
Die Suidoosterfees en die Nasionale Jeugmusiekstigting bied op 28 April om 20:00 ’n spesiale musiekkonsert by Kunstekaap aan. Die Moederstad se Filharmoniese Jeugorkes onder leiding van Brandon Phillips is in Kaapstad klassiek op die verhoog saam met ervare soliste en nuwelinge. Die Suidoosterfees vind van 27 April tot 1 Mei 2022 plaas.
Ernestine Stuurman, Corneil Muller, Lynelle Kenned en Anna Davel se klassieke stemme word deur die jeugorkes begelei. Drie hoogs talentvolle musiekstudente sluit by die veterane aan om te wys wat in hulle steek. Kagiso Ramosa, Kyrah Adams en Mike Wang is deur die Nasionale Jeugmusiekstigting genooi om aan die konsert deel te neem. Die stigting spits hom toe op die bevordering van jong musiektalent deur middel van kompetisies en ander aktiwiteite. BASA (Business and Arts South Africa) stel die Suidoosterfees in staat om Talentsoektog-wenners saam met gevestigde kunstenaars op die verhoog te verwelkom.

Die professionele soliste in Kaapstad klassiek het op vele terreine groot hoogtes bereik. Lynelle Kenned het aan die Universiteit van Kaapstad se Operaskool studeer en is ’n bekende gesig op TV. Sedert 2012 het sy programme soos Pasella, Jý geld en Uit die spens aangebied. Corneil Muller, wat in Bloemfontein grootgeword het, het in die hotelwese gewerk voordat hy besluit het om voltyds aandag aan sy sangloopbaan te wy.
Ernestine Stuurman het, soos die ander soliste, verskeie optredes in die buiteland agter die blad en is ook bekend as ’n jazzsanger. Anna Davel het al groot sukses as kommersiële sanger behaal, en in 2006 het sy ’n Sama-toekenning ontvang vir beste volwasse kontemporêre album. As aktrise het sy in verskeie rolprente verskyn.
Die jongelinge op die verhoog het hulle merk gemaak as pryswenners tydens nasionale musiekkompetisies. Kyrah Adams het byvoorbeeld in 2021 ’n silwer medalje by die Nasionale Jeugmusiekkompetisie verower. Mike Wang is ’n graad 10-leerder van Hoër Seunskool Paarl en hy het al ’n string kompetisies gewen. Kagiso Ramosa het al op 12-jarige opuderdom begin uitblink en is tans ’n B.Mus-student aan die Universiteit van die Vrystaat.
Ontwikkeling is een van die Suidoosterfees se hoofprioriteite, en Kaapstad klassiek reflekteer dié strewe. Besprekings kan by Computicket gedoen word, en die volledige feesprogram is beskikbaar by www.suidoosterfees.co.za.
Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-veiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te kry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.
Die Suidoosterfees word ondersteun en moontlik gemaak deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

