theart en ’n voormalige voorsitter Dr. David Piedt, het die gehoor toegespreek. Piedt wat van 2001 tot 2006 voorsitter was, sê die KKNK is ’n instelling. “Die KKNK het diep spore in die Suid-Afrikaanse kunste getrap en die weg vir vele ander feeste gebaan. Die voortbestaan van feeste is egter nie moontlik sonder strategiese vennootskappe nie”, sê Piedt.  

“Borge is onontbeerlik vir die oorlewing van enige fees in die land en die KKNK is dankbaar vir Absa se volgehoue en lojale ondersteuning”, sê Sonn. Hy het bygevoeg dat die visuele kunste ’n groot deel uitmaak van die fees en dat Absa se ondersteuning hier van onskatbare waarde is. KKNK25 se visuele kuns-kurator Lucia Boer sê vanjaar se terugblikuitstalling van alle vorige kunstenaars oor die laaste kwarteeu, is juis ’n viering van diegene wat in die verlede ’n bydrae tot die fees gelewer het.

Dr Paul Bayliss van Absa, die gesamentlike kurator van die Maakit Mooi-uitstalling van funksionele kunswerke is, sê dié uitstalling is vir die gemeenskap. “Dit is ook waarom die kunswerke in Oudtshoorn agterbly na die fees - vir die  gemeenskap en besoekers om te geniet”, sê Bayliss.

Vir die kwarteeu-vieringe van die fees vanaf 21 tot 27 Maart is ’n spesiale program saamgestel wat nie net opwindende nuwe produksies bied nie, maar ook ’n bestekopname is van die bydrae van dié fees tot die kunste.

Theart sê die KKNK is na 25 jaar steeds relevant en gewild onder Suid-Afrikaanse gehore. “Ons fees spreek tot die breër Suid-Afrikaanse kunstegemeenskap en ’n bonus is dat daar jaarliks ook internasionale betrokkenheid is. Feesgangers durf ook nie vanjaar uitmis op die klein juweeltjies nie,” voeg Theart by.

Die vlagskipproduksie by vanjaar se fees is die eietydse drama Koningin Lear. Dié drama is geskoei op Shakespeare se King Lear en herverbeel deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye en vertaal deur Antjie Krog. Swaargewigte soos Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe en Rolanda Marais is deel van die rolverdeling en Marthinus Basson is die regisseur en ontwerper. 

Vanjaar se fees bied ook ’n terugblik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Athol Fugard se Statements After an Arrest Under the Immorality Act, wat die eerste keer in 1972 opgevoer is debuteer by die fees en word aangebied deur die KKNK en die Fugard-teater.  

Theart sê die fees is reg vir beurtkrag. “Daar is kragopwekkers op alle strategiese punte en venues om te verseker die programskedule verloop volgens plan en om feesgangers se veiligheid op terreinne soos die Kuierbuurt en Baron van Reedestraat te verseker.”

 

Daar is steeds kaartjies en verblyf beskikbaar vir diegene wat die reWOLusie en KKNK25 in persoon wil beleef. KKNK25 se volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir produksies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home aangeskaf word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600, of verblyf@kknk.co.za gedoen word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top