Persverklaring: KKNK en Oudtshoorn skitter met Wes-Kaapse erkenning

  • 0

Foto verskaf: © Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport

Drie Kuns- en Kultuurtoekennings van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport is Dinsdagaand 26 September aan die KKNK oorhandig.

Hierdie toekennings erken jaarliks uitnemende bydraes tot die kunste, kultuur, erfnis, taal, biblioteke, argiewe, museums en geografiese name en is in 2023 vir die 21ste keer by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad oorhandig.

Verder tot die Kuns- en Kultuurtoekennings, het die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais, ook spesiale toekennings oorhandig.

Karoo Kaarte, die KKNK se bekroonde gemeenskapsgedrewe kunsteprojek, het die prys ontvang vir mees innoverende gemeenskapskunstefees. Hierdie projek, vanjaar ondersteun deur die ATKV, is ’n multidissiplinêre kunsteprogram wat op Oudtshoorn lewe kry. Karoo Kaarte draai rondom Oudtshoorn-stories en stel sodoende ’n lewende argief saam, met behulp van almal wat wil deelneem aan dié opwindende projek, wat reeds baie gedoen het om die KKNK een van die mees inklusiewe feeste in die land te maak. Die projek is deurlopende samewerking, gefasiliteer deur die visuele kunstenaar Vaughn Sadie en die teatermaker Neil Coppen.

Vanjaar is daar deur Karoo Kaarte gefokus op stories wat met ervarings van kinderjare verband hou, asook met verlore openbare ruimtes. Aktiwiteite is regdeur die KKNK se program aangebied, met navorsing rondom hierdie temas wat in die projek na vore gekom het.

Foto verskaf: © Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport

Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, ontvang die Minister se spesiale toekenning as erkenning vir sy uitstaande bydrae tot musiek en kuns. Sy passie en verbintenis tot die KKNK inspireer mense steeds en illustreer hoe kuns positiewe verandering kan aandryf en ’n beter wêreld kan skep. Sy leierskap het die KKNK in staat gestel om ’n nuwe reis aan te pak en sy posisie as ’n Suid-Afrikaanse kultuurbaken te bevestig.

Die voorsitter van die KKNK se direksie, Crispin Sonn, ontvang die Minister se spesiale toekenning vir sy uitstaande bydrae tot musiek en kuns. Onder sy leiding het die KKNK gegroei tot ’n gekoesterde familiefees wat besoekers nie net uit alle uithoeke van Suid-Afrika nie, maar ook van regoor die wêreld lok. Sonn se leierskap en toewyding toon hoe die kunste ’n deurslaggewende rol kan speel om mense bymekaar te bring, begrip vir verskillende kulture te bevorder en ’n beter toekoms vir almal te bou.

Foto verskaf: © Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport

Rolspelers uit Oudtshoorn is met twee verdere toekennings bekroon. Oudtshoorniet Hazel Jonker het die Minister se nalatenskap-toekenning ontvang, as erkenning vir haar uitstaande bydrae tot erfenisbewaring en -bevordering in die Klein Karoo en spesifiek Oudtshoorn. Sy is die voorsitter van Heritage Oudtshoorn Erfenis en het ’n aktiewe rol gespeel in die bevordering van erfenisbewaring en -bevordering binne die Klein Karoo. Haar bydraes getuig van haar passie om die ryk geskiedenis en kultuurerfenis van Oudtshoorn en sy omgewing te bewaar.

Oudtshoorn se C.P. Nel-museum het die prys ontvang vir bydrae tot die bevordering van maatskaplike insluiting op die gebied van museums, erfenis en geografiese name.

Foto verskaf: © Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport

Marais sê hulle is verheug om die gehalte en diversiteit van die kunste in die Wes-Kaap te kan vier. “Die toekennings vertoon die wye reeks van kulturele aktiwiteite van die Wes-Kaap, wat ons met baie entoesiasme ondersteun. Vanaand vereer ons diegene wat ’n blywende nalatenskap vestig en ons gehelp het om al hierdie belangrik kuns- en kultuuraktiwiteite in ons provinsie te laat toeneem,” sê sy.

Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart 2024 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek www.kknk.co.za of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Meer oor die Minister se spesiale toekennings

  • Die Minister se spesiale toekennings erken uitstaande bydraes in hul onderskeie velde in die Kuns- en Kultuursektor.
  • Die Minister se nalatenskap-toekennings erken legendes wat hul doelwitte in die Kuns- en Kultuursektor oortref en ’n betekenisvolle impak op hul gemeenskappe, die provinsie, die land en die wêreld gemaak het.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top